2018-11-18
1 Samuel 17:40 NLV
In Dawid se tyd het hulle deur middel van ‘verteenwoordiging’ geveg. Een man sou die nasie as ‘n geheel beveg en die land van die soldaat wat verloor, sou onderdanig aan die land van die wenner word. Dus was die geveg tussen Dawid en Goliat inderwaarheid ‘n geveg tussen Israel en die Filistyne. Ons is bekend met Dawid se oorwinning oor die reus met geloof, ‘n klippie en ‘n slingervel. Tog sê die Skrif vir ons dat hy nie net een klip opgetel het nie, maar ‘…vyf gladde klippies…’ Hoekom? Dit was nie ‘n gebrek aan geloof nie – hy het geweet dat Goliat vier broers het. Let op: 1) Oorwinnaars van reuse besef dat hulle reus groter kwessies verteenwoordig. ‘n Reus staan nooit alleen nie, agter hom lê sy redes. Verslawing, mishandeling en woede word almal deur ander kwessies voortgedryf en ondersteun. Iewers agter die ooglopende reus is sy ondersteunende broers – pyn, skuldgevoelens, verlies en skaamte. Dawid was voorbereid met vyf klippies – een vir Goliat en een vir elk van sy vier broers. Wat lê agter jou reus? Met God se hulp kan jy beide jou reus en sy ondersteuningspan oorwin. 2) Oorwinnaars van reuse word nie deur die uitdagings oorweldig nie. Moet nooit toelaat dat jou vrese jou geloof oorweldig nie. Die Bybel sê dat ‘…God het ons nie ‘n gees van skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7 NLV). Vrees sal op die mislukkings in die verlede voed, maar jy kan nie toelaat dat gister se vrees vandag se geloof oorweldig nie. Neem dus vandag jou mislukkings; maak ‘n lys daarvan op ‘n stuk papier en skryf in groot letters bo-aan die bladsy: ‘Dinge wat ek nie weer hoef te probeer nie! Ek het die les geleer.’
Sielskos: Dan 1:3-21; Dan 3:7-30; Dan 5:10-12; Dan 9:1-19
2018-11-17
Lukas 16:10 NLV
Let op: 1) Oorwinnaars van reuse is nie oorwinnaars van die begin af nie! Dawid was ‘n sagmoedige musikant, ‘n nederige skaapwagter en is oor die hoof gesien. Getrouheid was sy voordeel – getrouheid in sy talent, getrouheid met sy vader se skape, getrouheid aan God. Deur ‘n meester oor die klein dinge te word, het hy ‘n meester oor die groot dinge geword. Getrouheid is ‘n algemene eienskap van ongewone geestelike presteerders. Matteus het as ‘n tollenaar begin; Petrus was ‘n visserman; Elisa was ‘n boer en Jesus was ‘n meubelmaker. Het jy al ooit daaraan gedink dat Jesus meer jare as ‘n meubelmaker as ‘n prediker spandeer het? Hy was in die klein dinge getrou. God het nog nooit ‘n onaktiewe of onproduktiewe persoon geroep nie. Elke kandidaat het met iets begin voor hulle as ‘n oorwinnaar van reuse geroep is. 2) Oorwinnaars van reuse weet dat die beloning altyd groter as die risiko is. Die lewe beloon risiko’s en aksie, maar Satan sal woorde van vrees en angs in jou oor fluister om die beloning te minimaliseer en die risiko te vergroot. Tog bly die waarheid staan dat God mense wat voortdurend soek, beloon (sien Hebreërs 11:6). Jy moet glo dat die belofte groter as die probleem is, dat die doel groter as die teenstand is en dat God groter as jou reus is. Die geloof dat God groter is, is die kern van ‘n geloof wat in die aangesig van vrees aanhou. Vrees is Satan se wapen om jou te verlam; geloof is God se wapen om jou te mobiliseer. Maak dus op God staat, daag die reus uit en word deel van God se geledere van oorwinnaars van reuse.
