2019-03-23
Psalm 73:26 NLV
Soos jy na jou lotsbestemming op pad is, sal jy verseker slaggate langs die pad tref, of ‘n paar verkeerde afdraaie neem, of vergeet om petrol in te gooi en langs die pad gaan staan. Die enigste manier om mislukking te vermy, is om nooit jou motorhuis te verlaat nie! In die woorde van die skrywer William Saroyan: ‘Goeie mense is goed, omdat hulle wysheid deur mislukking verkry het.’ Die ware kwessie in die lewe is nie of jy gaan misluk nie, maar of jy uit jou ervaring gaan leer en dit in die wysheid gaan omskep wat nodig is om sukses te kan behaal. In ‘n opname onder suksesvolle mense, het nie een van hulle hul foute as mislukkings gesien nie. Hulle het hulle foute as geleenthede om te leer of te groei, gesien. Dis ‘n wenhouding! Henry Ward Beecher het gesê: ‘Dis nederlae wat been in vuursteen en sening in spiere verander, wat mens onoorwinbaar maak. Moenie bang wees vir nederlae nie. Jy is nooit so naby aan ‘n oorwinning as wanneer jy in ‘n goeie saak verslaan word nie.’ Die volgende keer wat jy dus in iets misluk, stop en vra jouself af, ‘Wat het ek geleer? Is ek dankbaar vir hierdie ervaring? Hoe kan ek dit in sukses verander? Waarheen gaan ek van hier af? Wie anders het ook al so misluk, en hoe kan hulle my help? Hoe kan my ervaring ander mense help? Het ek misluk, of kon ek net nie ‘n onrealistiese hoë doelwit bereik nie?’ Gaan dan een stap verder en vra God vir groter insig. As jy dit doen, sal jy sterker en wyser as gevolg van jou ervarings word (sien Jakobus 1:5).
Sielskos: Job 38-39; Luk 19:28-36; Ps 38:13-22; Spr 8:24-26
2019-03-22
Josua 1:5 NLV
Toe Josua op die drumpel van die Beloofde Land gestaan het, het hy besef dat hy eers sewe nasies en veertig konings moes verslaan voor hy die land in besit kon neem. God het toe vir hom gesê: ‘Niemand sal teen jou bestand wees solank jy leef nie… Ek sal jou nooit in die steek laat nie. Ek sal jou nooit los nie.’ Wanneer jy in God se wil, met al die kragte en hulpbronne van die hemel wat agter jou staan, optree, sal jy wen. Dit beteken nie dat jy nie sal moet veg nie, maar jy sal wen! Die rolprent Ben Hur het meer Oscars as enige ander rolprent in die geskiedenis gewen. Charlton Heston, wat die held in die fliek gespeel het, moes ‘n strydwa vir sy rol bestuur. Hy was veronderstel om die strydwa-ren aan die einde van die fliek te wen, maar daar was een probleem: Hy het gesukkel om te leer om die strydwa te hanteer. Hy het na die regisseur, William Wyler, gestap en gesê: ‘Meneer Wyler, ek kan skaars op die strydwa bly. Ek kan nie hierdie resies wen nie.’ Wyler het na Heston gekyk en gesê: ‘Seun, jou werk is om op die strydwa te bly; my werk is om jou te laat wen.’ Elke keer wat jy die kantoor binnestap, of ‘n belangrike vergadering of ‘n werksonderhoud moet bywoon, vertrou op God. Wanneer jy daardie gevreesde doktersafspraak moet maak, of ‘n vriend moet konfronteer wat jou sleg behandel het, vertrou op God. Bly op die strydwa. Moenie ophou om op God te vertrou nie. Jou werk is om gehoorsaam te wees; sy werk is om seker te maak dat jy wen. Wanneer jy jou deel doen, kan jy seker wees dat Hy sy deel sal doen.
