Wanneer dinge verkeerd gaan

2018-11-12
Genesis 40:15 NLV

Josef het ‘n voorbeeldige lewe gelei. Hy het ‘n fortuin vir sy werkgewer gemaak, die seksuele toenadering van sy baas se vrou weerstaan en getrou aan God gebly. Wat was egter sy beloning? ‘n Gevangenisstraf sonder enige vooruitsig van parool. Soms lei die regte pad jou oor die afgrond, omdat daar boosheid in die wêreld is. Solank as wat Satan soos ‘n brullende leeu rondloop (sien 1 Petrus 5:8), sal hy chaos onder God se kinders saai. Hy sal predikers soos Paulus in tronke laat opsluit. Hy sal pastore soos Johannes na verafgeleë eilande verban. Hy sal Jesus se vriende, soos Lasarus, met siektes tref. Sy strategieë loop egter altyd verkeerd. Paulus het die sendingsbriewe geskryf. Die verbanne Johannes het die hemel gesien. Die grafkelder van Lasarus het ‘n verhoog geword waarop Christus een van sy grootste wonderwerke kon uitvoer. Die tronk waarin hulle Josef gegooi het, het ‘n trappie na die paleis geword waarvoor God hom bestem het. Toe Josef terugkyk, kon hy sê, ‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is. Hy het my gebring tot in hierdie hoë pos wat ek beklee sodat ek die lewens van baie mense kon red’ (Genesis 50:20 NLV). Kyk uit vir God se doel in die moeilike tye in jou lewe en jy sal begin om hulle as trappe na seën te sien. ‘Die Here… sal nie bedaar nie totdat Hy gedoen en bereik het wat Hy beplan het…’ (Jeremia 30:24 NLV). God sal die omstandighede waarin jy jou vandag bevind, gebruik om jou te versterk, jou nader aan Homself te bring en sy wil in jou lewe te vervul.

Sielskos: Rom 1:1-3:20; Joh 9:24-41; Ps 99; Spr 29:11-14

Wees heeltemal verbind

2018-11-11
Filippense 3:8 NLV

Al ooit van ‘een-rigting sendelinge’ gehoor? Hulle het ‘n een-rigting kaartjie na die sendingsveld gekoop en in plaas daarvan om ‘n tas te pak, het hulle hulle besittings in ‘n kis gepak, met die wete dat hulle nooit weer huiswaarts sou keer nie. A.W. Milne was een van hulle. Hy het na die Nuwe Hebrides in die Stille Oseaan vertrek, met die wete dat jagters elke sendeling voor hom dood gemartel het. Hy het egter nie vir sy lewe gevrees nie, omdat hy reeds vir homself dood was. Vir vyf-en-dertig jaar het hy tussen hulle geleef en hulle bedien. Toe hy sterf, het die stam hom in die middel van hulle dorp begrawe en die volgende woorde op sy grafsteen geskryf: Toe hy gekom het, was daar geen lig nie. Nêrens in die Skrif staan daar dat God ons na veilige plekke toe sal stuur om maklike dinge te doen nie. Toe Jesus voor die kruis te staan gekom het, het hy die fundamentele gebed van verbintenis gebid: ‘…Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geld!’ (Lukas 22:42 NLV). Paulus het geskryf: ‘Alhoewel ek hierdie menslike dinge eers as ‘n wins beskou het, beskou ek dit ter wille van Christus nou as ‘n verlies. Ja, om Christus Jesus, my Here, te ken is só wonderlik dat ek alle ander dinge as ‘n verlies beskou… Ek beskou dit as gemors sodat ek Christus as wins kan verkry en een met Hom kan wees… Op hierdie manier kan ek Christus ken en die krag beleef wat Hom laat opstaan het. Deur saam met Hom te ly kry ek deel aan sy dood’ (Filippense 3:7-10 NLV). Dis wanneer jy gewillig is om saam met Hom te ly, wat jy die krag van sy opstanding kan ervaar. Wees dus heeltemal verbind.

