2019-03-17
Romeine 12:1 NLV
Paulus skryf: ‘…gee dan julleself aan Hom as ‘n lewende en heilige offer. Dis dié soort offer waarvan Hy hou…’ Gedurende ‘n Joodse offergawe, is ‘n dier doodgemaak en is sy liggaam op die altaar geplaas om deur vuur verteer te word. Wat sal gebeur as jy ‘n lewende wese op die altaar sit en sê: ‘Bly daar totdat jy verteer word,’ en dan die vuur aansteek? Die wese sal afspring! Paulus moedig ons egter aan om terug na die altaar te kruip en ons dag vir dag, oomblik vir oomblik, oor te gee. In die oomblik voel dit soos die dood, maar dit is eintlik die enigste manier om te lewe. Stel jou byvoorbeeld voor dat iemand iets doen wat jou kwaad maak. Op daardie oomblik weet jy nie wat om te doen nie. God weet egter en as jy aan Hom oorgee, sal Hy jou wys hoe om met grasie te reageer. Die opsies wat vir jou aanloklik lyk – vermyding, ontduiking, skinder of woede – gee jy vir God. As jou seer baie diep is, sal dit omtrent vyf minute wees voor die fantasieë oor weerwraak weer hulle kop uitsteek. Jy sal dan van voor af weer moet oorgee. Jy kan hierdie fantasieë egter nou vinniger herken en vir bietjie langer oorgee. Soos wat jy leer om in elke situasie aan God oor te gee, sal jy nie langer ‘n slaaf van jou eie impulse wees nie. Jy verloor ‘n lewe, maar jy ontvang ‘n lewe – ‘n lewe wat baie beter is as die een wat jy verloor het. Op die ou einde kom jy agter dat niks wat jy verloor het, in elk geval die moeite werd was om te hou nie.
Sielskos: Est 4:13-5:3; Matt 6:16-18; Mark 2:18-22
2019-03-16
Psalm 143:10 NLV
Jy ontvang krag deur die daad van oorgawe, wat jy op geen ander manier kan ontvang nie. Jy ontvang vryheid deur oorgawe, wat jy andersins nooit sal ken nie. Die 12-Stap program vir herstel bied ‘n pad na vryheid vir verslaafdes aan. By die kern van die twaalf stappe lê daar egter ‘n groot paradoks: In watter een van die twaalf stappe sê dit, ‘Probeer nou rêrig hard om nie te drink nie’? In watter van die twaalf stappe sê dit, ‘Besluit nou om nie te drink nie’? Wonderbaarlik vra hierdie kragtige metode teen ons magtigste verslawings, nooit vir mense om te besluit om dit wat hulle lewens vernietig, op te hou doen nie. In plaas daarvan om die wil te mobiliseer, gee hulle volgelinge hul wil aan God oor. As jy die probleem deur jou wil probeer oorkom, sal dit jou verslaan. As jy egter jou wil aan God oorgee, word verlossing moontlik. Oorgawe, wat ons dink ‘n nederlaag beteken, is op die ou einde die enigste pad na oorwinning toe. Dis nie net die geval met alkohol en dwelms nie, maar met sonde in die algemeen. Hoekom misluk ons wil? Die handleiding van Alkoholiste Anoniem sê dat wanneer dit by alkohol kom, sê en voel ons ‘nooit weer nie.’ Ons doen dit egter weer. Hoekom? ‘Ons is op sekere tye nie in staat om met genoegsame krag die herinnering van die lyding en vernedering van selfs net ‘n week gelede in ons gedagtes op te roep nie. Die sekere nagevolge wat met die drink van alkohol gepaard gaan, skrik ons nie af nie. As hierdie gedagtes plaasvind, is hulle wasig en word hulle maklik met die ou verslete gedagte dat ons dit hierdie keer self kan hanteer, vervang.’ Die woord vir jou vandag is dus: Gee oor aan God.