Sielskos: Rom 15-16; Joh 11:17-27; Ps 8; Spr 30:5-6
2018-11-16
1 Samuel 17:50 NLV
In 1 Samuel 17 lees ons die verhaal van Dawid en Goliat. Die skaapwagter wat die krygsman doodmaak. Die seun wat die reus oorwin. God gee aan Dawid oorwinning oor sy reus, om ons te inspireer om ons eie reuse te konfronteer. Reuse kan tasbaar of nie-tasbaar wees: dis die dinge wat ons nie kan oorkom nie, omdat ons deur vrees verlei word om te dink dat ons dit nie kan oorwin nie. Dit kan onhaalbare doelwitte, onklaar projekte of onvervulde drome wees – die dinge wat ons in middelmatigheid vasgevang hou. ‘n Reus is enigiets of enigiemand wat jou daarvan weerhou om te wees of te doen wat God jou wil laat wees of doen. Reuse kan intern of ekstern, regtig of in jou verbeelding, fisies of emosioneel wees. ‘n Reus kan ‘n houding, ‘n gewoonte, ‘n oortuiging, ‘n denkwyse of ‘n herinnering wees. Dit kan ‘n persoon wees wat tussen jou en God staan; tussen wie jy is en wie God wil hê jy moet wees; tussen waar jy is en waar God wil hê jy moet gaan; tussen dit wat jy glo en dit wat God wil hê jy moet glo. Reuse het een doel – om jou vooruitgang te keer en jou daarvan te weerhou om jou lewensdoel te bereik. Oorwinnaars van reuse sien elke geveg egter as ‘n toets waar die uitdaging is om die negatiewe in ‘n positiewe te verander. Konflik beteken vir hulle groei en om ‘n vyand te verslaan, is die voorvereiste tot bevordering. Reuse kan ons weggesteekte sterkpunte openbaar, ‘n maatstok vir ons groei wees en ons vertroue in God voed. Oorwinnaars van reuse sien geleenthede in teenstand, potensiaal in probleme en oorwinning in die skaduwee van nederlae. Met God se hulp kan jy ‘n oorwinnaar van reuse word.
Sielskos: Rom 12-14; John 11:1-16; Ps 105:1-15; Spr 30:1-4
2018-11-15
Psalm 18:40 NLV
Elkeen van ons is in ‘n stryd gewikkel, maar nie elkeen van ons is besig om te wen nie. Wenners kom in verskillende gedaantes voor, maar hulle het almal een ding in gemeen: geloof wat nie ophou nie! Niemand het meer struikelblokke in die lewe as Dawid gehad nie, maar hy het die belangrikheid om die regte perspektief te behou, verstaan. Hy het gesê, ‘U het my met krag toegerus vir die stryd…’ Die genade wat jy van God ontvang, sal altyd gelykstaande wees aan die uitdagings waar voor jy te staan kom. Altyd! Het jy geweet dat Lord Nelson, Engeland se beroemde held van die see, sy hele lewe lank aan seesiekheid gely het? Tog het hierdie man wat Napoleon se vloot gesink het, geweier dat sy persoonlike stryd hom van sy lotsbestemming beroof. Hy het nie net geleer om met sy swakheid saam te leef nie, maar om dit elke dag te oorwin. Almal van ons het slagvelde, maar met God se krag kan ons dit oorwin. ‘U het my met krag toegerus vir die stryd…’ Daar is ‘n verhaal van ‘n seuntjie wat sy regterhand in ‘n ongeluk verloor het. Toe die dokter hom oor sy gebrek uitvra, het hy geantwoord, ‘Ek het nie ‘n gebrek nie; ek het net nie ‘n regterhand nie!’ Later het die dokter uitgevind dat hierdie seuntjie voortgegaan het om een van die spelers te word wat die meeste doele in sy hoërskool se basketbalspan aangeteken het. Sy filosofie in die lewe was: Dit gaan nie oor wat jy verloor het nie, maar wat jy oor het wat tel! Dis ‘n wenhouding; en met God se hulp kan jy dit ook ontwikkel.
