2018-11-06
1 Petrus 2:20 NLV
Baie van die mense wat ons in die Skrif bewonder, is sleg behandel. En God het toegelaat dat dit gebeur. Dink aan Daniël wat vir die leeus gegooi is en Josef wat in die tronk beland het. Hulle het niks gedoen om dit te verdien nie. Die Bybel sê: ‘…Om egter die houe te vat wanneer julle goeddoen, dit is iets besonders voor God. Hierdie soort swaarkry maak juis deel uit van dit waartoe God julle geroep het. Christus, wat vir julle gely het, is julle voorbeeld. Trap in sý spore’ (verse 20-21 NLV). Let op dat jy ‘geroep’ is om moeilikheid te oorkom. Daar is ‘n doel in die pyn. Niks kan jou aanraak as dit nie eers deur jou liefdevolle hemelse Vader se hande gegaan het nie. Hy het dit alles vooruit geweet en alles wat jy nou deurmaak, berei jou voor om Hom meer effektief te dien. Paulus het gesê, ‘Toe ek die eerste keer in die hof my saak moes gaan verdedig, was daar niemand by my nie. Almal het weggehardloop en my net so gelos… Maar die Here het my nie alleen gelos nie. Hy was by my en het my krag gegee. Daarom kon ek die boodskap oor Jesus vir almal vertel…’ (2 Timoteus 4:16-17 DB). Paulus het dit nie as iets gesien wat hy eenvoudig moes verduur nie, hy het dit as vooruitgang gesien! Wees dus bemoedig; jy is besig om in genade en kennis van die Here te groei (sien 2 Petrus 3:18). Jy is in die voorbereidingsfase. Of God jou nou uit die situasie of deur die situasie neem, vertrou Hom. Hy werk ten goede van jou en tot sy glorie.
Sielskos: Jes 45-48; Joh 8:21-30; Ps 86; Spr 28:21-24
2018-11-05
Genesis 41:42 NLV
Die derde kleed wat Josef gedra het was: Die kleed van bestemming. Omdat Josef vir God in die moeilikste van omstandighede geëer het, het hy op die troon van Egipte geëindig, waar hy die kleed van heerskappy gedra het en sy lotsbestemming vervul het. Die Psalmdigter sê dat God ‘…’n man voor hulle uit gestuur [het]. Dit is Josef, wat as ‘n slaaf verkoop is. Hulle het Josef se voete met swaar boeie vasgemaak en hom agter ysterdeure toegesluit. Sy swaarkry het aangehou totdat God se plan waar geword het, totdat die Here besluit het hy is net die regte man vir die werk! Josef het die toets geslaag. Toe het die koning vir Josef uit die tronk laat haal. Die magtige heerser oor baie nasies het hom vrygelaat en hom aangestel as die hoof oor sy hele paleis. Josef het beheer gehad oor al sy besittings’ (Psalm 105:17-21 DB). Die toetse en versoekings wat jy voor te staan kom, gaan oor jou toekoms. Hulle berei jou voor vir jou lotsbestemming! Jou hele lewe lank oefen jy vir een seisoen, vir een opdrag. Hoe groter die opdrag is, hoe groter sal die aanval teen jou wees. Vyf keer in Genesis hoofstuk 39 sê die Bybel, ‘Die Here was met Josef.’ Dit het hom egter nie vrygeskeld van verraad deur sy familie; of herhaalde versoeking aan die hande van sy baas se vrou; of laster en valse gevangenisskap, of teleurstelling in die tronk, nie. Toe hy daarop terugkyk, het Josef egter besef dat hierdie ervarings hom voorberei het om op die troon te sit. Hou dus uit, hou aan om op God te vertrou en jy sal ‘n lied van oorwinning sing.
