Bid vir ‘wysheid wat van Bo kom’

2019-06-12
Jakobus 3:17 NLV

Sommige mense lyk of hulle op konflik floreer. Hulle is altyd besig om te baklei, te stry, te verskil en probeer om ‘n rusie te begin. Hulle baklei net vir die genot daarvan, nie omdat hulle passievol in ‘n spesifieke saak glo nie. Hulle is vinnig om in te spring en ander mense se gevegte waarin hulle geen aandeel het nie, te veg. Hierdie mense lyk of hulle baie selfvertroue het, maar hulle maak slegte besluite, dus leer ander mense om hulle te ignoreer en hulle nie ernstig op te neem nie. Hulle moet altyd ‘wen’ om sodoende goed oor hulself te voel. Wanneer dit by jou verhoudings met ander mense kom, het jy ‘wysheid wat van Bo kom,’ nodig. Wanneer jy dit het, sal dit nie vir jou nodig wees om aan almal te wys hoe sterk en slim jy is nie. Ware selfvertroue, insluitend vertroue in jou vermoë om goeie besluite te neem, kom van binne af. ‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om deernis te bewys, en het goeie gevolge. Dit diskrimineer nooit en is altyd opreg. Die vredemakers saai saad van vrede; hulle oes omdat hulle reg lewe voor God’ (verse 17-18 NLV). Wanneer jy volgens hierdie Skriftuurlike beginsels optree, sal jy weet of ‘n geveg jou aandag werd is. As jy jou oë op die prys wat God vir jou gestel het hou, sal jy besef dat sekere dinge eenvoudig nie jou tyd en aandag werd is nie. Gevolglik sal jy beter besluite oor jou lewe sowel as jou verhoudings neem.

Sielskos: 2 Kon 21-23; Mark 14:1-11; Ps 73:1-16; Spr 13:17-19

Jou Vader hou jou vas!

2019-06-11
Johannes 10:28 NLV

Op ‘n warm middag in Florida, het ‘n seuntjie wat in ‘n dam agter sy huis geswem het, nie die krokodil wat hom volg gesien nie. Sy pa, wat besig was om in die tuin te werk, het dit gesien en vir sy seuntjie geskree om om te draai, maar dit was te laat! Net toe die seuntjie by sy pa kom, het die krokodil op die seuntjie afgestorm. Die pa het sy arms gegryp en die krokodil het sy bene beetgekry. Die krokodil was vasberade, maar die pa was te passievol om te laat gaan. ‘n Boer wat verby gery het, het die gille gehoor, uit sy bakkie gespring en die krokodil doodgeskiet. Die seuntjie het wonderbaarlik oorleef en na weke in die hospitaal het die plaaslike koerant met hom ‘n onderhoud gevoer. Hy het vir die joernalis die vreeslike littekens aan sy bene gewys en met duidelike trots bygevoeg: ‘Ek het ook groot merke aan my arms, want my pa het my vasgehou en wou my nie laat gaan het nie!’ Jesus het gesê: ‘Ek sal ook die ewige lewe aan hulle gee, en hulle sal so nimmer as te nooit verlore gaan. Niemand sal hulle uit my hand steel nie.’ Dit beteken nie dat die Vyand nie sal probeer nie. Hy sal jou laat dink dat jy so ver van God af is dat daar geen pad huis toe is nie. Hy sal ander stuur om jou met moedeloosheid en skuldgevoelens aan te val. Jy mag dalk selfs slegte besluite neem wat geestelike en emosionele littekens kan laat, maar wanneer jy aan God behoort kan niemand anders jou wegvat nie! Geen omstandighede kan jou van sy liefde skei nie (sien Romeine 8:38). Jou Vader hou jou vas! Laat hierdie kragtige woorde van versekering jou vandag vrede gee.

