Dis aansteeklik (2)

2019-06-30
Spreuke 27:17 NLV

Die tipe persoon wat jy is word in die vriende wat jy kies gereflekteer. As jou lewe dus onproduktief en stagnant is, kyk na die mense waarmee jy jouself omring. Vriendskappe, goed en sleg, dui die rigting waarin jy op pad is aan. ‘Hy wat met wyse mense meng, verkry self ook wysheid. Meng jou met dwase en jy word self soos hulle’ (Spreuke 13:20 NLV). Moenie met negatiewe denkers meng nie. Dis beter om alleen te reis as om jou lewe met mense wat jou aftrek te spandeer. Wanneer jy met die regte mense in ooreenstemming kom, kan julle baie meer saam bereik (sien Prediker 4:9). John Mason skryf: ‘Hoe minder jy met sekere mense assosieer, hoe beter sal jou lewe word. Die regte vriende en kennisse bring die oorspronklike in jou uit. Jy ken die tipes mense waarvan ek praat. Nadat jy saam met hulle was, vind jy dat jy minder krities is, vol geloof is en ‘n visie vir die toekoms het. Die Duiwel gebruik (oor die algemeen) nie vreemdelinge om jou te keer of te stop nie – jou vriende sal óf jou visie strek, óf jou droom verwurg. Soos jy in God groei, sal jou verhoudings verander. Sommige vriende sal jou probeer keer om vooruit te beweeg, omdat hulle wil hê dat jy moet bly waar jy is. Soos Edwin Louis Cole egter opgemerk het: ‘Wanneer jy iemand anders toelaat om jou wêreld te skep, maak hulle dit altyd te klein.’ Nie almal het die reg om ‘n sê in jou lewe te hê nie. Respekteer diegene wat God aan jou geskakel het om jou te help. God gee vir mense, deur mense, om. Die wyse man is die persoon wat sy lewe met die regte vriendskappe versterk.’

Sielskos: Ps 23; Joh 10:7-18

Dis aansteeklik (1)

2019-06-29
1 Korintiërs 15:33 NLV

Dis nie net verkoue- en griepvirusse wat aansteeklik is nie; houdings is ook: ‘…slegte geselskap bederf goeie gewoontes.’ Navorsers noem dit ’emosionele besmetting’ en dit affekteer elke aspek van die lewe, soos ‘n vrot appel die hele krat besmet. ‘n Verhoudingskenner sê: ‘Een negatiewe werknemer kan die hele span besoedel en ‘n giftige werksomgewing skep. Een negatiewe leier kan die werk vir sy of haar span ellendig maak. ‘n Werknemer in ‘n slegte bui kan ontelbare kliënte afskrik. Mense wat die heeltyd kla is soos ‘n kanker wat deur die hele organisasie trek en wat die moraal en uitsette van spanne met groot talent en potensiaal, saboteer. Jy is nie net ‘n skepping van jou omgewing nie, jy skep ook elke dag jou omgewing deur jou gedagtes, oortuigings en optrede. Jy kan op ‘n negatiewe manier aansteeklik wees, of op ‘n positiewe manier. Jy kan ‘n kiem wees wat jou organisasie se immuunstelsel aanval, of dit soos ‘n dosis vitamiene C versterk. Jou emosies het ‘n uitwerking op die wêreld rondom jou.’ Paulus sê: ‘…[julle moet] die ou sondige mens soos vuil klere… uittrek… Julle moet op ‘n nuwe, geestelike manier leer dink’ (Efesiërs 4:22-23 NLV). Hoe doen jy dit? Deur God te vra om jou ‘…’n ander mens…’ (1 Samuel 10:6 NLV), te maak en jou houding van ‘n negatiewe een na ‘n positiewe een te verander, wat die mense rondom jou elke dag positief beïnvloed. Wees terselfdertyd selektief oor die geselskap waarin jy jou bevind. Jy weet uit ondervinding wie die mense is wat jou aftrek en jou energie dreineer. Bid vir hulle, maar spandeer mimimale tyd in hulle geselskap.

