2019-06-24
Matteus 6:5 NLV
Jesus het gesê dat die Fariseërs spesiaal voor mense gebid het om gesien te word en dat God nie daardeur geraak is nie. Die skrywer John Ortberg wys vyf dinge oor hulle uit: ‘1) Hulle gebede het ‘n vlak oefening eerder as ‘n diep aksie wat jou verhouding met God bou, geword. 2) Dit was ‘n ritueel, eerder as ‘n ware uitdrukking van ‘n liefdevolle hart. 3) Die gebede was lank en hoogdrawend, ontwerp om ander mense te beïndruk. 4) Hulle gebede was met betekenislose clichés gevul. 5) Hulle het nie gebed as ‘n geleentheid om nederige afhanklikheid aan God uit te druk, gebruik nie.’ Kan jy jou indink as jou kind met jou in dieselfde hoogdrawende taal as wat die Fariseërs gebid het, begin praat? Hoe sou dit jou laat voel het? Wanneer dit by gebed kom, het Jesus gesê: ‘Wanneer jy bid, gaan na die stilste vertrek in die huis en maak die deur agter jou toe sodat jy daar in jou alleenheid tot jou Vader kan bid. En jou Vader wat alles weet, sal jou beloon. Wanneer julle bid, moenie met woorde mors soos die ongelowiges nie. Hulle dink hulle stortvloed woorde sal maak dat hulle gebede beantwoord word. Moenie soos hulle maak nie, want julle Vader weet presies wat julle behoeftes is, selfs nog voordat julle Hom vra!’ (verse 6-8 NLV). Jy kan enige plek, enige tyd bid: in jou kar, in die badkamer, in die bed, terwyl jy oefen of by die werk. Al wat God vra is dat jy spontaan, persoonlik en eerlik is. Met ander woorde, bid uit jou hart.
Sielskos: Jer 18-21; Matt 1:1-25; Ps 59:1-8; Spr 14:21-22
2019-06-23
Deuteronomium 28:8 NLV
Amper enigiemand kan die probleem identifiseer, die probleem bespreek en oor die probleem kla. ‘n Persoon wat egter oplossing-georiënteerd is, soek maniere om die probleem op te los. Murray Spangler was so ‘n persoon. Hy was ‘n skoonmaker in ‘n kettingwinkel en was verveeld met sy werk wat uit vloere vee bestaan het. Om die verveling te bekamp, het hy besluit om aan ‘n meer innoverende manier te dink om sy werk te doen. Daarmee saam was die feit dat hy allergies was vir die stof wat hy elke dag moes opvee, sommer ‘n ekstra aansporing. Toe het ‘n gedagte by hom opgekom: ‘In plaas daarvan om die stof op te vee, is daar dalk ‘n manier om dit op te suig.’ Waar kom sulke kreatiewe idees vandaan? Van God, ons Skepper af. Omdat jy sy kind is, sal Hy sy idees met jou deel. Spangler se vrae het daartoe gelei dat hy ‘n rowwe, maar werkende stofsuier ontwerp het. Hy het toe ‘n ou vriend in die leerbedryf genader om sy nuwe uitvinding te finansier. Hierdie man se naam was H.W. Hoover; en Hoover stofsuiers het wêreldwyd bekend geword. In elke struikelblok is ‘n geleentheid ingebou; in elke vraag, ‘n antwoord; in elke probleem, ‘n oplossing. Moet dus nie bang wees om metodes, sisteme en toerusting te bevraagteken deur te vra: ‘Is daar ‘n beter manier?’ nie. Die wêreld is deur mense wat gewaag het om dit te vra, verryk. Jy kan ook so ‘n persoon wees, want God het beloof om jou in alles wat jy doen, te seën.
Sielskos: Eks 20:17; Ps 10; Jak 4:1-3
2019-06-22
Josua 1:8 NLV
Toe Josua die leier van Israel in die plek van Moses geword het, het God vir hom gesê: ‘Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees.’ Daar is twee tipes sukses: sukses wat God se wil vir jou lewe vervul; en sukses wat wêrelds is, wat jou leeg kan laat voel en wat sterf wanneer jy sterf. Boris Becker, die wêreldbekende tennisspeler, het volgens berigte selfdood oorweeg as gevolg van die leegheid wat hy in die lewe ervaar het. Selfs al het dit voorgekom asof hy suksesvol is, was sy lewe nie so wonderlik soos wat dit van buite af gelyk het nie. ‘Ek het twee keer Wimbledon gewen, een keer daarvan as die jongste speler,’ het hy gesê. ‘Ek was ryk. Ek het al die materiële besittings gehad wat ek nodig gehad het: geld, karre, vroue, alles… Ek weet dit is ‘n cliché. Dis die ou storie van film- en popsterre wat selfdood pleeg. Hulle het alles en tog is hulle so ongelukkig. Ek het geen innerlike vrede gehad nie. Ek was ‘n marionet.’ Iemand het gesê: ‘In alles wat mens sonder God aanpak, moet mens klaaglik misluk of meer klaaglik, sukses behaal.’ Hierdie stelling is waar, want sonder God eindig alle sukses in mislukking op [dit bevredig nie]. Jesus se definisie van ‘n dwaas was as volg: ‘Ja, ‘n mens is ‘n dwaas as jy net aardse rykdom versamel, maar nie ‘n ryk verhouding met God het nie’ (Lukas 12:21 NLV). ‘Goeie’ sukses is om God eerste te stel en Hom toe te laat om alles vir jou in plek te stel.