Sielskos: Rom 9:17-11:36; Joh 10:22-42; Ps 83:9-18; Spr 29:23-27
2018-11-14
Psalm 139:15 DB
Die Psalmdigter het geskryf: ‘Daar is nie ‘n been in my wat uit sy plek is nie. U ken my totaal. Alles is soos U dit wil hê. U het my gemaak. Toe ek grootgeword het, het U vir my gesorg. U beheer ook my hele lewe. Nog voordat ek mens geword het, het U my al beplan. U het my lewe toe al in u hand gehou. En U het besluit wat met my sou gebeur’ (verse 15-16 DB). God het reeds jou kind se potensiaal bepaal, dit is nou jou werk om hom of haar te help om dit te ontdek en te ontwikkel. Jy sal dit in hulle temperament, hulle gawes en hulle belangstellings sien. Weerstaan die versoeking om al jou kinders op dieselfde manier te behandel; hulle verskil van mekaar! Kaïn was ‘n boer en Abel was ‘n skaapwagter. Jakob en Esau was ‘n tweeling, maar hulle kon nie meer verskillend gewees het nie. Jy moet elkeen van jou kinders onvoorwaardelik liefhê, maar hulle individueel ontwikkel. Wie is hulle? Waarvan hou hulle? Waarin behaal hulle sukses? Hoe hanteer hulle verandering? Hoe tree hulle op wanneer hulle alleen is? Begin om te luister na dit wat jou kinders kosbaar vind, dit wat hulle vrees en dit wat hulle benodig. Maak seker dat hulle geestelik in God se Woord geanker is. Moet hulle nie op die pad forseer wat jy gewens het hulle moet stap nie. As dit beteken dat jy vir ‘n tydperk jou eie drome op ys moet sit, doen dit. Jy sal nooit daaroor spyt wees nie. Die bome wat ons vandag plant produseer die vrugte wat ons môre sal eet. Bid dus en vra vir God om jou te help om jou kind te verstaan.
Sielskos: Rom 7:1-9:16; Joh 10:11-21; Ps 83:1-8; Spr 29:19-22
2018-11-13
Klaagliedere 3:40 NLV
Wanneer jy bid, ‘Here, maak my ‘n beter persoon,’ in watter spesifieke areas wil jy verander, groei en volwasse word? Om eerlik met God te wees, moet jy hierdie twaalf vrae versigtig en met gebed beantwoord: 1) Is ek eerlik en bo verdenking in al my finansiële sake? Dit sluit die gee van jou tiende aan God in. 2) Plaas ek myself in seksuele onvanpaste situasies, of stel ek myself bloot aan skadelike materiaal? 3) Spandeer ek genoeg tyd saam met my familie en sal hulle sê dat ek dit doen? 4) Praat ek die waarheid, selfs wanneer dit my seermaak of kritiek meebring? 5) Vind ek dit maklik om te sê, ‘Ek was verkeerd, ek is regtig jammer,’ of hou ek wrokke? 6) Bring ek enige deel van my lewe willens en wetends onder verdenking, of weier ek om die nagevolge van my aksies te aanvaar? 7) Het ek gewoontes gevorm wat nadelig vir my gesondheid, my familie of my pad met Christus is? 8) Is ek trots, selfsugtig of arrogant? 9) Het ek krediet geneem vir dinge wat ander mense gedoen het en waarvoor hulle beloon moes word? 10) Het ek gefaal daarin om iets aan iemand te bely wat van my verkeerde dade moet weet? 11) Was ek al onsensitief of beledigend teenoor my geliefdes? En as ek was, wat is ek gewillig om daaraan te doen? 12) Spandeer ek genoeg tyd in gebed en met die Skrif? ‘Laat ons eerder gaan kyk na wat ons gedoen het en daaroor nadink sodat ons kan omdraai na die Here toe.’ Die woord vir jou vandag is: Raak eerlik met God!
Sielskos: Rom 3:21-6:23; Joh 10:1-10; Ps 133; Spr 29:15-18