2019-06-18
1 Samuel 17:47 NLV
Hoe jy die lewe hanteer hang af van hoe groot jy glo God is. As Hy te klein is: 1) Sal jy in konstante vrees lewe deur te dink dat alles van jou afhang. 2) Jou uitkyk sal deur jou omstandighede – of erger, kritici – bepaal word. 3) Sonder die aanvaarding van ‘n liefdevolle God sal jy ‘n slaaf van ander mense se opinies wees. 4) Jy sal die heeltyd na erkenning smag omdat jy nie verstaan dat ‘…jou Vader wat alle geheime ken, [jou sal] beloon’ (Matteus 6:4 NLV) nie. Toe Goliat die Israeliete gedreig het, ‘…was hulle mismoedig en baie bang’ (1 Samuel 17:11 NLV). Hulle het nie gedink dat hulle God groot genoeg vir die werk was nie. Nie Dawid nie! ‘Ons moenie oor hierdie man moedeloos word nie… Ek sal teen hierdie Filistyn gaan veg!.. Die Here wat my uit die kloue van die leeu en die beer gered het sal my ook red van hierdie Filistyn!..’ (1 Samuel 17:32, 37 NLV). Jy kan enigiets in die gesig staar wanneer jy, soos Dawid, weet dat die geveg die Here s’n is. Hy het nog nooit een verloor nie! Jy hoef dus nie op jou eie vermoëns staat te maak nie. Dawid mag dalk klein gevoel het, maar hy het geweet dat sy God groot genoeg vir die werk was. Weet jy dit ook? Die Anglikaanse predikant, John Newton, het in die agtiende eeu gesê: ‘As die Here by ons is, het ons geen rede om te vrees nie. Sy oog is op ons, sy arm is om ons, sy oor is oop vir ons gebed, sy genade is genoeg en sy beloftes is onveranderlik.’ Dit alles hang af van hoe groot jou God is!
Sielskos: Jer 1-3; Mark 14:66-72; Ps 144:1-8; Spr 14:1-4
2019-06-17
Efesiërs 2:6 NLV
Om ‘n ‘opgewekte’ persoon te word, moet jy hierdie drie dinge doen: 1) Brei jou idee van God uit. Hoe doen mens dit? Deur sy Woord te lees en Hom beter te leer ken. Wees soos die seuntjie wie se juffrou by die Sondagskool hom gevra het wat hy besig was om te teken. Hy het geantwoord: ‘Vir God!’ Die juffrou het gesê: ‘Maar niemand weet hoe God lyk nie.’ Vol selfvertroue het hy geantwoord: ‘Hulle sal wanneer my tekening klaar is!’ Hoe is jou God? Liefdevol of veroordelend? Ver of beskikbaar? Beperk of magtig? Jou idee van God sal jou vertroue in Hom bepaal, neem dus tyd om Hom te leer ken. 2) Herken Satan se beperkings. Die Duiwel is die wêreld se oudste verloorder, ‘n voormalige werknemer van die hemel wat as gevolg van arrogansie afgedank is en wat op pad na vernietiging is. Die enigste krag wat hy oor jou het, is die krag wat jy aan hom gee deur nie kennis van sy planne te neem nie (sien 2 Korintiërs 2:11). Die Bybel sê: ‘Wys dus dat julle van God afhanklik is deur na Hom te luister. Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug’ (Jakobus 4:7 NLV). Jy het mag oor Satan – gebruik dit. 3) Sien jouself soos God jou sien. Hy sien jou nie soos hoe jy is nie, maar soos hoe jy gaan wees. As jy deur ervarings in die verlede gekondisioneer is om jouself as waardeloos te sien, kan jy dadelik begin om jou selfbeeld te verander deur te glo wat God oor jou in sy Woord sê (lees Jeremia 29:11; Jesaja 43:1-4, Efesiërs 2:6). As jy aan hierdie drie dinge werk, sal jy ‘n ‘opgewekte’ persoon in ‘n ‘neerslagtige’ wêreld word.
