2019-05-13
Lukas 19:3 NLV
Die Bybel sê: ‘…Saggeus… was ‘n hooftollenaar en ‘n ryk man. Hy het sy bes probeer om te sien wie Jesus is… Hy het vooruit gehardloop… en in ‘n vyeboom geklim om Jesus te sien omdat Hy daar sou verbygaan’ (verse 2-4 NLV). Die verhaal van Saggeus leer ons dat ryk mense net so beskadig soos arm mense kan wees. Hoe sommige van hulle beskadig is, is in die verhaal van hoe hulle ryk geword het. Wanneer jy jou gewete skend, is dit moeilik om in jou eie vel te lewe. Wanneer jy jou kernwaardes vir geld verruil, kan jou sukses hol en jou skuld swaar wees. Saggeus het hiermee gesukkel: ‘…Here… as ek iets van iemand met ‘n slenter bekom het, gee ek dit vierdubbel terug’ (vers 8 NLV). As dit is hoe jy vandag voel, sê Jesus vir jou die drie dinge wat Hy vir Saggeus gesê het: 1) ‘Maak gou!’ Moenie jou redding ‘n dag langer uitstel nie. Op enige gegewe oomblik is jy so naby aan die ewigheid soos ‘n foutiewe hartklop of ‘n kwaadaardige sel. Moenie met jou siel dobbel nie; maak reg met God terwyl jy nog kan. 2) ‘Klim dadelik af.’ Word nederig. Kniel by die voete van die Een wat jou liefhet en wat sy lewe gegee het om jou te verlos. Dit maak nie saak hoe erg jy misluk het nie: ‘As ons egter ons sondes bely, is Hy betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV). 3) ‘Want Ek moet vandag by jou kom oorbly’ (Lukas 19:5 DB). Weier om nog een dag sonder die versekering dat Christus in jou hart woon, jou treë rig en oor alles van jou waak, te leef.
Sielskos: Heb 5-8; Mark 6:30-44; Ps 18:30-50; Spr 11:22
2019-05-12
Johannes 4:4 NLV
Hoekom sê die Bybel dat Jesus deur Samaria moes reis? Omdat Hy ‘n beskadigde vrou moes verlos en die evangelie vir die eerste keer aan Samaria moes bekendstel. Dink aan die situasie waarin Jesus Hom bevind het: dit was baie warm, die reis was lank en Hy was te voet op reis. Hy het geweet dat Hy as gevolg van ‘n langdurige vyandskap tussen die Jode en die Samaritane nie welkom daar sou wees nie. In daardie dae het vrouens ‘n sluier oor hulle gesigte gedra en was hulle verbied om met mans buite hulle eie familie te praat. Hierdie vrou was reeds die onderwerp van skinderstories, omdat sy al vyf keer geskei was. Hoekom het Jesus dus gevoel dat Hy deur Samaria moet reis? Omdat Hy verby haar probleem gekyk het en haar potensiaal vir sy koninkryk gesien het. Die Bybel sê: ‘Uit daardie dorp het baie van die Samaritane in Jesus begin glo op grond van die woorde van die vrou wat met oortuiging kom vertel het…’ (vers 39 NLV). Daar is ‘n belangrike les hieruit te leer. Die skedule beheer Jesus nie; die wil van God en die behoeftes van mense wat seer het doen. Hy was gewillig om uit sy pad te gaan, tradisie op sy kop te keer en nuwe voorbeelde daar te stel om dit te doen. Let op wat Jesus na die tyd vir sy dissipels gesê het: ‘Sê julle dan nie: ‘Daar is nog vier maande voor die oes’ nie? Ek sê nou vir julle, kyk na die landerye; hulle vertoon reeds wit van die oes. Dié wat die oes insamel, ontvang vergoeding: Die vrug wat hulle insamel, is mense wat die ewige lewe beërf. Op só ‘n manier is hulle wat saai en hulle wat die oes insamel, saam bly’ (vers 35-36 NLV).