Sielskos: Job 1; Job 2:7-10; Job 40:1-5; Job 42:7-17

Jou vandag is verbind aan jou môre

2018-11-10
Prediker 9:10 NLV

Wat jy op die oomblik doen mag dalk onbelangrik lyk, maar dit kan jou vir iets wat God deur jou in die toekoms wil doen, voorberei. Die Bybel sê, ‘Dit is mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou, en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!’ (Filippense 2:13 NLV). Toe Daniel Webster as prokureur begin praktiseer het, het hy ‘n saak teen ‘n fooi van slegs twintig dollar aanvaar. Die saak het egter baie ingewikkeld uitgedraai en in voorbereiding daarvan moes hy na Boston toe reis, wat hom meer as twintig dollar uit die sak gejaag het. Hy was egter vasbeslote om sy werk deeglik te doen en die saak te wen, wat hy toe ook reggekry het. Jare later het ‘n besigheid hom op kort kennisgewing genader en hom gevra om ‘n saak te aanvaar waarvoor hulle bereid was om hom die grootste fooi wat hy nog ooit ontvang het, te betaal. Toe hy die saak bestudeer, het hy agtergekom dat dit amper identies is aan die saak wat hy twintig jaar tevore nagevors en gewen het; en waarvoor hy net twintig dollar ontvang het. Hy het die saak aanvaar en net soos tevore was die uitspraak ten gunste van sy kliënt. Wanneer jy slegs dit waarvoor jy lus is of dit wat jy geniet, doen, kan jy verhoudings miskyk en ervarings onderwaardeer wat noodsaaklik vir jou toekoms is. Jou bestemming in die lewe bestaan uit oomblikke, ervarings en ontmoetings wat op die oog af betekenloos lyk. Jou vandag is verbind aan jou môre, put dus die meeste uit elke geleentheid en verhouding wat oor jou pad kom. ‘Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen…’

Sielskos: Jes 63-66; Joh 9:13-23; Ps 115; Spr 29:7-10

Draai na God se Woord toe!

2018-11-09
Psalm 89:35 NLV

Mediese kundiges sê dat elkeen van ons depressie in een of ander vorm gedurende ons leeftyd sal ervaar. ‘n Groot gedeelte van die bevolking word elke dag in ‘n wolk van somberheid wakker. Jy mag dalk een van hulle wees. Daar is ‘n gewilde kinderboek genaamd Alexander and the Terrible, Horrible, No Good, Very Bad Day. Alexander raak aan die slaap met kougom in sy mond en word wakker met die kougom in sy hare. Sy boks graanvlokkies het nie ‘n speelding in nie en hy kry dit nie reg om, ten spyte van sy beste pogings, sy onderwyser te beïndruk nie. Hy besluit etlike kere om na Australië toe te verhuis. Ongelukkig werk geografiese kure nie. Jy los nie die probleem op nie; jy verskuif dit net. Wat kan jy dan doen? Draai na die een bron van krag, hoop en bemoediging wat nooit faal nie – God se lewende Woord. God sê, ‘Ek sal my verbond nie verbreek nie, en wat Ek gesê het, nie verander nie.’ As jy vandag mismoedig voel, is hier ‘n paar Skrifgedeeltes waaraan jy kan vashou: ‘Met ‘n woord het Hy hulle genees, en hulle van die dood weggeruk’ (Psalm 107:20 NLV). ‘Tog is ek daarvan oortuig: Die Here se goedheid sal ek sien hier in die land van die lewendes’ (Psalm 27:13 NLV). ‘In tye van nood sal ek U aanroep, en U sal my antwoord’ (Psalm 86:7 NLV). ‘Die Here is nie te swak om julle te red nie. Hy is nie te doof om julle te hoor nie’ (Jesaja 59:1 NLV). ‘U sal my in eer herstel en weereens my vertrooster wees’ (Psalm 71:21 NLV).