Sielskos: 2 Kon 18:17-20:21; Mark 13:24-37; Ps 80:12-19; Spr 13:13-16

Jy sal deur die storm kom

2019-06-10
Handelinge 27:20 NLV

Daar is tye wat dit voel of God ontoeganklik is. Wanneer jy in jou huidige omstandighede bid, voel jy verlate. Nie net verlate nie, maar vreesbevange en selfs hopeloos. Paulus het daardie gevoel verstaan. Hy het gesmag na ‘n geleentheid om in Rome te gaan preek en was onderweg daarheen toe ‘n orkaan sy skip vernietig het. Paulus het voorsien dat nie net die skip en die vrag verlore sou gaan nie, maar dat hulle ook hulle lewens sou verloor (sien vers 10). Hy het die bemanning van die dreigende tragedie probeer waarsku, maar sy woorde is deur die mense in beheer verontagsaam. In kort, is Paulus en 276 ander mense in ‘n lewensgevaarlike posisie geplaas en daar was niks wat hy daaraan kon doen nie. Hy en sy gelowige metgeselle het wanhopig gevoel en verklaar, ‘Uiteindelik is alle hoop laat vaar dat ons gered sou word.’ Na veertien dae wat hulle op see verlore was – toe die orkaan op sy ergste gewoed het – het God ‘n engel gestuur. ‘…Hou op bang wees, Paulus… om jou ontwil spaar God almal wat hier saam met jou op die skip is’ (vers 24 NLV). Hulle was koud, nat en honger toe hulle skip uiteindelik op ‘n eiland suid van Italië strand. Elke omstandigheid het op tragedie en die verlies van Paulus se droom om in Rome te gaan preek, gedui. Toe die son egter die volgende oggend oor die eiland van Malta opkom, het dit duidelik geword dat God hulle getrou deur die storm na die presiese bestemming wat Hy vir hulle in gedagte gehad het, gestuur het. Paulus sou na Rome gaan en God se Woord voor Caesar verkondig! Hou dus moed – jy sal deur die storm kom!

Sielskos: 2 Kon 16:1-18:16; Mark 13:12-23; Ps 80:1-11; Spr 13:11-12

Die regte houding teenoor kwaadwilliges

2019-06-09
Psalm 37:3 NLV

Die media bombardeer ons met stories van kwaadwilliges soos pedofiele wat op kinders jag maak of gewetenlose finansiers wat bejaardes misbruik. Net wanneer jy nie dink dat dit erger kan word nie, word dit! Wat staan jou dus te doen? 1) Bel die owerhede en strewe aardse geregtigheid ten volle na. 2) Bid vir hulle. Jesus het gesê: ‘Seën dié wat julle vervloek. Bid vir hulle wat julle seermaak’ (Lukas 6:28 NLV). 3) Besluit om nie soos hulle te wees nie. 4) Besef dat God eendag elke verkeerde daad sal regstel. 5) Behou jou vrede en bly op God gefokus. ‘Moenie jou energie mors om heeltyd oor slegte mense te praat nie… Moenie op hulle jaloers wees nie… Slegte mense sal die een of ander tyd verdwyn. Net mense wat in die Here glo, sal dan oorbly. Die land sal aan hulle behoort. Die Here weet wat in sy kinders se lewe aangaan. Hy help hulle. Hy sorg altyd vir hulle. Wat hulle geërf het, behou hulle vir altyd. Wanneer almal rondom hulle swaarkry, sal hulle genoeg hê om van te leef. As ander honger ly, sal hulle genoeg hê om hulle versadig te eet. Maar die Here se vyande sal in rook en vlamme vergaan. Mense wat sonder God leef, sal tot niet gaan. Mense wat sonder God leef, leen geld by ander, maar betaal dit nooit terug nie. Goeie mense kry ander mense jammer en help hulle. Mense met wie die Here tevrede is, sal eendag alles op die aarde besit… Die Here bepaal wat in die lewe van mense gebeur met wie se optrede Hy tevrede is… As hulle op die grond neerslaan, bly hulle nie lê nie. Die Here kom buk by hulle en tel hulle weer op.’ (Psalm 37:1-24 NLV).

