Is jy sleg behandel?

2019-05-31
Lukas 6:23 DB

Wanneer jy sleg behandel word, vra jouself altyd af: ‘Wat kan ek uit hierdie ervaring leer? Hoe reageer ek op ‘n Christelike manier? Is ek gewillig om my foute te erken? Hoe kan ek wyser word en soortgelyke ervarings in die toekoms beter hanteer?’ Wanneer alles gedoen en gesê is, is die sleutel tot ‘n misverstand vergifnis. Vergifnis beteken nie noodwending dat jy met die persoon wat jou mishandel het saamstem of ‘n nabye verhouding met hom wil hê nie. Dit beteken egter dat jy dit laat gaan. Moenie die handvatsel laat uitsteek wanneer jy die strydbyl begrawe nie! Met ander woorde, moenie net vergewe nie – kies om te vergeet! Paulus sê: ‘Soos ‘n atleet wat sy oë net op die wenpaal hou, so span ek alles in my in: ek wíl die prys aan die einde kry… So behoort volwasse Christene oor dinge te dink… laat ons nie nou die verkeerde pad vat nie. Laat ons op die regte pad bly’ (Filippense 3:14-16 DB). Hoe lyk die Christelike pad wat ons moet stap? Jesus sê vir ons: ‘Julle is gelukkig as ander mense julle haat, julle verstoot en julle sleg behandel. As hulle julle beledig en julle goeie naam onder hulle voete vertrap omdat julle my volgelinge is, moet julle baie bly wees. Spring dan op en dans rond van vreugde, want daar wag ‘n groot beloning op julle in God se nuwe wêreld. Wanneer mense julle slegsê, is julle in baie goeie geselskap: God se boodskappers is nog altyd so behandel’ (Lukas 6:22-23 DB). As jy op hierdie manier lewe, neem jy ook jou mag terug deur te weier dat die ander persoon jou bui en jou lewensuitkyk dikteer, en jy behou jou vreugde.

Sielskos: Op 10-14; Mark 10:35-52; Ps 4; Pro 12:25

Harde werk en integriteit

2019-05-30
Spreuke 12:11 NLV

In sy boek, The Finishing Touch, vertel Chuck Swindoll van ‘n man wat ‘n groot indruk op hom gemaak het: ‘Met ‘n glimlag en ‘n glinster in sy oog, het hy sy hand uitgesteek. Dit was ‘n hand waarop jy ‘n vuurhoutjie kon aansteek, deur dekades se harde werk verhard. ‘Jy lyk soos ‘n man wat die lewe geniet. Wat doen jy vir ‘n lewe?’ het ek gevra. ‘Ek? Wel, ek is ‘n boer in die Midde-Westelike deel van Amerika.’ Swindoll het vir hom gevra: ‘Wat het jy verlede week gedoen?’ Hy het geantwoord: ‘Verlede week het ek negentig duisend gerwe koring klaar geoes.’ Ek het uitgeblaker: ‘Negentig duisend! Hoe oud is jy, my vriend?’ Hy het glad nie beledig deur my vraag gelyk nie. ‘Oor ‘n paar maande word ek negentig.’ Hy het weer gelag terwyl ek my kop geskud het. Hy het deur vier oorloë, die Groot Depressie, sestien presidente, negentig winters en wie weet hoeveel persoonlike swaarkry geleef en steeds ‘n groot lewenslus gehad. Ek moes hom oor die geheim tot sy lang en produktiewe lewe uitvra. ‘Harde werk en integriteit,’ was sy vinnige antwoord. Toe ons mekaar groet, het hy oor sy skouer gekyk en bygevoeg: ‘Moet dit nie stadig vat nie, jongman. Hou dit vol!’ Harde werk en integriteit! Daardie twee kwaliteite loop hand-aan-hand en is die kern van ‘n goeie lewe. Wanneer jy hulle getrou uitoefen, ervaar jy die hoogste vlak van vreugde en lewensvervulling.’ Die Bybel stel dit so: ‘Wie sy grond bewerk, het volop om te eet. Wie met nuttelose dinge besig is, het nie verstand nie.’

