2019-06-06
Matteus 18:3 NLV
Matteus skryf: “In daardie tyd het die dissipels na Jesus toe gekom met die vraag: ‘Wie van ons sal die belangrikste wees in God se koninkryk?’ Jesus roep toe ‘n klein kindjie nader en laat dié tussen hulle staan. Toe sê Hy: ‘As julle nie met ander oë na die lewe begin kyk en soos die kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van God ingaan nie. Daarom is elkeen wat so nederig soos hierdie kindjie word die belangrikste in God se koninkryk'” (verse 1-4 NLV). Om groot dinge vir God te doen, moet jy Hom met ‘n kinderlike houding benader. Jy kan baie leer deur klein kindertjies dop te hou. Maak nie saak waar hulle is nie, hulle vind ‘n manier om dit waarmee hulle ook al besig is, te geniet. Hulle vergewe vinnig ‘n oortreding. Die een oomblik baklei hulle oor iets, die volgende oomblik speel hulle lekker saam. Hulle vertrou ook maklik. Jou kinders bekommer hulle nie oor banklenings, etes of begrotings nie, omdat hulle jou onvoorwaardelik vertrou om aan al hulle behoeftes te voldoen. Wat het Jesus ons hierdeur geleer? a) Om eenvoudige geloof te hê. b) Om eenvoudige gebede te bid. c) Om vinnig te bekeer. d) om gereeld na God se hulp uit te reik. e) Om te glo dat jou hemelse Vader goed is en dat Hy ‘…die goeie nie [sal] weerhou van hulle wat doen wat reg is nie’ (Psalm 84:12 NLV). Ook, wanneer jy kinders vergewe, hardloop hulle nie rond en voel skuldig en veroordeeld nie. Met hierdie tipe eenvoud in jou verhouding met God, sal jy vind dat jy geestelik groei en Hom nog meer as ooit tevore geniet. Dit behoort jou doelwit te wees.
Sielskos: 2 Kon 7-9; Mark 12:13-27; Ps 132:1-10; Spr 13:4-6
2019-06-05
Eksodus 28:3 DB
God het vir Moses gesê: ‘Laat maak vir Aäron waardige en mooi klere wat hom van die ander kan onderskei. Jy moet mense gebruik aan wie Ek uitsonderlike talente gegee het om die klere vir Aäron en sy seuns te maak (verse 2-3 DB). God het vir ons kunstige talente gegee. Wanneer ons hierdie talente gebruik, verheerlik ons Hom. ‘Waardige en mooi klere’ het kreatiwiteit nodig. Hou op om die geestelike van die sekulêre te skei! ‘Verder, doen alles – of dit nou met woorde of dade is – asof julle dit namens die Here Jesus doen…’ (Kolossense 3:17 NLV). Hoe word jy kreatief? 1) Deur te erken dat God jou gemaak het om kreatief te wees. 2) Deur Hom te vra om jou areas van talent en kreatiwiteit aan jou te openbaar. 3) Deur kreatiewe idees te waardeer. Maak nie saak wat jy tans doen, of hoe goed jy dit doen nie, ‘n kreatiewe idee sal jou in staat stel om dit nog beter te doen. Kreatiwiteit beteken dat jy sien wat almal anders gesien het, dink wat niemand anders gedink het nie, sodat jy kan doen wat niemand anders al gedoen het nie. Soms lê kreatiewe denke in lyn met innovasie, waar jy nuwe grond breek. Ander kere beweeg dit langs innovasie, wat jou help om ou dinge op ‘n nuwe manier te doen. In elke geval, is dit om die wêreld deur nuwe oë te sien sodat nuwe oplossings gevind word. ‘Op die sewende dag was alles klaar. Al God se werk was afgehandel….’ (Genesis 2:2 DB). Let wel, kreatiweit het werk nodig, dis hoekom baie mense geneig is om dit te vermy. As jy egter gewillig is om daaraan te werk om kreatief te wees, sal God jou gebruik om groot dinge te doen.
