2019-05-19
Jeremia 29:11 NLV
Hier is nog drie stappe van hulp wat jy kan neem: 1) Moedig aksie aan. Soms funksioneer ons té goed in krisisse en maak die persoon wat hulp nodig het afhanklik van ons en ondermyn hulle selfstandigheid. ‘n Psigiater sê: ‘Ons moet vir ander doen wat hulle nie vir hulself kan doen nie, maar ons moet nie vir hulle doen wat hulle nie vir hulself wil doen nie.’ Mense word teen wanhoop en hulpeloosheid bewapen wanneer hulle proaktief in ‘n krisis word. Moedig hanteerbare stappe wat emosionele en geestelike spiere bou, aan. Wanneer jy hulle aksies help evalueer en hulle pogings bekragtig, bou dit hulle selfvertroue weer op. Wanneer die krisis onomkeerbare verliese insluit (soos die dood of ‘n skeisaak), is die werk om deur een dag op ‘n slag te kom en geleidelik by die veranderinge aan te pas, genoeg aksie. 2) Gee hoop. Dikwels lyk dit of daar geen lig aan die einde van die tonnel is nie en voel dit of die lyding nooit gaan ophou nie. Wat mense op daardie stadium nodig het, is hoop. Hoop bring verligting, gebaseer op die oortuiging dat dinge sal verbeter en verskaf energie om die krisis te hanteer. Die Bybel is ‘n boek van hoop. Dit gee ons energie wanneer ons voel dat dit die ergste ding is wat nog ooit gebeur het en dat die omstandighede nooit gaan verbeter nie. 3) Volg op. Krisisse word selde dadelik opgelos. Die lewe kan dalk gou weer na normaal terugkeer, maar daar sal nog gereeld episodes van hartseer, hulpeloosheid of eensaamheid plaasvind. Jou woorde mag dalk troos en hoop meebring, maar dis jou blywende belangstelling wat mense help om hulle geloof en vooruitgang te handhaaf!
Sielskos: Eks 20:14; Spr 6:23-35; Matt 5:27-28; Joh 8:1-11
2019-05-18
2 Korintiërs 1:4 DB
In ‘n krisis sien mense dikwels nie die hulpbronne wat God aan hulle beskikbaar gestel het raak nie. Hier is drie tipes: 1) Geestelike hulpbronne. ‘God is ons toevlug en ons krag; in nood is Hy gereed om te help’ (Psalm 46:2 NLV). God verlig ons donkerte en verwarring. Sy liefde is die bron van alle bemoediging (sien 2 Korintiërs 1:3). Sy teenwoordigheid spreek ons eensaamheid en sy krag ons hulpeloosheid aan. 2) Persoonlike hulpbronne. Mense in krisis vergeet dikwels dat God hulle kragte en vermoëns gegee het wat geloof, vaardighede, herinneringe van oorwinnings in die verlede, bemagtigende houdings en aansporings insluit. Deur hulle daaraan te herinner, moedig jy hulle aan om hulle mag terug te neem. 3) Interpersoonlike hulpbronne. Die meeste mense het reeds ondersteuningstelsels; hulle moet net geaktiveer word. Daar is familielede, vriende, besigheidsvennote en bure wat gewillig is om bystand te verleen wanneer hulle gevra word. Die kerk kan ook maniere vind om die belangrikste gebod in krisistye toe te pas (sien Matteus 22:36-39). Lidmate kan uitgenooi word om te bid, geld te gee, of om praktiese bystand soos om etes te voorsien, met die kinders uit te help, te help met vervoer, ens te verleen. Mense is huiwerig om hulp te vra omdat hulle skaam is en voel dat hulle hul eie probleme moet oplos, of omdat hulle dink hulle misluk wanneer hulle bystand aanvaar. Help hulle om te verstaan dat mense graag wil help en dat hulle eendag die seëning kan terugbetaal.