Sielskos: Luk 24:50-53; Hand 1:1-11; Ef 4:7-10

‘Keep calm and carry on’

2019-05-29
Handelinge 13:43 NLV

In die dae wat gelei het tot die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog, het die Britse regering opdrag gegee dat ‘n reeks plakkate gedruk moet word. Die idee was om bemoedigende slagspreuke daarop vas te vang en dit deur die land te versprei. Die woorde is in hoofletters gedruk, in ‘n eenvoudige formaat van net twee kleure. Die enigste grafiese element op die plakkaat was koning George VI se kroon. Die eerste plakaat is in September 1939 versprei: YOUR COURAGE. YOUR CHEERFULNESS. YOUR RESOLUTION WILL BRING US VICTORY. Gou daarna is ‘n tweede plakkaat gedruk: FREEDOM IS IN PERIL. DEFEND IT WITH ALL YOUR MIGHT. Hierdie twee plakkate is in treinstasies, kroeë, winkels en restaurante opgeplak. ‘n Derde plakkaat is geskep, maar nooit versprei nie. Meer as 2.5 miljoen kopieë van hierdie derde plakkaat is gedruk maar nooit gesien nie, tot sestig jaar later toe ‘n boekwinkeleienaar een in ‘n boks boeke wat hy op veiling gekoop het, ontdek het. Dit het gelees: KEEP CALM AND CARRY ON. Dit het dieselfde kroon en styl van die eerste twee plakkate uitgebeeld. Dit was nooit aan die publiek bekend gestel nie, maar is vir gevalle van uiterste krisis, soos die inval van Duitsland, gereed gehou. Die boekwinkeleienaar het dit geraam en op die muur gehang. Dit het so populêr geword dat die boekwinkel identiese prente van die oorspronklike ontwerp op koffiekoppies, poskaarte en plakkate begin druk het. Dis dieselfde boodskap wat Paulus en Barnabas vir die eerste Christene in Antiogië gebrink het: ‘…[Hulle het] hulle aangemoedig om op die genade van God te bly vertrou.’ Met ander woorde, ‘keep calm and carry on!’

Sielskos: Op 5-9; Mark 10:23-34; Ps 121; Spr 12:23-24

Leer om tevrede te wees

2019-05-28
Filippense 4:11 ABA

Dis prysenswaardig wanneer jou doel is om persoonlik te groei en dinge in die lewe te bereik. Wanneer jy egter iets begeer wat iemand anders het of net soos hulle wil wees, gaan jy ‘n area wat deur die Skrif verbied word, binne. Tevredenheid beteken nie dat jy selfvoldaan moet word, met middelmatigheid tevrede moet wees of nie jou Godgegewe potensiaal in die lewe moet bereik nie. Glad nie! Jy is veronderstel om te werk om jouself te verbeter, terwyl jy gelyktydig heeltemal afhanklik aan God bly (sien 2 Korintiërs 3:5). Selfgenoegsaamheid beteken dat jy op jouself vertrou, eerder as om jou geloof in God se bystand te plaas. Tevredenheid, aan die ander kant, is om met sekerheid en ‘n vaste oortuiging te weet dat God in staat is om aan elkeen van jou behoeftes te voldoen (sien Filippense 4:19). Wanneer jy hierdie waarheid verstaan, het jy nie nodig om enigiemand anders se posisie, eiendom, besittings of persoonlikheid te begeer nie. Hoekom nie? Omdat jy vir seker weet dat alles wat jy tans het en alles wat jy vandag is, meer as genoeg in die hande van God is. Wat jy ook al moet doen om sy wil te vervul, kan jy doen, nie uit jou eie krag nie, maar deur die krag en mag van Christus wat in jou binneste woon. Hebsug kom natuurlik vir almal van ons, maar tevredenheid moet aangeleer word. Paulus skryf: ‘…Ek het geleer om tevrede te wees met dit wat ek het… Partymaal het ek te min gehad en partymaal het ek baie gehad, en so het ek geleer om tevrede te wees. Partymaal het ek genoeg gehad om te eet en partymaal was ek honger… Christus gee vir my die krag om enige iets te doen’ (Filippense 4:11-13 ABA).

