2019-03-29
Filippense 4:6 NLV
Dit gebeur so maklik, veral in die geselskap van verkeerde mense. Voor jy jou oë uitvee is jy besig om te kritiseer en te kla en word die atmosfeer negatief. Jy sê: ‘Maar ek sê net hierdie dinge omdat ek so bekommerd is.’ Lees dan die volgende: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink…’ (verse 6-7 NLV). Jy styg bo bekommernis uit deur dank te betuig, nie deur te kla nie. Moet nooit toelaat dat jou vlak van danksegging deur jou situasie bepaal word nie, want God is groter as enige situasie waar voor jy te staan kan kom. Hoe kan jy jou neiging om negatief te wees dan oorkom en eerder ‘n positiewe, geloofsvervulde lewensuitkyk ontwikkel? 1) Besluit om dit te doen. Abraham Lincoln het die waarheid gepraat toe hy gesê het: ‘Die meeste mense is so gelukkig soos hulle besluit om te wees.’ Weier om nog ‘n oomblik lank te kritiseer en te kla. 2) Begin nou. Verandering gebeur nie maklik nie, maar as jy nie begin nie, sal dit glad nie gebeur nie. Probeer om meer bewus te wees van wat jy sê. Wanneer jou eerste paar sinne negatief is, korrigeer jouself en stuur die gesprek na dit wat positief is. 3) Verwag die goeie dinge. ‘…Dink aan dit wat vir God saak maak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is…’ (Filippense 4:8). Maak die volgende jou gebed: ‘Here gee vir my ‘n positiewe, geloofsvervulde lewensuitkyk.’
Sielskos: Lev 1-4; Luk 20:20-26; Ps 31; Spr 8:34-36
2019-03-28
Matteus 5:46 DB
John Walker skryf: ‘Stuur foto en ek sal antwoord. Dis ‘n algemene boodskap in persoonlike advertensies. Wanneer dit egter daarby kom om ander mense lief te hê, sê jy ook: Stuur eers foto? Ons almal sê dit op verskillende maniere. ‘Ek moet eers sien of jy goed genoeg is… Ek is nie seker jy is my liefde werd nie… Jy moet eers volgens my verwagtinge optree voordat ek vir jou sal lief wees.’ Dis tyd dat ons ophou om mense ‘…volgens ‘n menslike maatstaf…’ (2 Korintiërs 5:16 NLV), te beoordeel. Jesus het in die Bergrede gesê: ‘…[God] doen goeie dinge vir almal. Hy laat die son skyn oor goeie mense en oor slegte mense… As julle net daardie mense liefhet met wie julle goed oor die weg kom, moet julle nie verwag om daarvoor ‘n medalje vir goeie diens by God te kry nie. Almal doen dit tog, ook slegte mense wat nie in God glo nie. As julle net julle familie en vriende groet, het julle nog niks spesiaals gedoen nie. Selfs die grootste sondaars groet ook hulle vriende. Julle moet soos julle hemelse Vader wees…’ (Matteus 5:45-48 DB). God se liefde vir ons is perfek, omdat dit onvoorwaardelik en nie veroordelend is nie. Die Bybel sê dat toe ons sy vyande was, het God sy liefde laat blyk ‘…daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was’ (Romeine 5:8 NLV). Is daar iemand in jou lewe wat jou seergemaak het en nou sukkel jy om vir hom/haar lief te wees? Bid dan: ‘Vader, ek sukkel om [naam] lief te hê. Help my om die oordeel en blaam te laat gaan; en om hom of haar lief te hê soos U my liefhet.’
