Genade – wanneer jy dit die nodigste het
2025-10-10Hebreërs 4:16 NLV
Corrie ten Boom en haar familie het gedurende die Tweede Wêreldoorlog baie Jode weggesteek, sodat die Nazis hulle nie kon opspoor nie. Uiteindelik is hulle uitgevang en na ‘n konsentrasiekamp gestuur waar sy allerhande gruweldade, insluitend die dood van haar pa en suster, ervaar het. Sy het egter nooit bitter geword nie. Sy het selfs die man wat haar familie vermoor het, vergewe.
Iemand het haar gevra hoe sy daardie donker dae kon verduur en steeds liefdevol, vergewensgesind en vriendelik kon bly. Sy het geantwoord met ‘n verhaal van hoe haar pa haar, toe sy ‘n klein dogtertjie was, op treinritte regoor Europa geneem het. Hy sou altyd ‘n paar weke voor die tyd hulle kaartjies koop, maar nooit die kaartjie vir haar gee voordat dit tyd was om te vertrek nie. Hy het dit gedoen omdat sy ‘n klein dogtertjie was en hy nie wou hê dat sy die kaartjie moet verloor of by die huis los nie. Wanneer haar pa egter die ligte van die trein die stasie sien binnekom het, het hy haar die kaartjie gegee en hulle het saam op die trein geklim.
Corrie het gesê: ‘Die rede waarom jy nie kan begryp hoe ek die persoon wat my gesin vermoor het kon vergewe nie, hoe ek nie met bitterheid vervul kon word nie, is omdat net soos my pa en ons treinkaartjies, God ons nie die genade gee wat ons nodig het totdat ons op die punt is om aan boord te gaan nie. As jy egter ooit deur iets gaan soos ek deurgemaak het, kan ek jou verseker dat God se genade daar sal wees om jou te help om deur die donker valleie met jou kop steeds omhoog en jou hart gevul met liefde, te kom.’
Sielskos: 2 Sam 17:14-19:43; Joh 3:22-36; Ps 89:38-52; Spr 23:19-21