Sielskos: Job 35-37; Luk 19:20-27; Ps 38:1-12; Spr 8:22-23
2019-03-21
Efesiërs 4:26-27 NLV
Die Bybel sê: ‘…Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ‘n houvas gee nie.’ Woede gee vir die duiwel grond om op te beweeg. Bitterheid nooi hom in om spasie in jou hart te kom beset. Wanneer jy dit doen, sal hy sy intrek neem en die plek met dinge soos skinderstories, laster en humeurigheid laat stink – enige tyd wanneer jy een van hierdie dinge doen, het jy vir Satan ‘n vastrapplek gegee. Wat moet jy dan doen? Gooi hom uit. Moenie ‘n sekonde van jou dag aan hom afstaan nie. Sê vir hom om in die Naam van Jesus sy tasse te pak en die pad te vat. Begin die proses van vergifnis. Moenie boekhou van die kwaad wat mense aan jou gedoen het nie. Bid vir jou vyande, eerder as om planne teen hulle te smee. Haat die verkeerde dade, sonder om die oortreders te haat. Begin om te fokus op dit wat Jesus vir jou gedoen het, eerder as op dit wat die oortreders aan jou gedoen het. So verregaande soos wat dit dalk mag klink, het Jesus ook vir hulle gesterf. As Hý dink dat hulle vergifnis verdien, dan verdien hulle dit. Maak dit vergifnis maklik? Nee. Dit kom met stampe en stote en het goeie en slegte dae. Sommige dae wanneer jy dink dat jou wond genees het en dat jy heeltemal daar oor is, sal iemand die rofie afstamp en die pyn sal terugkeer. Moet jou nie daaroor bekommer nie. Wanneer dit by vergifnis kom, is ons almal beginners. So lank as wat jy probeer om te vergewe, vergewe jy. Dis wanneer jy nie meer probeer om te vergewe nie, wat jy die duiwel ‘n vastrapplek gee.
Sielskos: Job 32-34; Luk 19:11-19; Ps 55:12-23; Spr 8:19-21
2019-03-20
Lukas 6:38 ABA
Jesus het gesê: ‘Moenie so gou foutvind nie. As jy ander mense links en regs veroordeel, gaan God eendag presies dieselfde met jou doen’ (Matteus 7:1-2 DB). Dink daaroor. Wil jy regtig jou hele lewe lank ander mense oordeel en deur hulle geoordeel word? ‘n Christelike skrywer stel dit so: ‘Ons is geskape om in hierdie gemeenskap te wees, nie om mekaar met ‘n veroordelende gees te behandel nie. Daar is iets binne-in ons wat ons ‘n beter indruk van onsself gee wanneer ons iemand anders verkleineer. Ons oordeel mekaar se verhoudings terwyl ons eie inmekaarstort; of mekaar se ouerskapstyle terwyl ons s’n aan ‘n draadjie hang. Iemand wat nooit oefen nie is lui. Iemand wat hulle gevoelens wegsteek is koud. Ons oordeel mekaar se werke, wie besiger is, wie meer stres het. Iemand vertel ons van slegte nuus en ons verbly ons in die geheim dat dit nie ons is nie. Iemand deel goeie nuus en ons noem hulle arrogant. Niemand wen egter nie, want ons is almal deel van dieselfde span.’ In plaas van om te oordeel en te kritiseer, sê Paulus: ‘Terwyl ons nog tyd oor het, moet ons elke geleentheid benut om goed te doen aan almal wat op ons pad kom…’ (Galasiërs 6:10 DB). Dus: a) Wees bedag op geleenthede om iemand te seën wat nie in die posisie is om dit terug te kan doen nie. b) Identifiseer iemand wat jy vandag kan bemoedig. c) Gaan uit jou pad uit om iemand spesiaal te laat voel. Jesus het gesê: ‘Dit moet vir julle maklik wees om vir ander mense iets te gee, want dan sal hulle vir julle ook iets gee. Ja, hulle sal vir julle baie meer gee, want wat julle aan ander mense doen, sal hulle aan julle doen.’
