In pas met die Gees

2025-10-03
Galasiërs 5:25 AFR20

Die Bybel sê: ‘Aangesien ons deur die Gees leef, laat ons ook met die Gees in pas bly.’ Probleme ontstaan wanneer jy geestelike dinge met jou vleeslike gedagtes probeer verstaan. Paulus sê: ‘…die Gees deurvors alle dinge, ook God se diepste geheime (1 Korintiërs 2:10 NLV). Die Gees openbaar dit op verskillende maniere aan ons.

Die skrywer Jon Walker sê: “Om een met Jesus te word, beteken om geestelike onderskeidingsvermoë te ontwikkel en die soms oënskynlik onlogiese dinge wat van die Gees kom, te aanvaar. God praat met ons op verskeie maniere. Hier is drie maniere waarop ons bedag moet wees:

1) Stoptekens. Dit is rooi vlae wat jou waarsku om nie iewers heen te gaan nie. ‘n Hond wat ek eens besit het, het my gehelp om dit te verstaan. Hy was gewoond daaraan om aan ‘n leiband te wees, maar as ek hom na ‘n buurman se veld geneem het om sonder die leiband rond te hardloop, het ek eenvoudig nee gesê as hy op pad was na waar hy nie mag gaan nie. Die hond het niks verkeerd gedoen nie en my waarskuwing was nie ‘n teregwysing nie; dit was ‘n waarskuwing vir sy eie beskerming.

2) Aansporing. ‘n Stamp in die ribbe van die Gees af, kan jou op dreigende gevaar attent maak. Eendag het ‘n vriend van my ‘n groen verkeerslig genader toe hy sterk aangespoor voel om te rem. Hy het dit gedoen – net voor ‘n trok oor die rooi lig gejaag het! As dit nie vir sy onmiddellike gehoorsaamheid was nie, sou hy ‘n noodlottige ongeluk gemaak het.

(3) Stilmaak. Wanneer ons met ander gesels, waarsku God ons dikwels wanneer ons te naby aan ‘n sondige onderwerp, ‘n onregverdige opmerking of skinderpraatjies beweeg. Wanneer God jou stilmaak – moet jy ophou praat!”

Sielskos: 2 Sam 1:1-3:21; Joh 1:29-42; Ps 131; Spr 23:1-3