Vermy dwase voorspellings

2018-11-24
Lukas 17:26 NLV

As jy ‘n dokter gehad het wie se diagnose soveel keer verkeerd was as die voorspellings van sommige profesie kundiges, sou jy die medikasie geneem het wat hy voorgeskryf het? Een ‘kundige’ het miljoene boeke verkoop waarin hy voorspel het dat die wegraping van die kerk teen 1988 sou plaasvind. Toe, sonder apologie of verduideliking, het hy ‘n tweede boek geskryf waarin hy voorspel het dat dit in 2007 sou plaasvind. ‘n Ander televisie prediker het ‘wegraping spertye’ aangebied wat in 1975 sou begin. Toe het hy die dag van wegraping in 1992 vasgemaak. Hy het later onverskrokke die datum in sy volgende boek na 2012 verander. (Interessant genoeg, verwys hy ook na Nostradamus, die 16de eeuse okkultiese siener, as ‘n ‘groot Bybelse skolier’). Die Bybel sê vir ons om ‘…dwase, onsinnige argumente…’ (2 Timoteus 2:23 NLV), te vermy. Hoekom? Omdat dit ons dwaas in die oë van die wêreld laat lyk! Wie gaan na ‘n kerk wat aanhoudend verkeerde datums voorspel, luister, wanneer Jesus ons self maan om glad nie datums te voorspel nie? ‘Net soos dit gebeur het gedurende dit tyd van Noag, só sal dit gaan gedurende die dae van die Seun van die Mens: Hulle het geëet, gedrink, getrou… tot op die dat dat Noag in die ark ingegegaan het. Die sondevloed het gekom en hulle almal vernietig’ (Lukas 17:26-27 NLV). God het nie vir Noag ‘n datum gegee nie, Hy het vir hom ‘n werk gegee. Die einde het nie aangebreek totdat die werk voltooi was nie. Jesus het gesê, ‘Tog ken niemand die presiese datum nie… Dit weet net die Vader’ (Matteus 24:36 NLV). Die hele wêreld moet nog deur die evangelie bereik word, so in plaas van om datums te voorspel, kom ons rol ons moue op en raak besig.

Sielskos: Gen 7-9; Joh 12:37-50; Ps 102:18-28; Spr 30:24-28

Vertrou op God se onveranderlike karakter

2018-11-23
Job 23:9 NLV

Soms sal jy God se teenwoordigheid nie aanvoel nie. Te midde van moeilike tye, het Job gesê, ‘Maar soek ek in die ooste, kry ek Hom nie. In die weste is Hy ook nie te vind nie. Ek sien Hom nie in die noorde nie, want Hy is onsigbaar. In die suide vind ek Hom nie’ (verse 8-9 NLV). Job het ver van God af gevoel. Ten spyte van sy onvermoë om God aan te voel, het hy egter besluit, ‘Maar Hy weet waarheen ek gaan! Wanneer Hy my toets soos goud in ‘n vuur, sal Hy my onskuldig verklaar’ (vers 10 NLV). Moeilike dae vereis besluite van geloof. Dawid het gesê, ‘Die dag wanneer ek bang word, sal ek net op U vertrou’ (Psalm 56:4 NLV). Wanneer jy nie die weë van God kan verstaan nie, vertrou op die onveranderlike en liefdevolle karakter van God. Gaan deur jou Bybel en maak ‘n lys van God se karaktereienskappe en hou die lys byderhand vir moeilike dae. ‘n Skrywer merk op: “My lys lees as volg: ‘Hy is steeds soewerein. Hy ken steeds my naam. Engele reageer steeds op sy roep. Die harte van regeerders gee steeds aan sy bevele toe. Die dood van Jesus red steeds siele. Die gees van God woon steeds in heiliges. Die hemel is steeds net ‘n hartklop weg. Die graf is steeds net ‘n tydelike tuiste. God is steeds getrou. Hy word nie onkant betrap nie. Hy gebruik alles tot sy eer en ten goede van my. Hy gebruik tragedie om sy wil te bereik; en sy wil is reg, heilig en perfek. Hartseer mag dalk saam met die nag kom, maar vreugde kom saam met die môre.'” In tye wat verander, staan met vertroue op die onveranderlike karakter van God.