Sielskos: Job 18-20; Luk 18:1-17; Ps 116:1-11; Spr 8:8-9
2019-03-15
Matteus 16:24 NLV
Oorgawe is nie dieselfde as passiwiteit nie. God se wil vir jou lewe behels dat jy kreatiwiteit moet uitoefen, besluite moet maak en inisiatief moet neem. Om oor te gee beteken nie dat jy ‘n deurmat is nie; dit beteken nie dat jy omstandighede fatalisties aanvaar nie. Dit beteken dikwels dat jy sal moet baklei om die status quo uit te daag. Dit beteken nie dat jy ophou om jou brein te gebruik, ophou vrae vra of ophou krities dink nie. Oorgawe is nie ‘n kruk vir swak mense wat nie die lewe kan hanteer nie. Oorgawe is eerder die blye en vrywillige erkenning dat daar ‘n God is. Sy doeleindes is wyser en beter as jou begeertes. Jesus kom nie om die buitekant van jou lewe te rangskik soos jy dit wil hê nie; Hy kom om die binnekant van jou lewe te rangskik soos God dit wil hê. Jy kom agter dat jy nie meer die middelpunt van die heelal is nie – jy plaas God daar. Jy bied gehoorsaamheid aan. Jy luister na Hom. Jy doen wat Hy sê. Jesus was baie duidelik oor hierdie punt: ‘Ek verseker julle, as ‘n graankorrel nie in die grond val en sterf nie, bly hy net op sy eie bestaan; maar as hy sterf, lewer hy baie vrug op’ (Johannes 12:24 NLV). Hoe lewe jy ‘n produktiewe en vrugbare lewe? Deur daagliks aan jouself te sterf. D.L. Moody het gesê dat die wêreld nog nie gesien het wat God met een persoon kan doen wat ten volle aan Hom oorgegee is nie. Kniel vandag en bid, ‘Here, neem my, skud my, breek my en maak my wat U wil hê ek moet wees.’ Dis ‘n gebed wat Hy sal beantwoord.
Sielskos: Job 15-17; Luk 17:20-37; Ps 19; Spr 8:6-7
2019-03-14
Galasiërs 2:20 NLV
John Calvin het oorgawe as volg gedefinieer: ‘Om geen ander wil en geen ander wysheid te hê nie, en om die Here te volg waar Hy ook al lei.’ Om dit te doen, moet jy jou grootste vrees oorkom: Wie sal jou lewe bestuur? Dis heel handig om Jesus in die passasiersitplek te hê wanneer ons sy hulp nodig het. ‘Here, ek het ‘n gesondheidsprobleem en ek het U hulp nodig. Iets is by die werk aan die gang en ek sal dit graag anders wil hê. Ek voel angstig en ek het U vrede nodig. Ek voel hartseer en het bietjie hoop nodig. Ek is besig om dood te gaan en ek wil seker maak ek gaan hemel toe.’ Wanneer dit egter daarby kom om die stuurwiel vir Jesus te gee en Hom toe te laat om te bestuur, is ons nie so seker daarvan nie, want dan is ons nie meer in beheer nie. As Hy bestuur, is jy byvoorbeeld nie meer in beheer van jou beursie nie. Jy kan dan nie sê: ‘Ek sal iets gee wanneer ek vrygewig voel, maar ek behou die reg om my beursie toe te hou’ nie. Nou is dit Jesus se geld. Wanneer jy Jesus laat bestuur, is jy nie meer in beheer van jou ego nie. Jy het nie meer die reg om elke selfgesentreerde ambisie te vervul nie. Dis nou sy lewe. Jy is nie meer in beheer van jou mond nie. Jy kan nie meer skinder, vlei, mooipraat, jok, vloek, woedend wees, kul, intimideer, manipuleer, oordryf of dubbelsinnig wees nie. Dis nie meer jou mond nie – dis sy mond. Hier is dus die vraag: Het jy Jesus net vir die rit saamgenooi, of bestuur Hy? Die woord vir jou vandag is: Gee oor aan God.
