Hou aan om God te vertrou

2019-05-25
Filippense 1:6 NLV

Toe Mark Matousek vir mense vertel het dat ‘n potensiële dodelike siekte sy lewe gered het, kon hulle dit nie verstaan nie. Hy was nie bly dat hy siek geword het nie. Hy sou egter daarsonder nooit die krag ontdek en gebruik het om sommige van sy kernvrese te oorkom nie. Hy skryf: ‘Swaarkry kan die bloed in die spiere wees wat ons voortdryf. Krisis kan ons na die randjie toe neem en ons dwing om aan te hou beweeg. Wanneer mense dit ‘n seëning noem, beskryf hulle ‘n paradoks. Dis hoekom mans dikwels in oorlogstye floreer en vrouens deur kindergeboorte verander word – hulle word lewendig soos nog nooit tevore nie.’ Die waarheid is dat God tot jou geestelike groei verbind is: ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi op die dag wanneer Jesus Christus terugkom.’ Langs die pad sal jy getoets word, soms tot breekpunt toe. ‘n Skrywer sê: ‘Geestelike toetse toets ons geloof en toewyding. Onthou jy vir Abraham en Isak? Niks maak ons trotser as wanneer ons ons kinders sien sukses behaal nie, en God het groot planne vir Isak gehad. Wat kon moontlik verkeerd gaan? Baie! Ons het al in Abraham se sandale gestaan en aan God se beloftes vasgeklou, maar steeds het siekte gebly, finansiële probleme het binnegesluip, vriende het ons verraai en die dood het gewink. Abraham het met vertroue en toewyding gereageer. Dit was nie maklik vir hom nie – ons weet hoe dit sou eindig, maar hy het nie! Tog was hy bereid om sy seun se lewe te neem. God wou nooit Isak se dood gehad het nie. Hy wil egter ons hele hart en toewyding hê.’

Sielskos: 1 Kon 18:16-20:43; Mark 9:38-50; Ps 113; Spr 12:15-17

Die woord vir ‘multitaskers’

2019-05-24
Lukas 10:40 NLV

Een van die grootste gonswoorde van hierdie generasie is ‘multitasking.’ As dit reg gebruik word, kan dit jou meer produktief maak. As jy dit verkeerd gebruik, soos om op jou foon te praat terwyl jy bestuur, kan dit jou doodmaak. Jy sal nie vandag al jou gawes kan geniet as jy nie ‘n gebalanseerde houding teenoor werk het nie. Een dag het Jesus die huis van twee susters, Maria en Marta, besoek. Wat ‘n kontras! Marta was besig en bekommerd, terwyl Maria aan die voete van Jesus gesit het en na Hom geluister het. Sy was vasbeslote om nie ‘n sekonde van hierdie kosbare oomblik mis te loop nie. Jesus het gesê dat Maria ‘n beter keuse as Marta gemaak het. Let wel, Hy het nie vir Marta gesê om nie te werk nie; Hy het vir haar gesê om op te hou om gefrustreerd te wees en ‘n slegte houding te hê terwyl sy werk. Jesus wil hê dat jy hard moet werk, maar Hy wil ook hê dat jy wys genoeg sal wees om te besef wanneer jy alle aktiwiteit moet staak om nie die wonder van sy teenwoordigheid in die oomblik mis te loop nie. Die Bybel sê: ‘Baie aktiwiteite gee jou rustelose drome. Net so kom dwaasheid van te veel woorde’ (Prediker 5:2 NLV). Jy moet met ander woorde jouself oplei om jou volle aandag aan dit te gee waarmee jy op enige gegewe tyd besig is. Maak dit dan klaar voor jy met iets anders begin. Hierdie tipe konsentrasie verg dissipline, maar dis die moeite werd omdat dit jou help om die oomblik te geniet. Wees vasbeslote om nuwe, gebalanseerde gewoontes in hierdie area te vorm. Wanneer jy dit doen, sal jou lewenskwaliteit verbeter.