Sielskos: 2 Kon 4:18-6:33; Mark 12:1-12; Ps 48; Spr 13:2-3
2019-06-04
Genesis 1:28 NLV
Jou hemelse Vader het die aarde geskep – en jy is na sy beeld geskape. Dit beteken dat jy gemaak is om kreatief te dink. God het sy kreatiewe werk in ses dae voltooi, toe het ons werk begin. God het inderwaarheid gesê: ‘Ek het jou van al die hulpbronne en talente voorsien wat jy nodig het om ‘n oorvloedige lewe te hê. Doen nou iets goeds daarmee.’ Ons gebruik die skape wat Hy gemaak het se wol om pragtige materiaal in verskillende kleure te maak. God het nie kaas gemaak nie; Hy het koeie gemaak wat melk verskaf sodat ons kaas daarvan kan maak. Die Bybel beskryf die begin van al hierdie dinge met hierdie woorde: “God het hulle geseën deur te sê: ‘Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde…'” Die woord ‘vermeerder’ beteken dat God wil hê dat jy met meer moet opeindig as waarmee jy begin het. Om dit te doen moet jy egter kreatief begin dink! In plaas daarvan om dit wat jy het net eenvoudig te aanvaar, moet jy dit neem en iets daaruit maak. Wanneer jy dit doen, volg jy in jou hemelse Vader se voetstappe. Soms gooi kerke koue water op enige idee of aktiwiteit wat nie godsdienstig is nie, deur te sê dat dit ‘wêrelds’ is en dat God dus nie daarmee tevrede is nie. Dis soos om te sê dat God slegs binne die vier mure van ‘n kerk werk. Nee: ‘Die aarde behoort aan die Here, met alles wat daarop is, die wêreld en alles wat daarop lewe’ (Psalm 24:1 NLV). Waar jy ook al is, wie jy ook al is, wat jy ook al in die lewe doen, God wil jou kreatiwiteit aan die werk sit sodat jy Hom kan verheerlik en ander mense kan seën.
Sielskos: 2 Kon 1:1-4:17; Mark 11:27-33; Ps 1; Spr 13:1
2019-06-03
Filippense 2:13 NLV
Jy sal slegs goeie idees hê wanneer jy idees waardeer. Andersins sal jy deur die lewe gaan deur op ander mense se idees te teer. Kreatiewe denkers: 1) Verken elke opsie. Deur ‘n verskeidenheid opsies te verken, stimuleer jy jou verbeelding, wat noodsaaklik vir kreatiwiteit is. Albert Einstein het gesê: ‘Verbeelding is belangriker as kennis.’ Hoekom? Omdat verbeelding nuwe maniere soek om jou kennis te gebruik. 2) Gebruik dubbelsinnigheid. Kreatiewe mense het nie die behoefte om onsekerheid uit te skakel nie. Hulle sien allerhande teenstrydighede en gapings in die lewe en geniet dit om daardie gapings te verken of hulle verbeelding te gebruik om dit te vul. Wanneer jy voor ‘n behoefte te staan kom, kan jy óf dink dat daar niks aan gedoen kan word nie, óf jy kan bid en ‘n manier soek om aan daardie behoefte te voldoen (Filippense 4:19). 3) Vier die vreemde. Kingman Brewster, die voormalige president van Yale Universiteit, het gesê: ‘Daar is ‘n korrelasie tussen die kreatiewe en die vreemde vent. Ons moet dus die vreemde vent met liefde verdra.’ Om kreatiwiteit te bevorder, moet ons gewillig wees om oorspronklikheid en vreemdheid te verdra. 4) Is nie bang vir mislukking nie. Die Amerikaanse filosoof Charles Frankel het gesê: ‘Angs is die noodsaaklike toestand vir intellektuele en kunssinnige skepping.’ Kreatiwiteit verg ‘n gewilligheid om simpel te lyk. Kreatiewe mense weet dit, maar hou steeds aan om nuwe idees te soek. Hulle weier om toe te laat dat die idees wat nie werk nie, hulle daarvan weerhou om met die idees wat wel werk, vorendag te kom.
