2019-05-06
Galasiërs 5:22 DB
Paulus skryf: ‘Net soos ‘n boom wat ‘n baie goeie vrug oplewer, wys hierdie mense se lewe dat hulle aan God behoort. Sulke mense gee baie om vir ander… Hulle verdra ander mense sonder om ooit lelik met hulle te wees…’ (vers 22 DB). Kom ons kyk na hierdie Christelike kwaliteite: 1) Jy gee om vir ander mense. Jy hou op om mense as voorwerpe te sien wat uitgestryk moet word, of vermy moet word, of tot jou eie voordeel gebruik moet word. Toe Jesus na mense gekyk het, het Hy ‘…ontroerd geraak oor hulle seerkry en weerloosheid…’ (Matteus 9:36 NLV). Wanneer dit gebeur, gebeur twee wonderlike dinge. Eerstens oorkom jy jou selfsugtigheid en word jy oor iemand anders besorg. Tweedens ontwikkel jy ‘n sin van dankbaarheid vir seëninge wat jy dalk as vanselfsprekend aanvaar het. 2) Jy is nooit lelik met ander mense nie. Jy sien nie meer mense met sagte, liefdevolle persoonlikhede as papperds wat nooit veel bereik nie. Paulus het geskryf: ‘…ons [was] soos babatjies teenoor julle…’ (1 Tessalonisense 2:7 NLV). Paulus was vir seker nie ‘n papperd nie! Soms is die rede dat ons so gedrewe is, die vrees dat wanneer ons sagter en liefdevoller word, ons nie meer vooruit sal beweeg nie en in die resies sal agterbly. Hierdie tipe vreesbevange denke dreineer die kreatiwiteit uit jou uit – om nie eers van jou vreugde te praat nie. Enige sukses wat jy behaal is ten spyte van jou stres, nie as gevolg daarvan nie. Kyk na Jesus. Hy was nie haastig nie, Hy het selde sy stem verhef, Hy het tyd vir kinders gemaak, Hy het mense liefgehad en hulle opgehef. Dís hoe jy op God se manier lewe.
Sielskos: Num 30:1-32:24; Mark 5:1-10; Ps 44:9-16; Spr 11:10-11
2019-05-05
Romeine 15:24 NLV
Die wêreld gaan homself nie daaraan toewy om ons gelukkig te maak nie; en eers wanneer ons dit aanvaar, kan ons begin vorentoe beweeg. Baie kere werk die lewe nie so uit soos ons dit beplan het nie. Paulus het geskryf: ‘…Ek hoop om julle op my deurreis na Spanje te sien…’ Hy het egter nooit by Spanje uitgekom nie; in plaas daarvan het hy in die tronk beland. Dis egter in die tronk wat hy die sendbriewe geskryf het. Jou teleurstelling mag dus dalk God se aanstelling wees! Die Bybel sê: “‘n Mens bepaal sy koers, maar die Here bepaal sy bestemming” (Spreuke 16:9 NLV). Is jy nie bly dat God in beheer van jou lewe is nie? Laat die filosowe stry oor hoekom die lewe werk soos dit doen; fokus jy net daarop om te lewe! Watter nut is daarin om honderd jaar oud te word, wanneer spyt en wrokke jou daarvan weerhou om dit te geniet? Watter nut het meer tyd, wanneer jy die tyd wat jy reeds het mors? Weet jy hoe ‘n oester ‘n pêrel maak? Wanneer ‘n korreltjie sand by sy skulp inkom en dit irriteer, draai die oester die sand in lae skoonheid toe totdat ‘n pêrel gevorm word. ‘n Onbekende digter het geskryf: ‘This tale has a moral, for isn’t it grand, what an oyster can do with a morsel of sand? What couldn’t I do if I’d only begin, with all of the things that get under my skin?’ God is aan die werk in dit wat jy vandag deurmaak – ten goede van jou en vir sy verheerliking. Jy moet Hom net vertrou.
