Josef se drie kledingstukke (3)
2018-11-05Genesis 41:42 NLV
Die derde kleed wat Josef gedra het was: Die kleed van bestemming. Omdat Josef vir God in die moeilikste van omstandighede geëer het, het hy op die troon van Egipte geëindig, waar hy die kleed van heerskappy gedra het en sy lotsbestemming vervul het. Die Psalmdigter sê dat God ‘…’n man voor hulle uit gestuur [het]. Dit is Josef, wat as ‘n slaaf verkoop is. Hulle het Josef se voete met swaar boeie vasgemaak en hom agter ysterdeure toegesluit. Sy swaarkry het aangehou totdat God se plan waar geword het, totdat die Here besluit het hy is net die regte man vir die werk! Josef het die toets geslaag. Toe het die koning vir Josef uit die tronk laat haal. Die magtige heerser oor baie nasies het hom vrygelaat en hom aangestel as die hoof oor sy hele paleis. Josef het beheer gehad oor al sy besittings’ (Psalm 105:17-21 DB). Die toetse en versoekings wat jy voor te staan kom, gaan oor jou toekoms. Hulle berei jou voor vir jou lotsbestemming! Jou hele lewe lank oefen jy vir een seisoen, vir een opdrag. Hoe groter die opdrag is, hoe groter sal die aanval teen jou wees. Vyf keer in Genesis hoofstuk 39 sê die Bybel, ‘Die Here was met Josef.’ Dit het hom egter nie vrygeskeld van verraad deur sy familie; of herhaalde versoeking aan die hande van sy baas se vrou; of laster en valse gevangenisskap, of teleurstelling in die tronk, nie. Toe hy daarop terugkyk, het Josef egter besef dat hierdie ervarings hom voorberei het om op die troon te sit. Hou dus uit, hou aan om op God te vertrou en jy sal ‘n lied van oorwinning sing.
Sielskos: Jes 42-44; Joh 8:1-20; Ps 96; Spr 28:17-20