Sielskos: Job 11-14; Luk 17:11-19; Ps 11; Spr 8:4-5
2019-03-13
Markus 10:14 NLV
Kan jy dink hoe hierdie kinders gevoel het toe Jesus sy eie dissipels bestraf het omdat hulle hulle weggewys het? Hoeveel lewens is daardie dag verander omdat Hy hierdie kleintjies liefgehad en tyd vir hulle gemaak het? Hy het vir hulle iets gegee wat elke kind nodig het en verdien – selfwaarde en die waardigheid van hulle eie gedagtes en opinies. Wanneer jy na my luister, beteken dit dat dit wat ek sê, saak maak. Belangriker as dit nog, ek maak vir jou saak. Na jare se aanhoor van woorde soos, ‘Moenie my pla nie… Bly stil!… Ek het nie tyd nie,’ begin iets belangriks in ‘n kind doodgaan – kreatiwiteit en selfvertroue. Kan jy jou indink om die lewe sonder hierdie kwaliteite binne te gaan? Jy sê, ‘Maar ek is so besig.’ Dit mag dalk so wees, maar jy is verseker nie besiger as Jesus nie en Hy het tyd vir kinders gemaak. Ouer, luister jy? Vandag is ons tronke vol kinders wat volwasse misdade gepleeg het. Wanneer ons hulle bestudeer, vind ons oor die algemeen dat omdat hulle nooit geleer het om hulle emosies op ‘n konstruktiewe manier uit te druk nie, het hulle op die ou einde ontplof! As ‘n kind het hy sy hamer gevat en sy speelding in stukke geslaan; nou as ‘n man slaan hy sy vuis deur mure of slaan sy vrou. Sy hempsgrootte het verander, maar die boodskappe in sy kop is steeds dieselfde – niemand luister nie, niemand verstaan nie, niemand gee om nie. Hierdie is ernstige sake. As jy dink ons maak ‘n berg van ‘n molshoop – dink weer. Herrangskik die prioriteite in jou huis. Doen dit reg en jy sal wonderlike herinneringe hê. Doen dit verkeerd en jy sal met die spyt moet saamleef.
Sielskos: Job 8-10; Luk 17:1-10; Ps 115; Spr 8:1-3
2019-03-12
Jona 1:12 NLV
Toe Jona op ‘n skip geklim het wat in die teenoorgestelde rigting van God se wil gevaar het, het die bemanning ontdek dat daar ‘n hoë prys te betaal is wanneer jy die verkeerde persoon in jou lewe toelaat. God het jou nie die magtiging gegee om iemand anders se lewensondersteuningstelsel te wees nie. Veral as hulle besig is om van Hom weg te hardloop en jou gebruik om dit te doen! Met Jesus aan boord kan jy dit deur enige storm maak. Wanneer jy egter vir Jona aan boord toelaat, sal hy jou lewe omkeer en jy sal die risiko loop om alles te verloor. Dink jy regtig dat jy jou ‘Jona’ kan regruk? Nee. ‘Toe stuur die Here ‘n groot vis om Jona in te sluk…’ (Jona 1:17 NLV). Soms is die beste ding wat jy vir iemand kan doen om hom oor boord te gooi. So lank as wat jy aanhou om hom te red, staan jy in God se pad. Kyk na Jona – terwyl die bemanning desperaat besig was om goed oor boord te gooi, was hy besig om te slaap! Hy wou nie reggehelp word nie, hy wou gemaklik wees! Ken jy so iemand? Die rede hoekom hulle nie verander nie, is omdat hulle nie gereed is om te verander nie! Jona was so hardkoppig dat hy drie dae in die vis se maag deurgebring het, voor hy begin bid het. As dit jy was, sou jy die oomblik wat jy die vis gesien het begin bid het, nie waar nie? Dit mag dalk moeilik wees om aan te hoor, maar soms is die beste ding wat jy vir jou ‘Jona’ – en jouself – kan doen, om hulle oor boord te gooi en God hulle te laat red.
Sielskos: Job 5-7; Luk 16:19-31; Ps 26; Spr 7:26-27