Sielskos: Gen 4-6; Joh 12:20-36; Ps 102:12-17; Spr 30:21-23

Jy sal meer terugkry as wat jy gee

2018-11-22
Psalm 84:12 NLV

In ‘n sin, is dit onmoontlik om enigiets vir God ‘op te offer’. As jy meer terugkry as wat jy opoffer, het jy dan werklik enigiets opgeoffer? Die ewige beloning weeg altyd meer as die wêreldse opoffering. Op die Oordeelsdag sal ons enigste berou dit wees wat ons nie vir God teruggegee het nie. Dit mag dalk vreemd klink, maar die sleutel tot selfvervulling is selfontkenning. Die selfsugtige deel van ons het ‘n allergiese reaksie vir die woord ontkenning. Dis moeilik om dit te doen wanneer ons in luuksheid lewe. Ons verdra nie net vinnige bevrediging van behoeftes in ons kultuur nie, ons vier dit. Die fundamentele probleem met bevrediging is egter dat genoeg nooit genoeg is nie. Hoe meer ons onsself met kos of seks of die geriewe van rykdom bevredig, hoe minder sal ons dit geniet. Ons het in die verbruikersleuen ingekoop dat meer, meer is. Ons dink verkeerdelik dat hoe meer ons gee, hoe minder sal ons hê. Ons logika is egter verkeerd. Jy verloor uiteindelik dit wat jy wil behou en jy hou uiteindelik dit wat jy vir Christus se saak verloor. Mark Batterson skryf: ‘Hoe meer jy weggee, hoe meer sal jy dit wat jy het, geniet. As jy jou tiende aan God gee, sal jy die 90 persent wat jy behou, 10 persent meer geniet. Jy sal ook ontdek dat God meer met 90 persent kan doen as wat jy met 100 persent kan doen. Een van ons lewensdoelwitte as ‘n familie is om ons tiende verkeerdom te gee en van 10 persent te leef terwyl ons 90 persent weggee. Wanneer ons hierdie doel bereik, is ek seker dat ons die 10 persent, 90 persent meer sal geniet. Dis die glyskaal van vreugde.’

Sielskos: Gen 1-3; Joh 12:12-19; Ps 102:1-11; Spr 30:18-20

Vra God om jou te gebruik

2018-11-21
Handelinge 16:14 NLV

Lidia was nie ‘n prediker nie, sy was ‘n suksesvolle besigheidsvrou wat onder Paulus se bediening vir Christus gewen is. Gevolglik het haar huis die eerste kerkgebou wat in die Skrif genoem word, geword. Raak ontslae van die idee dat net predikers oor God praat. Uit 168 ure elke week, kry predikers oor die algemeen net een uur om met mense te praat. Wie gaan oor God die ander 167 ure praat? Indië het meer as ‘n biljoen mense en daar is ‘n interessante storie oor hoe die evangelie die Telugu streek aanvanklik bereik het. Dit was nie deur ‘n prediker nie, maar deur ‘n siviele ingenieur genaamd John Clough, wat aangebied het om na ‘n nuwe sendingspos in die area te gaan om daar uit te help. Die sendingraad was bekommerd omdat hy nog nooit by ‘n kweekskool was nie, maar hulle het van sy ywer gehou en dus die sendingreis goedgekeur. Gedurende ‘n groot hongersnood, het Clough oor die uitgrawing van die Buckingham kanaal toesig gehou. Sy posisie het hom in staat gestel om duisende honger mense in diens te neem, wat beteken het dat hulle ‘n loon kon ontvang en kos kon koop. Iets belangrikers het egter ook gebeur. Gevolglik het God die harte van baie mense oopgemaak om sy Woord te ontvang; en vandag floreer die kerk in daardie gebied in Indië. God sê, ‘Ek maak die einde bekend vanaf die begin. Uit die verlede, dit wat nog moet gebeur. Wat Ek besluit, voer Ek uit. Wat Ek wil, doen Ek’ (Jesaja 46:10 NLV). God het reeds ‘n plan; Hy is op soek na werkers wat gewillig is om dit te help vervul. Jy kan een van hulle wees.

