Sien jouself deur God se oë (2)

2025-10-09
Kolossense 2:10 KAB23

Een Christelike skrywer sê: ‘Wat sal gebeur as jy oral waar jy gaan, dieselfde persoon, waarvan jy nie hou nie, raakloop? Jy woon ‘n partytjie by en moet haar sêgoed en aanhoudende opinies verduur. Jy gaan kerk toe en sy sit reg langs jou. Sy is by die etenstafel – sy is oral! Dit klink nogal aaklig, maar dit is die presiese situasie waarin jy jouself bevind as jy nie van jouself hou nie, want jy is oral waar jy gaan. Jy kan nie vir ‘n sekonde van jouself wegkom nie, dus is dit ‘n hartseer lewe wanneer jy jou eie geselskap vrees.

Al maak dit geen sin om so te lewe nie, hou die meeste mense nie van hulself nie. Ek is verbaas oor hoe min mense werklik in vrede met hulself leef. In plaas daarvan verklaar hulle oorlog teen hulself. God wil hê dat jy jouself moet liefhê, nie op ‘n verkeerde, selfsugtige of trotse manier nie, maar op ‘n gesonde manier met die besef hoe spesiaal jy vir Hom is. As jy jouself begin sien soos God jou sien, sal jy nie net jouself liefhê nie, maar jy sal die selfvertroue en geloof hê om ‘n uitsonderlike krag ten goede in die wêreld te wees.’

Iemand het een keer gesê net omdat niemand besef watter goudmyn jy is nie, beteken dit nie dat jy minder helder skyn of dit jou keer om jou beste te wees nie. Net omdat niemand tans jou lewe deel nie, beteken dit nie dat daardie dag nie gaan aanbreek nie. Hou aan skyn, hou aan hardloop, hou aan hoop, hou aan bid… hou aan om presies te wees wie jy is.

Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Joh 3:1-21; Ps 89:15-37; Spr 23:15-18