Sien jouself deur God se oë (1)
2025-10-08Efesiërs 2:10 NLV
As jy enigiets aan jouself kon verander, wat sou dit wees? Die meeste van ons kan ‘n lang lys opnoem! Slegs Jesus is egter volmaak. In die woorde van Jennifer Dukes Lee: ‘Totdat jy nie van God se ongelooflike liefde oortuig is nie, sal jy aanhou om ‘n plaasvervanger vir hierdie liefde te soek. Dit maak nie saak waar jy woon of werk nie, die vyand sluip soos ‘n leeu rond en bekruip mense. Ons is in ‘n kragmeting met Satan vasgevang, wat elke geleentheid sal gebruik om in ons ore te fluister: ‘Wat dink mense van jou?’ Hy sal vir jou vertel dat jy te vet, te onversorg, te dom en te arm is. Hy sal alles in sy vermoë doen om jou aandag op die dinge van hierdie wêreld, in plaas van op Christus, te vestig.’
Moenie sy leuens glo nie. Jesus het gesê: ‘Die duiwel… praat nie die waarheid nie, want hy weet niks van die waarheid nie. Die duiwel lieg altyd, hy kan niks anders doen nie…’ (Johannes 8:44 ABA).
Een Christelike skrywer som dit as volg op: ‘Ontevredenheid is een van die groot reuse wat ons moet oorwin as ons ooit die lewe wil geniet. Ons het dalk nie alles wat ons graag wil hê nie, maar ons het beslis meer as ander mense. Maak nie saak hoe jy dink jy lyk nie, daar is iemand wat graag soos jy wil lyk. Maak nie saak hoe oud jy is nie, daar is iemand wat graag so jonk soos jy wil wees. Wees lief vir jouself en wees lief vir jou lewe; dis die enigste een wat jy het.’
Die waarheid is dat jy die enigste een van jou is wat God gemaak het – daarna het Hy die gietvorm gebreek!
Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; Joh 2:12-25; Ps 89:1-14; Spr 23:10-14