Sielskos: Lev 23:15-22; Hand 2:1-18

Jou vergifnis is gewaarborg

2019-06-08
1 Johannes 1:9 DB

Ten spyte van ons beste voornemens en pogings, voldoen geeneen van ons aan God se vereistes nie (sien Romeine 3:23). Wat is dus die antwoord? ‘Ja-nee, moet my nie verkeerd verstaan nie: as ons wil voorgee dat ons nooit sonde doen nie, slaan ons die bal heeltemal mis. Wie dit sê, praat nie die waarheid nie. As ons egter voor God erken dat ons foute gemaak het en nooit weer dieselfde foute wil maak nie, sal God van sy kant af heeltemal van ons sondes vergeet. Hy sal ons ook geestelik skoon was van alles waarvan Hy nie hou nie. Glo dit maar, want God bly getrou aan sy beloftes en doen wat reg is’ (1 Johannes 1:8-9 DB). God se vergifnis werk as volg: Bewustheid van sonde lei tot oortuiging van sonde, oortuiging van sonde lei tot belydenis van sonde, belydenis van sonde lei tot die reiniging van sonde, en die reiniging van sonde lei tot vrymoedigheid voor God (sien 1 Johannes 3:21-22). Jy sê: ‘Ek voel nie waardig om God se vergifnis te ontvang nie.’ Jy sal dit nooit waardig wees nie! God se vergifnis word nie op jou waardigheid gebaseer nie, maar op Christus s’n! Verder is God nie soos jou ouers nie; Hy dring nie daarop aan dat jy vir ‘n paar dae ongemaklik en ongelukkig moet wees sodat jy jou les leer voor Hy jou vergewe nie. Dit sal beteken dat jy ‘n rol daarin het om sy vergifnis te verdien. Nee, sy vergifnis vind deur genade en slegs deur genade plaas (sien Efesiërs 2:8-9). ‘Genade’ beteken ‘onverdiende guns.’ Wanneer God jou dus vergewe, eer Hom deur jouself te vergewe en aan te beweeg.

Sielskos: 2 Kon 13-15; Mark 13:1-11; Ps 143; Spr 13:9-10

Maniere om veerkragtigheid te ontwikkel

2019-06-07
Spreuke 24:16 NLV

Soos enige vaardigheid, kan verstandelike, emosionele en geestelike veerkragtigheid aangeleer word. Hier is hoe jy dit doen: 1) Herdefinieer terugslae as die deurgang na iets beters. 2) Onthou dat suksesvolle mense nie net voor teëspoed te staan kom nie, maar dat hulle dit waardeer. 3) Sny die kritiek uit en fokus daarop om jou beste te doen. 4) Word elke oggend wakker met die wete dat gebed en dankbaarheid ‘n vrugbare omgewing vir geloof kweek. 5) Hou aan jou geloof vas wanneer jy bang is. 6) Leer uit mislukkings en onthou hoeveel keer jy al sukses behaal het. 7) Visualiseer oorwinning voor jy die stryd betree. 8) Weier om aan die verlede of bekommernis oor die toekoms vas te klou; vandag is waar jy die grootste invloed het. 9) Identifiseer ‘n oplossing, eerder as om te kla. 10) Vervang twyfel met geloof. 11) Wanneer dinge hopeloos lyk, onthou ‘…Alles is by God moontlik!’ (Markus 10:27 NLV). 12) Wanneer jy eensaam voel, dink aan al die mense wat jou al gehelp het en wat vir jou lief is en jou ondersteun. 13) Bid vir leiding wanneer jy voel of jy besig is om te verdrink (sien Jakobus 1:5). 14) Rus wanneer jy moeg is, maar moenie tou opgooi nie. Maak klaar waarmee jy begin het. 15) Onthou dat jy ‘…onder alle omstandighede [kan] regkom deur Hom wat [jou] krag gee’ (Filippense 4:13 NLV). 16) Weet wat jy nie kan beheer nie, fokus op dit wat jy kan en gee die res aan God oor. 17) Oefen fisies om depressie te beveg. 18) Lag om stres te verminder, jou immuunstelsel te versterk en jou bloeddruk te verbeter. 19) Wees dankbaar. Navorsing wys dat mense wat ‘n brief of ‘n epos stuur om iemand te bedank wat hulle gehelp het, vir tot ‘n maand lank in ‘n beter bui is.

Sielskos: 2 Kon 10-12; Mark 12:28-44; Ps 132:11-18; Spr 13:7-8