Sielskos: Jes 42-44; Joh 8:1-20; Ps 96; Spr 28:17-20
2018-11-04
Genesis 39:12 NLV
Die tweede kleed wat Josef gedra het was: Die kleed van versoeking. Die Bybel sê, ‘Eendag was hy besig om sy werk te doen… Sy kom toe en gryp hom aan sy klere en eis van hom: ‘Slaap by my!’ Josef het hom losgeskeur, maar in die proses die kledingstuk waaraan sy hom vasgehou het, agtergelaat en uit die huis gehardloop’ (verse 11-12 NLV). Josef was jonk, aantreklik, eensaam, ver van die huis af en het herhaalde versoekings aan die hand van sy baas se vrou beleef. Tog het hy haar toenadering geweier en gesê, ‘…Hoe kan ek ooit so ‘n slegte ding doen? Dit sal ‘n baie groot sonde voor God wees’ (vers 9 NLV). Sy eerste bekommernis was nie dat hy nie daarmee kon wegkom nie, maar dat hy nie met homself sou kon saamleef sou hy instem nie. Dis nie dieselfde geval met Dawid nie. Na sy affair met Batseba, het hy hierdie woorde in sy berouvolle gebed van Psalm 51 gebid: ‘Teen U, U alleen, het ek gesondig; ek het gedoen wat vir U verkeerd is…’ (vers 6 NLV). Teen wie sondig jy? God. Wie observeer wat jy doen? God: die een wat die omvang van sy liefde vir jou by Golgota gedemonstreer het. Het God vir Dawid vergewe? Ja, en Hy sal jou ook vergewe. Dawid se verhaal dien egter as bewys dat ons soms met die nagevolge van ons dade moet saamlewe en dat hulle nie net ons nie, maar ook die mense wat na ons vir leiding kyk, kan verwoes. Paulus, die grootste apostel, het hierdie waarheid erken: ‘Ek brei my liggaam en dissiplineer dit om werklik bruikbaar te wees. Ek wil tog nie, terwyl ek vir ander gepreek het, self deur God gediskwalifiseer word nie’ (1 Korintiërs 9:27 NLV).
Sielskos: Hand 9:1-19; 2 Kor 11:21-33; 2 Kor 12:7-10; Hand 16:16-40
2018-11-03
Genesis 37:3 NLV
Kom ons kyk na die drie verskillende kledingstukke wat Josef gedra het, soos dit jou lewe as Christen verteenwoordig. Eerstens, die kleed van verlossing. Let op, dit was ‘n ‘geskenk’ van sy pa; Josef het nooit ‘n sent daarvoor betaal, of ‘n enkele steek daarvan gestik; of ‘n sentimeter materiaal daarvoor verskaf nie. Dis die verhaal van ons verlossing, nie waar nie? Die Bybel sê, ‘Dit is mos dié onverdiende goedheid wat julle gered het toe julle tot geloof gekom het. En julle geloof kom nie uit julleself nie, maar is ‘n gawe van God. Dit is nie die gevolg van julle dade nie. Niemand kan daaroor grootpraat nie’ (Efesiërs 2:8-9 NV). Gemotiveer deur jaloesie en wrokkigheid, het Josef se broers hom in ‘n put gegooi en sy kleed in ‘n bok se bloed gedoop om hulle pa te oortuig dat hy deur ‘n wilde dier opgeëet is. Kry jy die prentjie? ‘…die bloed van Jesus, sy Seun, maak ons skoon van alle sonde’ (1 Johannes 1:7 NLV). In die Ou Testament se tyd, wanneer iemand gesondig het, het hulle ‘n offerlam na die altaar toe gebring waar die priester die lam se bloed as betaling van hulle sondes geoffer het. Die priester het egter nie die persoon ondersoek nie, hy het die lam ondersoek. As die lam ‘waardig’ was, is die persoon aanvaar en is daar vir hulle sondes boete gedoen. Die oomblik wat jy dus jou sonde bely en bid, ‘Vader, ek kom na U in die naam van Jesus, die Lam van God,’ is jy heeltemal vergewe en aanvaarbaar. ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:16 NLV).