Sielskos: Hosea 11-14; Mark 14:53-65; Ps 139:13-24; Spr 13:25
2019-06-16
Rigters 13:8 NLV
Die volgende gebed is deur generaal Douglas MacArthur, ‘n held van die Tweede Wêreldoorlog, vir sy seun wat hy baie liefgehad het geskryf. As jy ‘n ouer is, mag jy dit dalk handig te pas vind en dit gereeld bid: “Gee my ‘n seun, o Here, wat sterk genoeg sal wees om te weet wanneer hy swak is en moedig genoeg sal wees om homself in die gesig te staar wanneer hy bang is. Een wat trots en ombuigsaam in eerlike nederlaag en nederig en sag in oorwinning sal wees. Gee my ‘n seun wie se wensbeen nie in die plek van sy ruggraat sal wees nie; ‘n seun wat U sal ken. Lei hom, bid ek, nie in die pad van gemak en verligting nie, maar onder die stres en aanmoediging van moeilikhede en uitdaging. Laat hom hier in die storm opstaan; laat hom hier medelye vir diegene wat faal aanleer. Gee my ‘n seun wie se hart skoon is, wie se doelwit hoog is; ‘n seun wat homself eers sal bemeester voor hy ander mense probeer bemeester. Een wat sal leer hoe om te lag, maar tog nooit sal vergeet hoe om te huil nie; een wat na die toekoms sal uitreik, maar nie die lesse van die verlede sal vergeet nie. Wanneer al hierdie dinge syne is, bid ek dat U ook vir hom ‘n sin vir humor sal gee, dat hy altyd ernstig sal wees, maar homself nooit te ernstig sal opneem nie. Gee hom nederigheid, sodat hy altyd die eenvoudigheid van grootheid sal onthou, die openlike denke vir ware wysheid en die sagmoedigheid van ware krag. Dan sal ek, sy vader, dit waag om te fluister: ‘Ek het nie tevergeefs geleef nie.'”
Sielskos: Matt 28:16-20; 2 Kor 13:14; Joh 1:18; Joh 15:18-26
2019-06-15
Psalm 18:33 NLV
Die sangeres Dolly Parton sê in haar outobiografie: ‘My hoërskool was so klein dat elkeen van ons gedurende ons gradeplegtigheid kon opstaan en sê wat ons planne vir die toekoms is. ‘Ek gaan universiteit toe,’ sou een seun sê. ‘Ek gaan trou en stad toe trek,’ sou ‘n meisie hom opvolg. Toe dit my beurt is, het ek gesê: ‘Ek gaan Nashville toe om ‘n ster te word.’ Die hele plek het uitgebars van die lag. Ek was stomgeslaan. Tog het daardie gelag op die ou einde ‘n groter vasbeslotenheid om my droom te bewaarheid, in my laat posvat. As dit nie vir die skare se reaksie daardie dag was nie, sou ek dalk onder die gewig van die harde tye wat nog moes kom, ineengestort het. Dis snaaks hoe ons soms ons inspirasie vind.’ Elke held in die Skrif, sonder uitsondering, moes struikelblokke en teenstand oorkom. Dawid skryf: ‘Hulle het aangeval toe ek swak was, maar die Here hou my staande. Hy lei my na veiligheid en red my omdat Hy my liefhet… Met U loop ek ‘n leër storm; met my God spring ek oor ‘n muur. God se pad is volmaak. Die Here se woorde is betroubaar. Hy beskerm dié wat by Hom skuil… God rus my toe met krag; Hy maak my pad veilig. Hy maak my voete soos dié van ‘n wildsbok, op hoë plekke laat Hy my veilig staan… U het my met krag toegerus vir die stryd, en my teenstanders aan my onderwerp’ (verse 19-20, 30-31; 33-34, 40 NLV).