Sielskos: 2 Tess 1-3; Luk 20:9-19; Ps 18:30-50; Spr 8:32-33
2019-03-27
Romeine 5:8 NLV
Menslike liefde sê: ‘Ek sal vir jou lief wees, solank jy aan my verwagtinge voldoen, met my politiek saamstem, my kerk bywoon of by my sosiale sirkel inpas.’ God is nie so nie. ‘God laat blyk sý liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was.’ Toe Hy dit gedoen het, het Hy al die reëls verander. Jesus het gesê: ‘Ek gee julle ‘n nuwe opdrag: …Soos Ek julle liefhet, net só moet julle mekaar ook liefhê’ (Johannes 13:34 NLV). ‘…Jy moet jou naaste liefhê soos jouself’ (Matteus 22:39 NLV). ‘…Julle moet goed wees vir mense… maar julle moenie hoop om iets terug te kry nie…’ (Lukas 6:35 ABA). Pastoor Bill Hybels sê: ‘Toe ek die taak van liefde aangepak het, het ek gewoonlik gegee in plaas van om te ontvang. Liefde het my onvermydelik die drie geriewe wat vir my die kosbaarste is, gekos – my tyd, my energie en my geld. Wanneer jy oor die welstand van ander mense besorg is, sal jy gewoonlik opofferings maak.’ Nog ‘n skrywer voeg by: ‘Vir ‘n rukkie was ek kwaad vir die liefde. Dit het nie gehou nie. Dit was dit nie werd nie. Hoe dieper dit gegaan het, hoe seerder het dit gemaak. Liefde was irrasioneel, gekompliseerd, ontwykend en onbetroubaar. Ek was klaar daarmee. Bietjie vir bietjie het God my hart genees. My woede het begin taan. Nou sien ek dat dit die mensdom is wat liefde seermaak en verwurg. ‘…ware liefde is van God afkomstig…’ (1 Johannes 4:7 NLV), en dis dit werd, wat ook al die koste is. Maak nie saak hoeveel skade in die naam van liefde aangerig is nie, ons is onvolledig daarsonder.’
Sielskos: Est 5-10; Luk 20:1-8; Ps 18:1-29; Spr 26:24-27
2019-03-26
Psalm 30:3 NLV
Ons praat so maklik oor dinge wat nie saak maak nie. Wanneer dit egter tyd is om oor ons vrese, ons eensaamheid, ons skuldgevoelens of ons behoefte aan liefde te praat, klap ons soos oesters toe. Soms maak ons asof ons nie hoor nie, terwyl die waarheid egter is dat ons nie hou van wat ons hoor nie. Jy het gehoor hoe jou maat sê dat hy meer van jou tyd nodig het, of jou kind wat sê: ‘Ek is lief vir jou.’ Jy het hulle ook hoor sug toe jy niks terug gesê het nie. Jy het weggehardloop en weggekruip omdat jy óf nie weet hoe om dit te gee wat hulle vra nie, óf omdat jy nie die prys wil betaal nie. Ons almal het wegkruipplekke – soos ons werk, ons gewoontes of verhoudings wat geen emosionele eerlikheid benodig nie. God het jou egter met ‘n behoefte aan aanraking en die uitdrukking van emosies geskep. Hoe lank gaan jy agter daardie masker wegkruip en jou behoeftes en vrese ontken? God het gesê: ‘…Dis nie goed dat die mens alleen is nie…’ (Genesis 2:18 NLV). As jy aanhou om jou emosies te ontken, sal jy nooit die vreugde van ‘n goeie verhouding ervaar nie. Dawid was nie bang om aan God te erken dat hy swak, hartseer of kwaad gevoel het, of liefde nodig gehad het nie. Hy het gesê: ‘Vanaf die einde van die aarde roep ek tot U om hulp, want ek is moedeloos verby…’ (Psalm 61:3 NLV). As jy nie jouself teenoor ander mense kan uitdruk nie, begin deur met God te praat. Wat Hy vir Dawid gedoen het, kan Hy ook vir jou doen. Draai dus vandag na Hom toe en laat die genesing begin.
