Jou kinders het jou tyd nodig
2019-03-13Markus 10:14 NLV
Kan jy dink hoe hierdie kinders gevoel het toe Jesus sy eie dissipels bestraf het omdat hulle hulle weggewys het? Hoeveel lewens is daardie dag verander omdat Hy hierdie kleintjies liefgehad en tyd vir hulle gemaak het? Hy het vir hulle iets gegee wat elke kind nodig het en verdien – selfwaarde en die waardigheid van hulle eie gedagtes en opinies. Wanneer jy na my luister, beteken dit dat dit wat ek sê, saak maak. Belangriker as dit nog, ek maak vir jou saak. Na jare se aanhoor van woorde soos, ‘Moenie my pla nie… Bly stil!… Ek het nie tyd nie,’ begin iets belangriks in ‘n kind doodgaan – kreatiwiteit en selfvertroue. Kan jy jou indink om die lewe sonder hierdie kwaliteite binne te gaan? Jy sê, ‘Maar ek is so besig.’ Dit mag dalk so wees, maar jy is verseker nie besiger as Jesus nie en Hy het tyd vir kinders gemaak. Ouer, luister jy? Vandag is ons tronke vol kinders wat volwasse misdade gepleeg het. Wanneer ons hulle bestudeer, vind ons oor die algemeen dat omdat hulle nooit geleer het om hulle emosies op ‘n konstruktiewe manier uit te druk nie, het hulle op die ou einde ontplof! As ‘n kind het hy sy hamer gevat en sy speelding in stukke geslaan; nou as ‘n man slaan hy sy vuis deur mure of slaan sy vrou. Sy hempsgrootte het verander, maar die boodskappe in sy kop is steeds dieselfde – niemand luister nie, niemand verstaan nie, niemand gee om nie. Hierdie is ernstige sake. As jy dink ons maak ‘n berg van ‘n molshoop – dink weer. Herrangskik die prioriteite in jou huis. Doen dit reg en jy sal wonderlike herinneringe hê. Doen dit verkeerd en jy sal met die spyt moet saamleef.
Sielskos: Job 8-10; Luk 17:1-10; Ps 115; Spr 8:1-3