Sielskos: Jer 14-17; Mark 16:1-20; Ps 21; Spr 14:17-20
2019-06-21
Filippense 2:5 NLV
‘n Vlieënier sal vir jou sê dat ‘n vliegtuig van tyd tot tyd herbalanseer moet word. Nadat die vliegtuig deur storms gevlieg het, moet dit weer in lyn ingestel word. Dieselfde gebeur op jou geestelike reis. Die storms in die lewe kan jou van koers af slaan en jou ongebalanseerd laat. Onverwagte ‘weerstoestande’ soos siekte, depressie, werkloosheid, egskeiding, teleurstelling en die dood kan jou forseer om rigting en strategie te verander. Dis hoekom jy gereeld jou gesindheid moet nagaan en aanpas. Waarmee worstel jy tans wat jou gesindheid beïnvloed? Paulus skryf: ‘Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees.’ Is so ‘n lewenswyse moontlik? Ja, maar jy moet dit ‘n prioriteit maak en elke dag nastreef. Josua wou ‘n weermag van klakouse in ‘n weermag wat die Beloofde Land kon binneval, omskep het. Dus het God vir hom hierdie formule vir sukses gegee: ‘Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees’ (Josua 1:8 NLV). Probeer die ‘drie-by-vyf tegniek.’ Identifiseer elke week ‘n Skrifgedeelte wat betrekking het op ‘n area waarin jy wil groei, skryf dit op ‘n drie-by-vyf kaartjie neer en memoriseer dit. In een jaar sal jy dan twee-en-vyftig teksverse hê waarop jy kan staan. Dink net watter impak dit op jou lewe sal hê! Nie net sal die verkeerde gesindheid die regte gesindheid word nie, maar jou lewe sal in die regte rigting begin beweeg.
Sielskos: Jer 10-13; Mark 15:33-47; Ps 17; Spr 14:13-16
2019-06-20
1 Korintiërs 10:13 NLV
Satan het probeer om Jesus voor drie tipes versoekings te laat swig en hy sal dieselfde met jou doen: 1) Bevrediging sonder God. Satan het geweet dat Jesus honger was en het vir Hom gesê om die klippe in brood te verander. Jesus het egter nee gesê, omdat Hy geweet het dat dit God se plan was om Hom bonatuurlik te versterk en te voed. Hy het geweier om met minder tevrede te wees – en jy moet ook. 2) Sukses sonder God. Satan het toe vir Jesus na die bopunt van die tempel geneem en vir Hom gesê om daar af te spring, omdat God sy engele sou stuur om Hom te beskerm. God se plan vir Jesus was egter die kruis, die opstanding en die menigtes wat daardeur in Hom sou begin glo. Satan het probeer om Jesus sover te kry om met minder tevrede te wees en hy sal dieselfde met jou probeer. Moenie dat hy jou ompraat nie! 3) Belangrikheid sonder God. Satan het vir Jesus die koninkryke van hierdie wêreld aangebied, as Hy maar net voor hom sou kniel en hom aanbid. Wat ‘n aanbod! Belangrikheid sonder God! Die feit bly egter staan dat die koninkryke nie Satan s’n was om aan te bied nie. Hy het dus vir Jesus gelieg – en hy sal ook vir jou lieg. Die pad na blywende tevredenheid is die pad na die kruis toe, wat beteken dat jy jouself moet opoffer. Jesus het Satan bestraf deur hom aan die Skrifgedeelte te herinner wat sê dat God alleenlik waardig is om verheerlik te word. Verstaan mooi: Satan sal elke begeerte wat jy het neem en jou probeer oortuig om dit op sy manier te vervul. Jy kan hom egter teenstaan, deur naby aan God te bly en in sy Woord te lewe: ‘…Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word…’
Sielskos: Jer 7-9; Mark 15:21-32; Ps 8; Spr 14:9-12
2019-06-19
1 Timoteus 6:6 NLV
Wanneer jy oor tevredenheid praat, dink sommige mense dat jy teen vooruitgang is. Nee. Paulus sê dat tevredenheid nooit uit eksterne bronne kom nie! Elke twaalf minute probeer adverteerders op die radio en televisie ons daarvan oortuig dat tevredenheid nie sonder hulle spesifieke produk moontlik is nie. Moenie dit glo nie! Die begeerte na meer kan onversadigbaar wees. So lank as wat jy glo dat meer beter is, sal jy nooit tevrede wees nie. Hoekom nie? Omdat jy nooit lank genoeg sal leef om dit alles te kry nie! Dink daaroor; wanneer jy iets kry of iets bereik, neem jy die tyd om dit te geniet of galop jy verder na die volgende ervaring toe sonder om te stop? Om te keer dat jy te vroeg oud en te laat wys word, lees die volgende Skrifgedeeltes: 1) ‘Alles in aanmerking geneem, het ons tog niks saamgebring toe ons in die wêreld gekom het nie, en ons sal ook nie enigiets saamneem wanneer ons sterf nie (vers 7 NLV). Wanneer jy sterf en mense vra: ‘Hoeveel het hy agtergelaat?’ sal die antwoord ‘Alles’ wees (insluitend ‘n nalatenskap van die goeie en die slegte). 2) ‘…En sommige mense wat geld begeer, het weggedwaal van die geloof en hulleself met baie ellende deurboor’ (vers 10 NLV). As jou najaging van materiële dinge geen tyd vir God laat nie, moet jy jou prioriteite ondersoek en hulle begin verander, terwyl jy nog kan. Hou op om te dink: ‘As ek net ‘n groter huis, ‘n eggenoot met meer begip, ‘n spesifieke werk, ‘n radikale mooimaaksessie, ‘n hoër IK of die aanvaarding van ‘n spesifieke persoon gehad het, sou ek gelukkig wees.’ Dit werk nie so nie. Die Bybel sê: ‘Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en bly wees’ (Psalm 118:24 NLV).
Sielskos: Jer 4-6; Mark 15:1-20; Ps 144:9-15; Spr 14:5-8