Sielskos: Eks 20:12; Ef 6:1-3; Matt 15:1-9; Joh 19:25-27
2019-05-04
Matteus 24:44 NLV
Jesus het gewaarsku: ‘Daar sal ook talle vals profete verskyn en hulle sal baie mense op ‘n dwaalspoor bring’ (vers 11 NLV). In ons generasie was daar al baie hoë profiel predikers wat datums vir Christus se tweede koms voorspel het en waaroor die pers berig het. Jesus kóm egter weer! In die Skrif word daar meer as 300 keer daarna verwys. Charles Swindoll sê: ‘Kritici het dit ontken. Sinici het dit bespot. Geleerdes het dit geïgnoreer. Fanatici het dit verdraai. Ander het sarkasties gevra: ‘…Nou maar wat het van daardie belofte geword?..’ (2 Petrus 3:4 NLV). Jesus se terugkoms is nog altyd aangeval, misbruik en ontken. Dit staan egter steeds, stewig soos ‘n rots en bied ware hoop te midde van ongeloof en wanhoop. Jy vra: ‘Wat moet ek doen terwyl ek wag?’ Verstaan eerstens wat jy níe moet doen nie. Moenie sit en wag vir ‘n trompetgeskal en ‘n wegrapingswolk nie. Moenie jou werk bedank en moenie ‘n datum vasstel nie. Neem eerder die tyd om jou sake agtermekaar te kry. Lewe elke dag asof dit jou laaste is, maar werk asof Jesus eers oor tien jaar sal terugkeer. Skud jou sout en skyn jou lig waar jy ookal gaan (sien Matteus 5:13-16). Bly gebalanseerd, vrolik, innemend, toegewyd en stabiel, terwyl jy vir die dag van sy terugkoms wag. As jy nie seker is of jy gereed is nie, kry dadelik jou kaartjie. Solank as wat die kaartjies beskikbaar is, is hulle verniet. As jy egter wys is, sal jy nie wag nie! ‘n Kaartjie is niks werd wanneer die gebeurtenis verby is nie!’ Aanvaar Jesus vandag as jou Redder en wees gereed wanneer Hy terugkeer.
Sielskos: Num 27-29; Mark 4:26-41; Ps 44:1-8; Spr 11:9
2019-05-03
Lukas 12:15 NLV
In Jules Verne se boek, The Mysterious Island, ontsnap vyf mans uit die tronk deur ‘n warmlugballon te kaap. Hulle kom vinnig agter dat die wind besig is om hulle oor die see uit te dra. Hulle sien hoe die horison kleiner word en besef dat hulle hoogte begin verloor. Omdat hulle geen manier het om die lug in die ballon warm te maak nie, begin hulle van hulle ekstra gewig oorboord gooi. Skoene, jasse en wapens word onwillig oorboord gegooi en hulle juig wanneer die lugballon weer begin styg. Binnekort is hulle weer gevaarlik naby aan die golwe en begin hulle om hulle kos oorboord te gooi. ‘n Derde keer begin die lugballon daal en hierdie keer stel een van die mans voor dat hulle die toue wat die mandjie aan die ballon vasmaak aanmekaar vasknoop en dan die mandjie moet lossny, sodat hulle op die toue sit. Die mandjie val weg en hulle begin weer styg. Skielik sien hulle land. Met nie ‘n sekonde om te spaar nie, spring hulle in die water en begin na die eiland toe te swem. Hulle lewens is gered omdat hulle geleer het waarsonder hulle kon lewe. Hoekom het Jesus gesê: ‘…Ware lewe word nie gemeet aan hoeveel ons besit nie’? Omdat dit wat jy dink ‘n seëning is, op die ou einde in ‘n las kan verander. Dit waarna jy vandag strewe, kan môre ‘n bekommernis word. Jesus het gesê: ‘…Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (Matteus 6:32-33 NLV).