Sielskos: Job 29-31; Luk 19:1-10; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18
2019-03-19
Psalm 18:7 NLV
Daar is tye in die lewe wat die beste ding wat jy kan doen is om uit die diepte van jou wese tot God te roep. Moenie daaroor bekommerd wees dat jy onwaardig lyk of dat mense dink dat jy geen geloof het nie. Die Psalmdigter het gesê: ‘In my angs het ek tot die Here geroep… my hulpgeroep het Hy gehoor.’ Elke ouer ken daardie hulpgeroep. Dis anders as ‘n humeurbui of ‘n kerm vir aandag, dis ‘n noodroep. Selfs al kom dit in die middel van die nag, tref jou voete die vloer en hou jy jou kind vas, maak hom skoon, voed hom of troos hom, nog voor jy weet wat aangaan. Dis hoe God oor jou voel. Wanneer jy so laag voel dat jy moet opreik om net die bodem te kan voel, roep tot die Here! Dawid het gesê: ‘Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, uit diep waters het Hy my getrek… Hulle het aangeval toe ek swak was, maar die Here hou my staande. Hy lei my na veiligheid, en red my omdat Hy my liefhet’ (verse 18-20 NLV). Dawid het besef dat God sy ‘veilige vesting’ is (vers 3 NLV). In die Bybelse tyd was ‘n hoë toring ‘n veilige vesting waar die vyand jou nie kon bykom nie. Spreuke 18:10 sê: ‘Die Naam van die Here is soos ‘n veilige fort. Die regverdige gaan skuil daar en word beskerm’ (NLV). Dit verteenwoordig ‘n plek van veiligheid in God waar jy bo die bedreiging en omstandighede uitgelig word. Dis waarheen jy gaan om weer perspektief te kry; ‘n plek waar jy vooruit kan kyk en kan weet dat hierdie toets binnekort verby sal wees. Gaan voort, roep tot die Here – Hy sal jou antwoord.
Sielskos: Job 24-28; Luk 18:31-43; Ps 13; Spr 8:14-16
2019-03-18
Markus 14:36 NLV
Omdat oorgawe so naby aan ons wil verbind is, is daar dikwels ‘n prys daaraan verbonde. Jy kan toegewyd aan God voel, maar wanneer dit tyd is om op te tree, kan jy ontdek dat jou oorgawe net vel-diep is. Jesus het dikwels die spesifieke area waar oorgawe in iemand se lewe nodig was, geïdentifiseer. Vir die owerspelige vrou het Hy gesê: ‘…Ook Ek veroordeel jou nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie’ (Johannes 8:11 NLV). Dit beteken dat jy al jou seksuele drange en begeertes aan God moet oorgee. Dikwels sal oorgawe geld behels, omdat geld oor vertroue en beheer gaan. Vir die ryk sakeman wat Hom wou volg het Jesus gesê: ‘…Gaan verkoop alles wat jy het en gee die geld vir die armes…’ (Markus 10:21 NLV). Die man was egter onwillig om dit te doen. Oorgawe sal dikwels selfopenbaring oor ‘n wrok, houding, gewoonte of sonde behels. Wanneer jy by ‘n vertrouensvriend is, sal God jou dalk aanpor om oor ‘n geleentheid waar jy gesukkel het of selfs gefaal het, te praat. Ander kere kan jy dalk saam met iemand wees en die behoefte voel om hulle oor iets te troos, wat jou ongemaklik laat voel. Hier is dus die vraag: Sal jy oorgee, wanneer oorgawe beteken dat jy iets ongemakliks moet doen? As dit gemaklik was, sou dit nie oorgawe gewees het nie! Die uiterste voorbeeld van oorgawe is Christus wat in Getsemane bid: ‘…Laat nogtangs nie my wil nie, maar u wil geld!’ (Lukas 22:42 NLV). Dit was die moeilikste gebed wat Hy al ooit gebid het en die een wat Hom tot sy lotsbestemming gebring het. Wonderbaarlik is dit die gebed van oorgawe wat God se krag na vore bring.
Sielskos: Job 21-23; Luk 18:18-30; Ps 116:12-19; Spr 8:10-13