Sielskos: Op 1-4; Mark 10:13-22; Ps 117; Spr 12:20-22

Werk vir eenheid

2019-05-27
Romeine 14:1 NLV

Gedurende die eerste eeu het stede soos Rome mense van baie verskillende kulture, tale, gelowe en gebruike aangetrek. As gevolg daarvan het dit soms gebeur dat die kerk se missie om dissipels van alle nasies te maak, tot konflik gelei het. Sommige gelowiges het byvoorbeeld aangehou om ‘n sewende dag Sabbat te onderhou, terwyl ander wat nie vleis geëet het nie, wou aanhou vegetariërs wees. Dis die rede hoekom Paulus geskryf het: ‘Julle moet medegelowiges met ‘n sensitiewe geloofsbelewing aanvaar sonder om hare te kloof oor hulle oortuigings.’ Let op, hy het nie vir ons gesê om hulle net te verdra nie, maar om hulle te aanvaar – om hulle te verwelkom, te ontvang, te erken en voorsiening te maak vir diegene wat nie presies soos ons is nie. Selfs al is die kwessies waar ons vandag voor te staan kom anders as die kwessies van die vroeë kerk, is dit steeds maklik om verdelend en veroordelend te word. Wanneer regmatige verskille oor fundamentele kwessies egter te voorskyn kom en daar geen ruimte vir onderhandeling is nie, tree op ‘n Christelike manier op sonder om te baklei, te kritiseer of op ander mense neer te kyk. ‘As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer’ (Romeine 12:10 NLV). Leer om jou medegelowiges te respekteer nie as gevolg van wie hulle is nie, maar as gevolg van wie s’n hulle is! Paulus skryf: ‘Mag God, wat die bron is van standvastigheid en bemoediging, julle help om in volkome harmonie met mekaar te lewe… Dan sal julle almal in ‘n wonderlike eenheid van gees en uit een mond die lof toebring aan God…’ (Romeine 15:5-6 NLV).

Sielskos: 1 Kon 21-22; Mark 10:1-12; Ps 82; Spr 12:18-19

Alles wat jy nodig het, is in God se Woord

2019-05-26
Johannes 8:36 NLV

Soms sê ons vir nuwe gelowiges dat hulle hulle lewens moet regkry, maar ons sê nie vir hulle hoe om dit te doen nie! Jesus het gesê: ‘As die Seun julle dus bevry, sal julle regtig vry wees.’ Paulus skryf: ‘…Laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word. Dan sal julle glad nie aan die begeertes van julle sondige geaardheid toegee nie’ (Galasiërs 5:16 NLV). Blywende verandering kom van binne. Jou grootste stryd sal altyd in die area van jou denke en impulse wees. As Satan jou aandag van God se Woord na die vleeslike ryk kan aftrek, kan hy jou elke keer na sonde en nederlae toe lei. God se Woord is die taal van God se Gees. Dit beteken dat wanneer jy dit lees en op die beginsels daarvan mediteer, laat jy die Heilige Gees toe om met jou te praat en kan jy gevolglik jou vlees onder beheer hou. Wanneer jy egter by jou sondige gedagtes stilstaan, tree jy in die Vyand se taal op en laat jy hom toe om jou te beheer. Gaan dus vandag terug na God se Woord toe. Dis die swaard van die Gees en die enigste wapen wat skerp genoeg is om jou van sonde los te sny. Petrus sê: ‘Deurdat ons Hom regtig ken, het sy Goddelike krag ons alles laat kry wat ons nodig het om naby aan Hom te lewe… Deur hierdie selfde krag het Hy sy kosbaarste en allergrootste beloftes vir ons laat waar word. Die gevolg hiervan is dat julle deel gekry het aan sy Goddelike natuur. Só het julle vrygekom van die proses van agteruitgang wat, as gevolg van die geneigdheid van ons menslike natuur, oral alles en almal laat sleg word’ (2 Petrus 1:3-4 NLV). Alles wat jy nodig het is in God se Woord.

Sielskos: Eks 20:15; Eks 22:1-4; Spr 6:30-31; Luk 19:1-10