Sielskos: 1 Kon 16:1-18:15; Mark 9:30-37; Ps 108; Spr 12:14

Elkeen wat jy ontmoet, het potensiaal

2019-05-23
Galasiërs 6:10 NLV

Het jy al gesien hoe ‘n trein na ‘n aangrensende treinspoor skuif om sodoende aan verskeie treinwaens te koppel, voordat hulle verder almal saam as een trein voortbeweeg? As jy mense wil help, moet jy op dieselfde spoor as hulle kom, met hulle skakel en hulle dan help om vorentoe te beweeg. Voordat jy dit kan doen, is daar egter twee reëls wat jy moet nakom: 1) Moet nooit iemand as vanselfsprekend aanvaar nie. Tip O’Neill, die voormalige voorsitter van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers, het vertel dat een van sy bejaarde buurvroue tydens ‘n verkiesing vir hom gesê het: ‘Ek het weer vandag vir jou gestem, selfs al het jy nie vir my gevra om dit te doen nie.’ Verras het O’Neill geantwoord: ‘Maar ek ken jou al my hele lewe, me O’Brien. Ek het jou asblik uitgegooi en jou gras gesny – ek het nie gedink dat ek hoef te vra nie.’ In ‘n moederlike stemtoon het sy geantwoord: ‘Dis altyd lekker om gevra te word!’ 2) Glo dat almal potensiaal het. Moeder Teresa het gesê: ‘Ons hoef nie enigsins buitengewoon te wees nie. Ek kan doen wat jy nie kan doen nie, jy kan doen wat ek nie kan doen nie, en saam kan ons groot dinge doen.’ Jy mag dalk nie in staat wees om almal te help nie, maar jy kan iemand help. Die optrede waarvoor Andreas die bekendste in die Skrif is, is dat hy sy broer Petrus aan Jesus voorgestel het. Petrus het toe baie mense na Jesus toe gelei. In die Nuwe Jerusalem sal jy die name van die apostels bo die twaalf fondamente geskryf sien (sien Openbaring 21:14). Andreas se naam sal daar wees, omdat hy geglo het dat almal die potensiaal het om ‘n verskil te maak, wanneer hulle Jesus ken.

Sielskos: 1 Kon 14-15; Mark 9:14-29; Ps 101; Spr 12:12-13

God sal jou vergewe

2019-05-22
Psalm 130:4 DB

Die Psalmdigter het geskryf: ‘Ek is in groot moeilikheid. Help my asseblief, Here. Moet asseblief nie my probleem miskyk nie. Wys dat U my hulpgeroep hoor. As U die hele tyd mense oor hulle sondes moes verwyt, sou niemand meer kon lewe nie. Gelukkig vergewe U ons sondes. Daarom kyk mense op na U en dien hulle U’ (vers 1-4 DB). God se vergifnis is egter nutteloos, totdat jy dit deur geloof ontvang – en dan jouself vergewe! Jy sê: ‘Maar wat van my verlede?’ Die oomblik wat jy God se vergifnis ontvang, het jy nie meer ‘n verlede nie – jy het net ‘n toekoms. Jy moet egter drie dinge doen: 1) Besef dat almal misluk. Simson het misluk omdat hy te naby aan die verkeerde vrou gekom het (sien Rigters 16). Jona het misluk deur te probeer om van sy roeping af weg te hardloop (sien Jona 1:3). Petrus het misluk toe hy Jesus verloën het (sien Matteus 26:34). Tog het God hulle vergewe en elkeen tot sy verheerliking gebruik. 2) Jy moet jou emosies prosesseer. Spyt: ‘As ek dit maar net nie gedoen het nie.’ Frustrasie: ‘Ek het my beste gedoen. Hoekom was dit nie goed genoeg nie?’ Selfbejammering: ‘Niemand is lief vir my nie so ek gaan net hier sit en my wonde lek.’ Verlamming: ‘Ek het dit te dikwels gedoen. My fout is te groot. Ek sal nooit daaarby verby kom nie.’ Jou emosies jok vir jou – moenie hulle glo nie! 3) Wanneer jy val, staan weer op. ‘Selfs al val ‘n regverdige mens sewe keer, hy sal elke keer weer opstaan…’ (Spreuke 24:16 NLV). Let op – regverdige mense val ook! Is jy gereed om op te staan en weer te probeer? Dan sal God saam met jou werk.