Sielskos: 1 Kon 6-7; Mark 8:1-13; Ps 97; Spr 12:1-3
2019-05-17
Galasiërs 6:2 DB
Jou doel moet wees om mense te help om hulle krisis te hanteer en daardeur te groei. Dit beteken dat jy hulle vlak van vrees moet verlaag en hulle moet help om weer normaal te funksioneer deur: 1) Kontak met hulle te maak. Mense in ‘n krisis neig om te onttrek eerder as om vir hulp te vra. Jy sal dus dalk die eerste skuif moet maak en begrip en opregte belangstelling moet toon. Twee eenvoudige stappe kan ‘n groot verskil maak. Luister aandagtig na hulle bekommernisse en waarnemings en behou oogkontak. Hierdie twee dinge sal hulle laat voel dat hulle waardig is en dat jy verstaan. 2) Hulle te help om hulle angs te verminder. ‘n Kalmerende teenwoordigheid kan hulle stres verlaag. Moedig hulle aan om oor hulle bekommernisse te praat en bied hoop aan. Sê byvoorbeeld: ‘Daar is maniere om hierdie situasie te hanteer.’ Die kans is goed dat die persoon se uitkyk verwronge of oorpessimisties is, stel dus ander perspektiewe voor. Byvoorbeeld: ‘Mag ek ‘n ander manier om hierna te kyk voorstel?’ Gee ook hoop vir die toekoms: ‘Ek besef dat dit moeilik is, maar met God se hulp glo ek dat jy dit sal kan hanteer.’ Gee hulle dan ‘n Bybelse belofte om dit te staaf (sien Jeremia 33:3). 3) Deur op die ware kwessie te fokus. In ‘n krisis voel mense dikwels deur die verwarrende feite, potensiële probleme en noodsaaklike besluite oorweldig. Deur aan hulle bystand te bied oor watter kwessies eerste aangepak moet word en watter probleme eerste opgelos moet word, help jy om hulle nood te verlig. Om op die hede te konsentreer, eerder as om die verlede te bespreek of oor die toekoms te bekommer, kan hulle angs verminder en hulle bemagtig om die situasie beter te hanteer.
Sielskos: 1 Kon 3-5; Mark 7:24-37; Ps 93; Spr 11:30-31
2019-05-16
Romeine 12:8 DB
Jy sê: ‘Dis nie my verantwoordelikheid nie. Ek gaan nie betrokke raak nie!’ Sielkundiges noem dit ‘medelydende onttrekking,’ die geneigdheid om te vermy om iemand in moeilike omstandighede te help. Of jou motief nou ongerief, selfbeskerming of onverskilligheid is, dis verkeerd. Om ‘daar te wees’ is hoe jy jou liefde vir God en jou naaste demonstreer. Om te help beteken dat jy drie soorte krisisse kan herken: 1) Toevallige of omstandigheidskrisisse. Dit is dinge wat ons welstand skielik bedreig, ontwrigtende gebeurtenisse, onverwagte verliese, die ontdekking van ‘n ernstige siekte, die dood van ‘n geliefde, ‘n familie ineenstorting, die verlies van lewensbestaan en sekuriteit. Job het alles hiervan ervaar en gewonder hoekom God toelaat dat so baie slegte dinge met hom gebeur. 2) Ontwikkelingskrisisse. Hierdie gebeur deur die loop van ons alledaagse lewe. Dit is dinge soos om te trek, universiteit toe te gaan, by die getroude lewe aan te pas, ouerskap, aftrede, veroudering, afname in gesondheid en die verlies van vriende. Abraham en Sara het verskeie kere getrek. Hulle het ook jare van kinderloosheid en familiestres verduur, insluitend die uitdaging om Isak te moet offer. 3) Eksistensiële krisisse. Dit is wanneer ons ontstellende waarhede oor onsself in die gesig moet staar. Ons mag onsself dalk as ‘n mislukking sien, daarmee stoei dat ons geskei is, leer dat ons siekte ongeneeslik is, verwerping as gevolg van ons ras, klas, ouderdom, of geslag ervaar, of besef dat ons te oud word om ons lewensdoelwitte te bereik. Ware ‘helpers’ verstaan, raak betrokke en bemoedig. Hulle hou hulle oë oop en is vinnig om ‘mense te help wat in nood verkeer.’
