Jesus kom weer!
2019-05-04Matteus 24:44 NLV
Jesus het gewaarsku: ‘Daar sal ook talle vals profete verskyn en hulle sal baie mense op ‘n dwaalspoor bring’ (vers 11 NLV). In ons generasie was daar al baie hoë profiel predikers wat datums vir Christus se tweede koms voorspel het en waaroor die pers berig het. Jesus kóm egter weer! In die Skrif word daar meer as 300 keer daarna verwys. Charles Swindoll sê: ‘Kritici het dit ontken. Sinici het dit bespot. Geleerdes het dit geïgnoreer. Fanatici het dit verdraai. Ander het sarkasties gevra: ‘…Nou maar wat het van daardie belofte geword?..’ (2 Petrus 3:4 NLV). Jesus se terugkoms is nog altyd aangeval, misbruik en ontken. Dit staan egter steeds, stewig soos ‘n rots en bied ware hoop te midde van ongeloof en wanhoop. Jy vra: ‘Wat moet ek doen terwyl ek wag?’ Verstaan eerstens wat jy níe moet doen nie. Moenie sit en wag vir ‘n trompetgeskal en ‘n wegrapingswolk nie. Moenie jou werk bedank en moenie ‘n datum vasstel nie. Neem eerder die tyd om jou sake agtermekaar te kry. Lewe elke dag asof dit jou laaste is, maar werk asof Jesus eers oor tien jaar sal terugkeer. Skud jou sout en skyn jou lig waar jy ookal gaan (sien Matteus 5:13-16). Bly gebalanseerd, vrolik, innemend, toegewyd en stabiel, terwyl jy vir die dag van sy terugkoms wag. As jy nie seker is of jy gereed is nie, kry dadelik jou kaartjie. Solank as wat die kaartjies beskikbaar is, is hulle verniet. As jy egter wys is, sal jy nie wag nie! ‘n Kaartjie is niks werd wanneer die gebeurtenis verby is nie!’ Aanvaar Jesus vandag as jou Redder en wees gereed wanneer Hy terugkeer.
Sielskos: Num 27-29; Mark 4:26-41; Ps 44:1-8; Spr 11:9