Gee oor aan God (1)
2019-03-14Galasiërs 2:20 NLV
John Calvin het oorgawe as volg gedefinieer: ‘Om geen ander wil en geen ander wysheid te hê nie, en om die Here te volg waar Hy ook al lei.’ Om dit te doen, moet jy jou grootste vrees oorkom: Wie sal jou lewe bestuur? Dis heel handig om Jesus in die passasiersitplek te hê wanneer ons sy hulp nodig het. ‘Here, ek het ‘n gesondheidsprobleem en ek het U hulp nodig. Iets is by die werk aan die gang en ek sal dit graag anders wil hê. Ek voel angstig en ek het U vrede nodig. Ek voel hartseer en het bietjie hoop nodig. Ek is besig om dood te gaan en ek wil seker maak ek gaan hemel toe.’ Wanneer dit egter daarby kom om die stuurwiel vir Jesus te gee en Hom toe te laat om te bestuur, is ons nie so seker daarvan nie, want dan is ons nie meer in beheer nie. As Hy bestuur, is jy byvoorbeeld nie meer in beheer van jou beursie nie. Jy kan dan nie sê: ‘Ek sal iets gee wanneer ek vrygewig voel, maar ek behou die reg om my beursie toe te hou’ nie. Nou is dit Jesus se geld. Wanneer jy Jesus laat bestuur, is jy nie meer in beheer van jou ego nie. Jy het nie meer die reg om elke selfgesentreerde ambisie te vervul nie. Dis nou sy lewe. Jy is nie meer in beheer van jou mond nie. Jy kan nie meer skinder, vlei, mooipraat, jok, vloek, woedend wees, kul, intimideer, manipuleer, oordryf of dubbelsinnig wees nie. Dis nie meer jou mond nie – dis sy mond. Hier is dus die vraag: Het jy Jesus net vir die rit saamgenooi, of bestuur Hy? Die woord vir jou vandag is: Gee oor aan God.
Sielskos: Job 11-14; Luk 17:11-19; Ps 11; Spr 8:4-5