Sielskos: 1 Kon 1-2; Mark 7:14-23; Ps 88:9b-18; Spr 11:27-29
2019-05-15
Psalm 149:6 NLV
Die Christelike lewe is ‘n slagveld met ‘n vyand wat daarop uit is om ons elke dag te verslaan. God het ons egter strategieë gegee om te wen, waarvan lofprysing een is. Wanneer Israel se weermag oorlog gemaak het, het die stam Juda die leiding geneem. Die naam ‘Juda’ beteken ‘loof die Heer.’ Wanneer jy dus die geveg binnegaan, loof God met jou lippe en Hy sal voor jou uitgaan. Dis die ‘lofprysing strategie’ wat die mure van Jerigo vir Josua laat ineentuimel het en veroorsaak het dat Josafat se vyande mekaar vernietig het nog voor die geveg begin het (sien 2 Kronieke 20). Dis ‘n besluit om God te loof wanneer jy voor ‘n situasie te staan kom wat jy nie kan hanteer nie; om op Hom eerder as jou probleem te fokus. Jy mag dalk nie waardig voel nie – maar Hy is! Jy mag dalk nie in staat voel nie – maar Hy is! Herinner God aan sy beloftes. Niks roer Hom meer as die aangesig van sy kinders wat sy Naam loof en sy beloftes opeis nie. Jesus het gesê: ‘Ek vertrou die sleutels van God se koninkryk aan jou toe. Wat jy ook al op aarde toesluit, sal ook by God toegesluit bly, en wat jy ook al oopsluit, sal ook by God oopgesluit bly’ (Matteus 16:19 NLV). Lofprysing nooi God uit om in te tree, gebruik dit dus. Kry ook iemand om by jou in lofprysing aan te sluit (sien Matteus 18:19). Vermenigvuldig jou impak voor die troon van God. Die Bybel sê: ‘Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing… Al die tronkdeure het [skielik] oopgevlieg…’ (Handelinge 16:25-26 NLV). Die woord vir jou vandag is dus: Gebruik die ‘lofprysing strategie!’
Sielskos: Heb 11:17-13:25; Mark 7:1-13; Ps 88:1-9a; Spr 11:24-26
2019-05-14
Lukas 14:18 NLV
Jesus het die verhaal van ‘n man wat ‘n feesmaal beplan het en verskeie gaste uitgenooi het, vertel. Luister na sommige van hulle verskonings hoekom hulle nie die feesmaal kan bywoon nie: ‘Ek het ‘n stuk grond gekoop.’ ‘Ek het ‘n paar osse gekoop.’ ‘Ek is pas getroud.’ Dus het die gasheer gesê: ‘…niemand van hulle wat genooi is, sal selfs die kleinste proeseltjie smaak van wat ek vir hulle voorberei het nie’ (vers 24 NLV). Miskien dink jy dat jy anders is, dat jy ‘n goeie rede het om vir God nee te sê. Is dit egter die moeite werd om daarvoor jou roeping mis te loop? Wanneer God met jou praat, is dit die oomblik van waarheid! Op daardie punt maak jy óf ‘n verbintenis, óf ‘n verskoning. Daar en dan besluit jy jou bestemming! Wat vra God vir jou om te doen? Wat laat jou huiwer? Vrees vir mislukking? Vrees vir kritiek? Vrees word dikwels as ‘n verskoning geklee. Elke keer wat jy weifel of terugtrek, lê jy nog ‘n baksteen in die muur wat jou uiteindelik daarvan gaan weerhou om jou Godgegewe lot te bereik. Die skrywer John Mason sê: ‘Geleentheid gaan dikwels in beraadslaging verlore.’ As God dus vir jou sê om iets te doen, neem sy hand en beweeg in geloof vorentoe. Jy kan nie die rigting van die wind beheer nie, maar met God se genade kan jy jou seile aanpas om jou te neem waarheen jy moet gaan. George Washington Carver het gesê: ‘Nege-en-negentig persent van mislukkings kom van mense wat ‘n gewoonte het om verskonings te maak.’ Onthou, geleentheid is ‘n besoeker: Moenie aanneem dat dit môre gaan terugkom nie. Nou is die tyd om te beweeg – beweeg dus terwyl die deur oop is!
Sielskos: Heb 9:1-11:16; Mark 6:45-56; Ps 75; Spr 11:23