Sielskos: Pred 9-12; Joh 12:1-11; Ps 76; Spr 30:15-17

Leier, hier is God se manier

2018-11-20
Eksodus 18:23 NLV

Hoekom dring ons daarop aan om alles self te doen? Drie redes: 1) Ons is bang dat ander mense nie die werk so goed soos ons sal doen nie – maar hoe anders sal hulle leer? 2) Ons is bang dat hulle ons sal oorskadu. 3) Ons dink dat God van ons verwag om alles persoonlik te doen. Moses se skoonpa het vir hom gesê ‘Luister nou na goeie raad… Jy moet nog steeds namens die volk met die Here gaan praat… Vir die beslissing oor hulle verskille moet jy mans uit die volk aanstel wat as regters kan optree. Stel een man aan vir elke 1 000 mense of selfs vir elke 100 of 50 of tien mense… Stel hulle as voltydse regters oor die volk aan. Hulle kan die groter sake dan na jou verwys. Die kleiner sake kan hulle sommer self verhoor. So kan julle saam die vrag dra… As dit volgens God se wil is, kan jy die sake van nou af so hanteer. Dit sal jou werk maklik maak. Die volk sal terselfdertyd dan ook meer tevrede gestel kan word’ (Eksodus 18:19-23 NLV). Evalueer dus wat slegs jy kan doen en delegeer wat ander kan doen. As die taak te groot is vir jou, sien dit as ‘n teken dat God vir jou sê, ‘Moenie dit alleen probeer aanpak nie!’ Dit beteken nie dat jy die werk aan sommer net enigiemand kan gee nie. As jy die verkeerde persoon in ‘n werk, wat glad nie vir hulle sin maak nie, aanstel, sal dit rampspoedig wees. Jy moet: 1) die regte mense vind; 2) die regte werk vir hulle gee; 3) hulle vertrou om die regte ding te doen. As jy hierdie drie dinge doen, sal jy lank genoeg lewe om die vrugte van jou sukses te smaak.

Sielskos: Pred 5-8; Joh 11:38-57; Ps 81; Spr 30:11-14

Oorwinnaars van reuse (4)

2018-11-19
1 Samuel 17:37 NLV

Dawid het geseëvier omdat hy die krag van suksesse in die verlede verstaan het. Hy het vir koning Saul gesê, ‘Die Here wat my uit die kloue van die leeu en die beer gered het, sal my ook red van hierdie Filistyn!..’ Let op: 1) Oorwinnaars van reuse bou op suksesse in die verlede. ‘n Reeks suksesse bou jou momentum en laat jou toe om die mengsel van vertroue in God en vertroue in jouself te ontdek, wat jou onstuitbaar maak. 2 Samuel 3:1 sê, ‘Die gevegte tussen Saul se koningshuis en die ondersteuners van Dawid het lank voortgeduur. Gaandeweg het Dawid al sterker geword, terwyl Saul se koningshuis verswak het’ (NLV). Onthou dus jou oorwinnings in die verlede en vertrou dat die God wat dit voorheen gedoen het, dit weer sal doen. 2) Oorwinnaars van reuse skep hulle eie styl. Dawid kon nie Saul se wapenrusting dra nie – en jy kan nie in iemand anders se gawes optree nie. Jy het jou eie wapen, jou eie wapenrusting en jou eie styl. Jy is uniek toegerus om jou reus te verslaan. Dawid het Goliat met ‘n slingervel verslaan. Moses het die Rooi See met ‘n herderstok geskei. Paulus het siekte en demoniese onderdrukking met ‘n sakdoek oorwin. Vir Simon Petrus, is krag oor siekte deur sy skaduwee vrygestel en baie kere het Jesus eenvoudig net die woord gespreek. Vermy die drang om Saul se wapenrusting aan te trek en klee jouself in die klere wat God jou gegee het. Bly in jou gawes. Bly in jou salwing. Bly in jou taak. Hierdie wen kombinasie van bou op jou suksesse in die verlede en die skepping van jou eie styl, sal daartoe lei dat jy selfvertroue en kreatiwiteit uitstraal, twee geheime wapens van ‘n oorwinnaar van reuse.

Sielskos: Pred 1-4; Joh 11:28-37; Ps 50; Spr 30:7-10