Sielskos: Op 19-22; Mark 11:12-26; Ps 129; Spr 12:27-28
2019-06-02
Genesis 1:27 NLV
Hoekom vier ons die geboorte van ons kinders? Omdat ons, soos God, gehelp het om iets te skep. Die beroemde Amerikaanse voetbalafrigter, Vince Lombardi, het gesê: ‘Vreugde lê daarin om te skep, nie om te onderhou nie.’ Dis ‘n fout om te glo dat God net in ‘geestelike’ dinge en nie in ‘sekulêre’ dinge geïnteresseerd is nie. Ja, jy moet geestelik groei. Jy moet egter ook die gawes wat Hy vir jou gegee het gebruik om sy doel hier op aarde te vervul en ander mense mee te seën. Jy hoef nie ryk te wees of ‘n hoë IK te hê om kreatief te wees nie. Jy kan ‘n kreatiewe haarkapper wees, of ‘n nuwe resep uitdink, of ‘n werksgeleentheid vir gevangenes skep waarmee hulle hul lewens kan herbou. Dis nie net sekulêr nie, dis geestelik! Jy sal oplet dat die kruis twee pale het: vertikaal en horisontaal. Die vertikale paal verteenwoordig jou verhouding met God; wat Hy vir jou wil doen en wat Hy wil hê jy vir Hom moet doen. Die horisontale paal verteenwoordig dit wat Hy ons geroep het om vir mekaar te doen. Jy sê: ‘Maar ek is nie baie kreatief nie.’ Sodra jy jou Godgegewe gawe ontdek het, sal dit jou kreatiwiteit vrystel. Paulus skryf: ‘Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik…’ (Romeine 12:6 NLV). Hou op om jouself sleg te sê omdat jy nie so kreatief is soos jy graag wil wees nie. Kreatiewe denke is nie noodwendig oorspronklike denke nie. Gewoonlik is kreatiewe denke ‘n samestelling van ander mense se denke wat langs die pad ontdek is. Die woord vir jou vandag is dus: Wees kreatief.
Sielskos: Eks 20:16; Deut 19:15-20; Op 21:8
2019-06-01
Filippense 4:5 NLV
Om ‘n gebalanseerde lewe te lei, moet jy volgens hierdie twee Skrifgedeeltes lewe: 1) ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV). 2) ‘Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind’ (vers 8 NLV). Wanneer jy hierdie twee dinge nie doen nie, maak jy die deur vir Satan oop om jou aan te val. Te veel van enige ding, selfs ‘n goeie ding, is ‘n probleem. Werk, byvoorbeeld, is goed. Te veel daarvan kan egter stres veroorsaak, wat tot siekte, wrokkigheid, depressie en die verbreking van verhoudings kan lei. Kos is goed. Te veel daarvan kan egter tot ernstige gesondheidsprobleme lei. Dis goed om georganiseerd te wees. As jy egter ‘n perfeksionis word, kan jy jouself en almal rondom jou mal maak. Enige area in jou lewe wat uit balans is, sal die vreugde wat God wil hê jy moet ervaar, van jou steel. Om ‘n gebalanseerde lewe te onderhou is een van die grootste uitdagings waarvoor jy te staan gaan kom. Moenie tot die uiterstes gaan nie. Pastoor, blink uit in jou bediening, maar moenie jou familie verwaarloos nie. Ouer, moenie net vir jou familie sorg nie, maar geniet ook die familie vir wie jy hard werk. Probeer om altyd op jou beste te lyk, maar moenie obsessief oor jou voorkoms raak nie, omdat dit nie ‘n ware maatstaf van jou waarde is nie. Kyk na jou lewe en vra: ‘In watter areas is ek uit balans?’ Vra God dan om jou te help om weer balans te kry.
Sielskos: Op 15-18; Mark 11:1-11; Ps 124; Spr 12:26