Sielskos: Jes 38-41; Joh 7:45-53; Ps 9; Spr 28:13-16
2018-11-02
Efesiërs 1:9 NLV
Wat ‘n vreugde is dit nie wanneer die wil van God nie meer ‘n geheim is nie, omdat Hy dit aan ons bekend gemaak het! Skielik is jou uitkyk anders, jou houding verander en vrees kan nie meer speletjies met jou gedagtes speel nie. Nou weet jy – kennis is mag! Die Bybel sê, ‘…Dié wat in hulle God glo, sal… sterk staan en doen wat reg is’ (Daniël 11:32 NLV). Daar is tye wat jy dinge in jou gees weet wat jy nie in jou kop kan uitpluis nie. Dit kan veroorsaak dat jy verkeerd verstaan word. Jy kan die kennis van ‘n deurbraak of ‘n seëning lank voor dit gebeur, in jou gees saamdra. Die Bybel sê, ‘maar ons ken hierdie geheim omdat God dit deur sy Gees aan ons bekend gemaak het…’ (1 Korintiërs 2:10 NLV). Wanneer God wysheid met jou deel, plaas dit jou in ‘n posisie om suksesvol te wees. Wat onderskei die president van die bank van die skoonmaker? Dit wat hy of sy weet! Hulle mag dalk gelykes in alle ander sin van die woord wees, maar een het ‘n prys betaal om dinge te leer wat hom of haar in ‘n ander posisie geplaas het, wat ander belonings meebring. God kan veroorsaak dat jy iets weet wat die koers van jou lewe verander. Hy kan jou iets in die nag wys wat jou gevoel in die oggend kan beïnvloed. In sy teenwoordigheid ontvang jy insigte wat jou ‘n doelwit, hoop, waardigheid, rigting en die krag om op te staan en te baklei vir dit wat Hy jou in sy Woord beloof het, gee. Kom dus vandag in sy teenwoordigheid – en bly daar totdat Hy sy wil in die saak aan jou geopenbaar het.
Sielskos: Jes 34-37; Joh 7:25-44; Ps 104:24-35; Spr 28:9-12
2018-11-01
Psalm 25:1 NLV
Wanneer jy hulp nodig het, blaai na Psalm 25 en let op wat Dawid gedoen het. 1) Hy het geweet waarheen om te gaan. ‘Ek rig my tot U, Here.’ Onlangs het ‘n leser ons gevra om te bid vir ‘n familielid wat pas met fase vier kanker gediagnoseer is. Hoe vinnig kan ons lewens nie verander nie! Waarheen kan ons in sulke oomblikke draai? Na God toe. Hy word deur baie name in die Skrif geken waarvan een Jehovah-Rapha is – die Here wat genees. Hoe wonderlik is dit nie! Sy Woord sê, ‘Hy…genees al jou siektes’ (Psalm 103:3 NLV). By God is geen siekte ongeneeslik nie, wat beteken dat jy vandag in vertroue na Hom toe kan gaan. 2) Hy het geweet Wie om te vertrou. ‘Ek vertrou op U, my God!..’ (Psalm 25:2 NLV). ‘n Man of vrou sonder God moet self die rol van God in sy of haar lewe vervul. Dit mag dalk doenbaar in die goeie tye wees, maar wat van kwaadaardige selle, foutiewe hartkloppe, afdankings by die werk of finansiële probleme? Na wie toe draai jy dan? ‘Ek rig my tot U, Here.’ 3) Hy het geweet hoe om te bid: ‘Wys my, leer my, lei my.’ ‘Here, wys my die weg… leer my u paaie. Lei my deur u waarheid… want U, o God is my redder…’ (verse 4-5 NLV). Die teoloog, Richard Foster, sê, ‘Om te bid is om te verander. Dit is die sentrale manier wat God gebruik om ons te transformeer. As ons nie gewillig is om te verander nie, sal ons gebed gou prysgee.’ Het jy daaroor gebid? Indien nie, gaan dadelik in God se teenwoordigheid in. Dis waar jy die hulp sal kry wat jy nodig het.
Sielskos: Jes 30-33; Joh 7:14-24; Ps 104:1-23; Spr 28:5-8