Gee oor aan God (2)
2019-03-15Matteus 16:24 NLV
Oorgawe is nie dieselfde as passiwiteit nie. God se wil vir jou lewe behels dat jy kreatiwiteit moet uitoefen, besluite moet maak en inisiatief moet neem. Om oor te gee beteken nie dat jy ‘n deurmat is nie; dit beteken nie dat jy omstandighede fatalisties aanvaar nie. Dit beteken dikwels dat jy sal moet baklei om die status quo uit te daag. Dit beteken nie dat jy ophou om jou brein te gebruik, ophou vrae vra of ophou krities dink nie. Oorgawe is nie ‘n kruk vir swak mense wat nie die lewe kan hanteer nie. Oorgawe is eerder die blye en vrywillige erkenning dat daar ‘n God is. Sy doeleindes is wyser en beter as jou begeertes. Jesus kom nie om die buitekant van jou lewe te rangskik soos jy dit wil hê nie; Hy kom om die binnekant van jou lewe te rangskik soos God dit wil hê. Jy kom agter dat jy nie meer die middelpunt van die heelal is nie – jy plaas God daar. Jy bied gehoorsaamheid aan. Jy luister na Hom. Jy doen wat Hy sê. Jesus was baie duidelik oor hierdie punt: ‘Ek verseker julle, as ‘n graankorrel nie in die grond val en sterf nie, bly hy net op sy eie bestaan; maar as hy sterf, lewer hy baie vrug op’ (Johannes 12:24 NLV). Hoe lewe jy ‘n produktiewe en vrugbare lewe? Deur daagliks aan jouself te sterf. D.L. Moody het gesê dat die wêreld nog nie gesien het wat God met een persoon kan doen wat ten volle aan Hom oorgegee is nie. Kniel vandag en bid, ‘Here, neem my, skud my, breek my en maak my wat U wil hê ek moet wees.’ Dis ‘n gebed wat Hy sal beantwoord.
Sielskos: Job 15-17; Luk 17:20-37; Ps 19; Spr 8:6-7