Sielskos: 1 Kon 12-13; Mark 9:1-13; Ps 128; Spr 12:10-11

Herken jou gawes, ken jou doelwit

2019-05-21
1 Samuel 12:21 NLV

Om sukses in die lewe te behaal in dit wat God jou geroep het om te doen, moet jy jou gawes herken en jou doelwit ken. Wanneer jy duidelikheid oor hierdie twee dinge het en jouself daaraan verbind, moet jy twee eienskappe demonstreer: dissipline en vasberadenheid. Fritz Kreisler, een van die grootste violiste van alle tye, het dissipline en vasberadenheid gehad. Skares het Carnegie Hall in New York volgepak om na hom te luister. Die pad na sukses was egter vol stampe en stote. As kind wou hy vreeslik graag viool gespeel het, dus het sy ouers betaal om hom te laat lesse neem. Hy het egter nie so vinnig vordering gemaak soos hulle gehoop het nie en na ‘n paar jaar het hy sy lesse gestaak. Gedurende die volgende paar jare, deur universiteit en vroeë volwassenheid, het hy medies gestudeer, maar versuim om sy mediese graad te behaal. Hy het by die weermag aangesluit, maar geen bevordering behaal nie. Hy het verskeie loopbane nagejaag, almal sonder sukes. Uiteindelik het hy besef dat die een stukkie sukses wat hy in die lewe behaal het, met die viool te doen gehad het. Hy het na sy instruktrise teruggekeer en gesê: ‘Ek wil speel.’ Sy het gesê: ‘Goed, ek sal jou weer as student inneem, maar net as jy die onvervangbare kwaliteit wat nodig is om ‘n groot violis te word, bekom. Jy moet onoorwinbare vasberadenheid toon.’ Hier is weereens jou stappe na sukses: 1) Herken jou gawes. 2) Ken jou doelwit. 3) Wy jou aan die proses toe, maak nie saak hoe lank dit vat nie. 4) Vertrou op God om jou pogings te seën.

Sielskos: 1 Kon 10-11; Mark 8:27-38; Ps 45; Spr 12:7-9

God het ‘n tyd bepaal om jou te bevoordeel

2019-05-20
Psalm 102:14 NLV

Jou hele lewe kan ‘n oefening vir een seisoen, vir een Godgegewe opdrag, vir een roeping wees. Jy mag dalk die aantal jare wat nodig is om jou graad te behaal weet. Jy mag dalk weet hoeveel inspanning en tyd dit sal verg om die toppunt van jou beroep te bereik. God bepaal egter die tyd wanneer jy sy guns sal ervaar. ‘Maar U, Here, sal vir altyd regeer… U sal verskyn en U oor Sion ontferm, want dis tyd om genadig te wees; die bestemde tyd het aangebreek’ (vers 13-14 NLV). Een oomblik van God se guns sal meer as ‘n leeftyd van inspanning vir jou doen. In sy boek, Still Standing: 8 Winning Strategies for Facing Tough Times, skryf dr James Merrit: ‘In ‘n vergadering wat minder as twintig minute geduur het, het die farao Josef oor die hele land aangestel – tweede in bevel en net onder homself! Farao se aksie het Josef van die put na die paleis opgehef. God het ‘n wonderlike verhaal bewerkstellig. Sy manier om Josef by die paleis uit te bring, was deur die put en die tronk. Wat ons so dikwels as struikelblokke sien, is inderwaarheid trappe wat God gebruik om sy plan te bereik en sy doel in ons lewens te vervul.’ Dis jou gehoorsaamheid aan God en jou getrouheid in moeilike tye wat sy guns meebring – in goeie en slegte tye, in rykdom en in armoede, in siekte en in gesondheid. Wees dus getrou en druk deur: God het ‘n tyd bepaal om jou te bevoordeel!

Sielskos: 1 Kon 8-9; Mark 8:14-26; Ps 47; Spr 12:4-6