Sielskos: Est 1-4; Luk 19:45-48; Ps 69:19-36; Spr 8:30-31
2019-03-25
Romeine 12:19 DB
Wraak is God se werk, nie joune nie. Hy sal vergeld – of dit nou op die Oordeelsdag of in hierdie lewe is. Hy kan jou beledigende baas dissiplineer, ‘n woedende ouer laat versag, of jou eks tot op sy knieë of tot haar sinne bring. Vergifnis verminder nie geregtigheid nie; dit vertrou dit aan God toe. Hy waarborg die regte hoeveelheid vergelding. Ons gee te veel of te min, maar Hy het die presiese resep. Anders as ons, gee Hy ook nooit oor ‘n persoon op nie. (Iets waaroor jy baie bly behoort te wees). Dis God se werk om jou vyande reg te ruk. Dis jou werk om jou vyande te vergewe. ‘Moenie net regsit om ander mense in eie munt terug te betaal as hulle iets verkeerds aan julle gedoen het nie. Doen liewer goeie dinge sodat ander mense kan sien dat julle God dien. Doen van julle kant af alles in julle vermoë om in vrede met ander mense te leef. Laat staan al julle wraakplanne, my liewe broers en susters. Dit pas glad nie by gelowiges nie. Los sulke dinge vir God. Daar staan immers in die Bybel: ”Ek alleen het die reg om te straf; Ek sal wraak neem,’ sê die Here. ‘As jou vyand honger is, moet jy sorg dat hy iets te ete kry. As hy dors is, moet jy hom iets gee om te drink. As jy dit doen, sal jy hom verskriklik skaam maak.’ Moenie toelaat dat dit wat sleg is in jou lewe die oorhand kry nie…’ (verse 17-21 DB). Die skrywer Max Lucado sê: ‘Wraak bou ‘n lang, smal huis met net genoeg spasie vir een mens. Die lewe van die inwoner word op een doel gefokus: Maak iemand se lewe ellendig. Op die ou einde is dit egter net sy eie lewe wat hy ellendig maak.’
Sielskos: Job 40-42; Luk 19:37-44; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29
2019-03-24
Psalm 139:14 NLV
Sarah Hupp skryf: ‘Het jy geweet dat jy aan die begin ‘n enkele sel was en dat daar in daardie sel genoeg DNA was om 1,000 volumes gekodeerde bloudrukke te bevat? Of dat die DNA in daardie een selletjie die kleur van jou hare en oë, die vorm van jou neus en die grootte van jou ringvinger bepaal het? Het jy geweet dat niemand anders jou vingerafdrukke, jou sprankelende oë of jou manier van lag het of dieselfde as jy na dinge kyk nie? Jy is oorspronklik en dit het nie per ongeluk gebeur nie. God het jou DNA ontwerp. Hy het jou gemaak soos Hy jou wou gehad het. Hy het vir jou jou stem, jou glimlag, jou sproete, jou krulhare en al die dinge wat jou jou maak, gegee. Omdat God jou gemaak het, is jy vir Hom en ander mense spesiaal. Die wêreld sou sonder jou nie volledig gewees het nie.’ Geen wonder die Psalmdigter het gesê: ‘Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het. U werke is wonderbaar, ek weet dit alte goed!’ Miskien dink jy, ‘Ja, maar jy weet nie met watse beperkings ek elke dag saamleef nie.’ Pastoor Jim Penner sê: ‘Ek het al met baie mense wat met fisiese kwessies soos siektes, diabetes, kanker, gewigsprobleme, spier en outo-immuun siektes sukkel, gepraat en saam met hulle gebid. Die beperkings waarmee die mensdom op ‘n daaglikse basis stoei is eindeloos. Tog sê Efesiërs 2:10: ‘God het ons gemaak wat ons nou is. Dit is Hy wat ons nuut gemaak het omdat ons Christus Jesus s’n is’ (DB). God het presies geweet wat Hy doen toe Hy jou gemaak het. Jy is uniek in hierdie wêreld. Dit maak jou spesiaal.’
Sielskos: Lev 27:30-33; Num 31:48-54; 1 Kor 16:1-3; 2 Kor 9:1-15