Sielskos: Jes 58-62; Joh 9:1-12; Ps 15; Spr 29:4-6

Jy moet jou lewensdoel ken

2018-11-08
Efesiërs 2:10 NLV

Die Bybel sê dit is God ‘…wat ons nuut gemaak het omdat ons Christus Jesus s’n is. Hy het dit gedoen sodat ons reg en goed kan leef soos Hy lankal besluit het ons moet leef’ (vers 10 DB). Voor jy op ‘n beroep besluit of besluit waaraan jy jou lewe wil wy, vra God vir leiding. As jy dit nie doen nie, sal jy waarskynlik jou lewe op die verkeerde dinge spandeer. Selfs as jy goed betaal word, sal jy leegheid en ‘n gebrek aan vervulling ervaar. Die Oostenrykse psigiater, Victor Frankl, wat die Nazi doodskampe oorleef het, het gesê: ‘Elkeen het sy eie spesifieke roeping of missie in die lewe, ‘n konkrete taak wat vervulling vereis. Hy kan nie met iemand anders vervang word nie, elkeen se taak is so uniek soos sy spesifieke geleentheid.’ God het jou vir ‘n spesifieke doel geskep. Jou verantwoordelikheid (en jou vreugde), is om dit te identifiseer. Hier is vier vrae wat jy jouself kan afvra om jou lewensdoel te identifiseer: 1) Waarna is ek op soek? Almal van ons het ‘n sterk begeerte in ons hart; iets wat tot ons diepste gedagtes, verlange en gevoelens spreek; iets wat ons siel aan die brand steek. 2) Hoekom is ek geskep? Dink aan jou unieke mengsel vaardighede, die verhoudings en hulpbronne wat aan jou beskikbaar is, jou persoonlike geskiedenis en die geleenthede rondom jou. Dit is alles dinge wat jou in die regte rigting kan lei. 3) Glo ek in my potensiaal? Een leierskapskundige sê, ‘Niemand kan deurlopend op ‘n manier optree wat strydig is met die manier wat hy homself sien nie.’ 4) Wanneer moet ek begin? Die antwoord op daardie vraag is ‘Nou dadelik!’

Sielskos: Jes 53-57; Joh 8:42-59; Ps 123; Spr 29:1-3

Vry van godsdienstige bande

2018-11-07
Galasiërs 5:1 NLV

Sommige van ons vind dit moeilik om vir onsself toestemming te gee om sekere dinge te dink, te sê of te geniet omdat ons bang is dat ander mense dit nie sal goedkeur nie. Ons lewe volgens hulle oortuigings, in plaas van ons eie. Daar is geen bande soos godsdienstige bande nie! ‘n Christen outeur skryf: “Die kerk waarin ek grootgeword het, het ons geleer dat ons nie fliek toe kon gaan of na ‘n rugbywedstryd kon gaan kyk (met die wêreld meng) nie en vrouens kon nie grimering dra nie. Ons standaard antwoord op die meeste van hierdie kwessies was, ‘Ons is anders geleer!'” Dis hoe ‘n gewete wat in die skool van tradisie grootgemaak is, redeneer. Paulus was hard op die Galasiërs wat ander mense se lewens probeer polisieer het en hulle forseer het om volgens Joodse tradisies in plaas van die Evangelie van genade te lewe. Hy het geskryf, ‘…Maak seker dat julle vry bly, en moet nie weer onder ‘n slawejuk vasgebind word nie’ (vers 1 NLV). Jy moet oefen om minder bekommerd te wees oor wat mense dink en meer bekommerd wees oor wat God dink. Wat sommige godsdienstige mense eintlik ontstel, is dat jy sekere dinge kan doen wat hulle nie kan doen nie – omdat hulle hulself nie toestemming gee om hulle vryheid in Christus te geniet nie (sien Galasiërs 2:4). Ons verskoon egter nie hiermee sonde of onskriftuurlike optredes nie. As jy egter nie beweeg wanneer die lig groen is nie, sal jy jou hele lewe vir ‘die regte oomblik,’ of “‘n tyd wanneer die meeste mense sal verstaan,’ wag voor jy vorentoe beweeg. Jy sal dan met spyt op jou lewe terugkyk. Moenie dat dit met jou gebeur nie. ‘Christus het ons bevry… Maak seker dat julle vry bly…”

Sielskos: Jes 49-52; Joh 8:31-41; Ps 30; Spr 28:25-28