Sielskos: Eks 20:13; Gen 4:1-15; Matt 5:21-22
2019-05-10
Galasiërs 6:1 NLV
Ons is vinnig om ander mense te kritiseer oor die manier waarop hulle deur die lewe gaan. In sommige gevalle is dit as gevolg van dit wat hulle aan ander gedoen het en in ander gevalle is dit as gevolg van dit wat ander aan hulle gedoen het. As jy al ooit in ‘n kettingwinkel was, weet jy dat daar kwaliteit items teen afslag beskikbaar is; jy moet net weet waarvoor om uit te kyk. Jesus weet waarna om uit te kyk. Petrus se hartseer omdat hy Jesus verloën het, was so diep dat hy besluit het om na sy ou werk as visserman terug te keer. Kan jy jou die chaos by die hawe indink? ‘Dis hy, die ou wat sy rug op Jesus gekeer het.’ Petrus het uiteindelik die leier van die Nuwe Testamentiese kerk geword. Wees egter eerlik. Sou jy vir hom as jou pastoor gestem het, of gewillig gewees het om te luister na wat hy te sê gehad het? Tog was Petrus die eerste mens wat Jesus gesoek het nadat Hy uit die dood uit opgestaan het. Hoekom? Omdat Hy verby ons onmiddellike probleem kyk en ons langtermyn potensiaal raaksien. Jesus het die woorde wat Hy tot Petrus gespreek het onthou: ‘…Let op, die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif, maar ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges gaan ondersteun’ (Lukas 22:31-32 NLV). Die grondbeginsel van die praktiserende medisyne is om geen skade te doen nie. Wanneer iemand verniel is, moet hulle nie verder verniel nie. Wees lief vir hulle, bid vir hulle en probeer om hulle te herstel.
Sielskos: Titus 1-3; Mark 6:1-13; Ps 150; Spr 11:16-18
2019-05-09
Romeine 12:6 NLV
Verskillende mense kan verskillende dinge van ons verwag. Daardie verwagtinge kan egter soos ‘n berg opbou en jou begrawe. Is dit hoe jy vandag voel? As dit die geval is, lees hierdie Skrifgedeelte: ‘Namens Hom… sê ek aan elkeen van julle dat jy nie jouself moet oorskat nie, maar dat jy jouself nugter moet beoordeel volgens die geestelike toerusting wat God aan jou toebedeel het. Ons besit elkeen een liggaam wat uit baie ledemate bestaan en wat elkeen sy eie spesiale funksie het. Net so is dit ook met Christus se liggaam…’ (verse 3-5 NLV). Ons wil almal hê dat mense met ons tevrede moet wees, maar ons moet ook besef dat hulle dikwels onrealistiese en selfsugtige verwagtinge het. Hoekom sê ons dus nie nee nie? 1) Vrees vir mense. Ons wil geliefd wees en is bang om verwerp te word. 2) Trots. Moenie toelaat dat trots veroorsaak dat jy meer aanpak as wat jy kan hanteer om sodoende mense se aanvaarding te kry nie. 3) Omdat jy nie God se wil vir jou ken nie. Jesus het gesê: ‘Ek is nie daartoe in staat om enigiets uit My eie te doen nie… omdat dit nie my wil is wat Ek najaag nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het’ (Johannes 5:30 NLV). Jy moet God se wil ken en daaraan verbind wees, of anders sal ander mense hulle eie wil en agenda op jou wil afsmeer. 4) Omdat jy soos iemand anders probeer wees. ‘Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik…’ (Romeine 12:6 NLV). Tensy God jou die genade gegee het om dit te doen, sal jy misluk of onder die gewig daarvan ineenstort. Jy is nie geroepe om aan almal se verwagtinge te voldoen nie.