Sielskos: Hosea 6-10; Mark 14:43-52; Ps 139:7-12; Spr 13:24
2019-06-14
1 Petrus 5:5 NLV
Daar word twee tipes nederigheid in die Skrif genoem: 1) Valse nederigheid. Paulus skryf: ‘Laat niemand wat aandring op selfvernedering… oor julle skeidsregter speel en julle op sleeptou neem nie…’ (Kolossense 2:18 NLV). Of dit nou jou kleredrag, jou spraak of jou gedrag is – enigiets wat die aandag van Christus af wegneem en op jou vestig, is onaanvaarbaar vir God. 2) Ware nederigheid. Mense wat waarlik nederig is, neem nie maklik aanstoot of veg terug nie; hulle draai die ander wang. Tog is hulle nederigheid nie lafhartigheid nie, omdat ware nederigheid moed verg. Dit maak jou gewillig om ‘n laer posisie as wat jy verdien in te neem, om stil te bly oor jou meriete en om vernedering, belediging en valse aantygings ter wille van ‘n hoër doel te verduur. Ware nederigheid laat jou nie minder van jouself dink nie, dit laat jou net minder aan jouself dink. Petrus het hierdie onderwerp met die volgende woorde aangespreek: ‘…God is téén dié wat te veel van hulleself dink, maar dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, aan hulle gee Hy sy onverdiende goedheid. Word daarom klein onder die kragtige hand van God; op sý tyd sal Hy julle groot maak’ (1 Petrus 5:5-6 NLV). Daar is ‘n verhaal van ‘n man wat homself vir ‘n kompetisie ingeskryf het om te bepaal wie die nederigste is. Toe hy wen, het hy ‘n sertifikaat van verdienste ontvang – maar toe hy dit omhoog hou, is hy gediskwalifiseer! Op ‘n ernstige noot: Trots diskwalifiseer jou daarvan om die guns van God te geniet. Dis hoekom jy jouself gereeld moet herinner: ‘Alles wat ek is, het ek aan God te danke; alles wat ek het, kom van God af. Aan Hom kom al die eer toe.’
Sielskos: Hosea 1-5; Mark 14:27-42; Ps 139:1-6; Spr 13:21-23
2019-06-13
Johannes 4:14 NLV
Eendag het die Fariseërs vir Jesus gevra: ‘…Hoe kry julle dit reg om saam met ‘n klomp skelms en sondaars te eet en te drink?..’ (Lukas 5:30 DB). Sulke minagting – en dit van mense wat veronderstel was om eerste in die ry te staan om liefde en medelye te bewys! Jesus was lief vir mense; kyk hoe het hy die vrou by die put behandel. Eerstens het Hy die reëls verbreek. Jode het nie met nie-Jode gemeng nie en hulle het vir seker nie met haar soort omgegaan nie. (Sy was al vyf keer geskei.) Hy het met haar gemeng, nie om voordeel uit haar te trek nie, maar om haar te bereik, te verlos en te herstel. Dis hoekom Hy ‘n vriend van sondaars (sien Matteus 11:19), genoem word. Kan mense dieselfde van jou sê? Tweedens het Hy die ys gebreek. Jesus het met haar oor iets waarin sy geïnteresseerd was gepraat – water. Jy moet waar mense is, begin, nie waar hulle veronderstel is om te wees nie. Jy moet ook oor jou vrees vir verwerping kom. Jy mag dalk skaam kry as hulle nee sê, maar dink net wat hulle sal verloor as hulle nooit die kans kry om vir die evangelie ja te sê nie. Derdens het Hy die nuus gebring. Hy het vir haar lewende water in plaas van dooie godsdiens aangebied. Hoe kan jy sê dat jy vir iemand lief is en nie met hulle die grootste geskenk wat jy al ooit ontvang het – verlossing – deel nie? Elke mens wat jy ontmoet is op die verlede gefokus, angstig oor die toekoms, of het die behoefte aan ‘n ware vriend. Sodra jy uitvind agter watter deur hulle staan, tree dit met liefde en sensitiwiteit binne. Hulle is dors na die lewende water. Deel dit met hulle.
Sielskos: 2 Kon 24-25; Mark 14:12-26; Ps 73:17-28; Spr 13:20