Sielskos: Num 25-26; Mark 4:13-25; Ps 37:32-40; Spr 11:7-8
2019-05-02
1 Konings 19:11 NLV
Toe Elia sy laagste punt bereik het, het God vir hom twee dinge gesê: 1) ‘Kom buitekant toe en gaan staan voor My op die berg.’ Hy het Elia gehelp om op te hou om oor homself en sy probleme te dink en te begin dink aan God. Wanneer God jou oor het, kan Hy daarin praat. Wanneer Hy jou hart het, kan Hy dit bedien. Dis hoekom Skriflesing so belangrik is. As die lewe jou aftrek en jy gereed is om weer op te staan, staan op God se Woord, eis sy beloftes op, vra vir sy hulp en praat met Hom. 2) ‘Jy moet ook Elisa… salf om jou as my profeet op te volg’ (vers 16 NLV). Neem die fokus van jouself af en soek iemand om te bedien. Jy is nie die enigste een in die wêreld wat probleme het nie; daar is mense wat dit erger as jy het. Hulle het iemand soos jy nodig om saam met hulle te stap en hulle te laat weet dat jy begrip het vir hoe hulle voel. Hulle het iemand soos jy nodig om hulle te bemoedig. As jy wil hê dat die mis van depressie moet lig, moet jy ophou in die spieël kyk en by die venster begin uitkyk. Daar is vir die beroemde psigiater, Karl Menninger gevra: ‘Watse raad sal jy vir iemand gee wat depressie en ongelukkigheid ervaar?’ Hy het geantwoord: ‘Sluit die deur agter jou. Stap na die oorkant van die straat toe. Kry iemand wat ‘n behoefte het en doen iets om hulle te help.’ Dis so eenvoudig en tog hou ons aan om dit mis te loop! Die waarheid is dat jy jouself help wanneer jy ander mense help.
Sielskos: Num 22-24; Mark 4:1-12; Ps 37:25-31; Spr 11:5-6
2019-05-01
Miga 7:8 NLV
Ons almal word van tyd tot tyd neerslagtig. Dit kan op die hakke van ‘n groot sukses of oorwinning gebeur. Beraders sê dat daar vir elke hoogtepunt ‘n ooreenkomstige laagtepunt is. Soms word dit veroorsaak wanneer mense ons teleurstel; iemand wat ons vertrou het het ons in die steek gelaat en ons ervaar woede en verwyt. Wanneer ons ons werk verloor, verloor ons nie net ons finansiële sekuriteit nie; soms verloor ons ook ons identiteit en sin van waarde. Die oorsaak van ons neerslagtigheid is dikwels fisies. Wanneer ons nie genoeg rus, ordentlike kos en oefening kry nie, raak ons afgemat. Soms is die oorsaak chemies van aard. Wanneer die brein se chemiese boodskappers, genaamd neurotransmitters, gesond is, is ons ook gesond. Wanneer sommige van daardie transmitters, soos serotonien en dopamien egter afwesig, laag of ongebalanseerd is, sukkel ons en voel uitgeput. In hierdie geval mag medikasie nodig wees om die chemiese wanbalans te korrigeer. Die oorsaak kan ook geestelik wees. Jesus het gesê dat Satan kom om ‘…te steel, dood te maak en te vernietig…’ (Johannes 10:10 NLV). Dis hoekom die Bybel sê: ‘…Vind julle krag in julle verhouding met die Here… Om staande te bly teen die listigheid van die duiwel moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen… die bose geeste in die hemelruimtes’ (Efesiërs 6:10-12 NLV). Dikwels is geestelike oorlogvoering die wortel van ons probleme, of dit vererger ons probleme. Maak dus elke môre wanneer jy opstaan seker dat jy jou geestelike gevegstoerustig aantrek en dat jy jou krag in jou verhouding met die Here deurgaans deur die dag kry. Dis hoe jy weer opstaan.
Sielskos: Num 19-21; Mark 3:20-35; Ps 37:16-24; Spr 11:4