Sielskos: Jona 1-4; Mark 5:31-43; Ps 62; Spr 11:15
2019-05-08
Galasiërs 3:28 NLV
As jy jouself tot mense wat presies soos jy dink beperk, sal jy nooit persoonlik groei of dit wat God vir jou in gedagte het, bereik nie. Jy het mense nodig wat 20/20 visie het waar jy blindekolle het. Die manier om jou swak areas te versterk is om saam met mense te werk wat sterk in daardie areas is. In plaas van om opsoek te wees na mense wat jou opinies deel, het jy iemand nodig wat jou lief genoeg het om jou opinies van tyd tot tyd uit te daag. Hoekom? Omdat jy nog baie moet groei en leer! Dink aan die mense wat Jesus gekies het. Lukas was ‘n dokter en Petrus en Johannes was vissermanne. Jesus het hulle almal nodig gehad om sy missie te bereik. Hy het geweet dat ons mense nodig het wat ons komplementeer, nie wat ons dupliseer nie. Daar word geskat dat indien jy so geniaal soos Einstein was, sou jy steeds minder as een persent van alle kennis besit het. As jy hiper-talentvol was, sou jy minder as een persent van alles wat bereik kan word, bereik het. Ja, ons het harmonie nodig. Daar is egter ‘n verskil tussen harmonie wat uit twee of meer verskillende note wat saamsmelt ontstaan en ‘n eenklank van dieselfde noot wat op dieselfde tyd gespeel word. Harmonieë is baie sagter op die oor as ‘n eenklank. Jou verhoudings moet dus harmonieus wees sonder om eenstemmig te wees. Dink daaroor: Jy is uniek en heeltemal anders as enigiemand anders. As jy dus wil hê dat ander mense jou moet liefhê en aanvaar, moet jy begin deur hulle lief te hê en te aanvaar. Die grootste wysheid word in diversiteit, nie in konformiteit nie, gevind.
Sielskos: Num 34-36; Mark 5:21-30; Ps 57; Spr 11:14
2019-05-07
Genesis 21:18 NLV
Wanneer jy die verhaal van Hagar en haar seun Ismael lees, besef jy hoe baie God vir enkelouers omgee. Alhoewel Abraham Ismael se vader was, het hy die seun en sy ma weggestuur: ‘…Hy het padkos voorberei en ‘n velsak met water oor Hagar se skouers gehang. Toe stuur hy haar en hulle seun weg. Sy het doelloos in die wildernis van Berseba rondgedwaal’ (vers 14 NLV). Op baie maniere is Hagar tiperend van diegene wat deur die wildernis van foute uit die verlede, skaamte, verlating en die vrees om oor te begin, ronddwaal. Die Bybel vertel vir ons dat toe ‘…die water op was, het sy die seun in die koelte van ‘n bos gelos. Sy self het ‘n entjie daarvandaan gaan sit. ‘Ek wil nie sien hoe my seun sterf nie,’ het sy in trane gesê’ (verse 15-16 NLV). As ‘n enkelouer mag jy dalk moeg en eensaam wees. Menslik gesproke het jy die beste gedoen met wat jy het, maar jy het niks meer oor om te gee nie. Die goeie nuus is dat God se hulpbronne onuitputlik is: ‘Hy gee krag aan dié wat moeg is. Hy maak die magteloses sterk’ (Jesaja 40:29 NLV). ‘Maar God het die hulpgeroep van die seun gehoor. Toe roep die engel van God vir Hagar uit die hemel: …’Gaan na hom toe en vertroos hom, want Ek gaan sy nageslag ‘n groot nasie maak.’ Toe maak God Hagar se oë oop en sy sien ‘n put met water…’ (Genesis 21:17-19). God het jou kind nog liewer as wat jy hom het en wanneer jy na Hom toe draai, sal Hy jou ‘n ‘put water’ laat sien wat jy nooit geweet het bestaan nie. Hy het planne vir jou kinders. Die God wat Hagar se kind gered het, kan dieselfde vir joune doen!
Sielskos: Num 32:25-33:56; Mark 5:11-20; Ps 44:17-26; Spr 11:12-13