Sielskos: Jer 33:1-36:26; Matt 5:1-20; Ps 102:1-11; Spr 15:1-2

Wees met net die beste tevrede

2019-06-28
Psalm 33:2-3 NLV

Wanneer dit by jou Godgegewe talente kom, beteken om met ‘vaardigheid te speel’ dat jy dit goed doen en uitnemendheid nastreef. Een skrywer stel dit so: ‘Daar is ‘n merkwaardige verskil tussen 99 persent en 100 persent toewyding. Teen 100 persent sien jy al jou probleme tot die oplossing daarvan toe deur. Met 99 persent kan jy steeds ‘n manier vind om die pad van die minste weerstand te volg. Ons lewe in ‘n kultuur waar uitnemendheid die uitsondering op die reël is, maar God se Woord sê: ‘…Nee, laat God julle van binne af nuutmaak. Laat Hy julle manier van dink verander sodat julle kan weet wat Hy van julle verwag…’ (Romeine 12:2 DB). Jy moet gewillig wees om die prys te betaal, wat die volgende is: ‘Almal wat aan ‘n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ‘n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ‘n onverganklike’ (1 Korintiërs 9:25 AFR83). Mense sal jou karakter volgens die hoogte van jou ideale, die breedte van jou medelye, die diepte van jou oortuigings en die lengte van jou volharding beoordeel. Benader elke taak met die denke hoe jy dit beter kan doen.’ As jy goed met syfers is, blink dan as ouditeur uit. As jy ‘n vaardige kommunikeerder is, wees die beste onderwyser wat jy kan wees. As jy mense kan inspireer, wees die beste moontlike leier. ‘n Voormalige president van Yale Universiteit merk op dat Hamlet nooit deur ‘n komitee geskryf kon word, of Mona Lisa deur ‘n span geskilder kon word, of die Nuwe Testament deur ‘n konferensie geskryf kon word nie. Kreatiewe idees kom gewoonlik van individue af. Die wonderlike feit van die lewe is dat wanneer jy weier om met minder as die beste tevrede te wees, ontvang jy dit gewoonlik!

Sielskos: Jer 31-32; Matt 4:12-25; Ps 98; Spr 14:34-35

Wees realisties oor jou vermoëns

2019-06-27
Romeine 12:3 ABA

God het vir Moses gesê: ‘…Ek stuur jou na die farao toe. Jy gaan my volk, die Israeliete, weglei uit Egipte’ (Eksodus 3:10 NLV). In plaas van om te dink: ‘Wat ‘n eer,’ het Moses geantwoord: ‘Maar wie is ek dan… om die Israeliete uit Egipte weg te lei?’ (Eksodus 3:11 NLV). Moses se kinderjare as die farao se aangenome kleinseun het hom vir die werk voorberei, maar hy was nou in ballingskap nadat hy ‘n Egiptenaar vermoor het. Dis maklik om Moses se huiwering te kritiseer, maar Mark Roberts merk op: ‘Wyse leiers het ‘n sekere huiwering wat uit persoonlike nederigheid kom en omdat hulle die verantwoordelikheid van leierskap ernstig opneem. God het vir Moses gekies met die volle wete dat hy huiwerig sou wees. God kon iemand anders met meer selfvertroue gekies het, maar Hy het nie. Dink net hoe anders sou hierdie toneel gewees het as Moses geantwoord het: ‘Geen probleem, God. Ek is die regte man vir die taak. Ek het jare se ondervinding van die farao se huishouding!’ Sou iemand met sulke oorvloedige selfvertroue reg vir die werk gewees het? Ek twyfel. As ons huiwering om te lei uit ‘n realistiese sin van ons beperkings en ‘n opregte erkenning van die swaar verantwoordelikheid kom, posisioneer dit ons perfek om gesonde vertroue in ons leierskapsvaardighede te hê. In plaas daarvan om ‘n lys van Moses se vermoëns en prestasies deur te gee, het God eenvoudig gesê: ‘…Ek sal by jou wees…’ (vers 12 NLV).’ Dit maak nie saak hoeveel jy weet of hoeveel mense jou volg nie, die toets van ware leierskap is om in God se krag, nie jou eie nie, op te tree. ‘Want in die koninkryk van God gaan dit nie om blote praatjies nie, maar om ‘n lewe in die krag van God’ (1 Korintiërs 4:20 NLV).

Sielskos: Jer 28-30; Matt 3:11-4:11; Ps 95; Spr 14:29-33

Drie Bybelse reëls vir sukses (2)

2019-06-26
Josua 1:8 NLV

Tweedens, mediteer daaroor. Moenie net die Skrifgedeeltes lees nie, neem dit ten volle in. Bid: ‘Maak oop my oë sodat ek die wonders kan sien wat opgeskryf is in u gebooie’ (Psalm 119:18 NLV). Jy kan ‘n teksvers verskeie kere lees en skielik iets sien wat jy nog nooit gesien het nie. Die idee is om jou gedagtes op te lei om dinge uit God se oogpunt te sien. Mark Twain het gesê dat die twee beste dae in ‘n mens se lewe die dag is wat hy gebore word en die dag is wat hy uitvind waarvoor hy gebore is. Die enigste persoon by wie jy dit kan uitvind, is jou Skepper. Derdens, lewe dit uit. ‘…sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees’ (Josua 1:8 NLV). Ja, jy moet die Bybel bestudeer, daaroor mediteer en dit selfs memoriseer. As jy egter sukses in die lewe wil behaal, moet jy die Bybel gehoorsaam. Jy moet aksie daarop neem. Niemand behalwe God kan jou sukses waarborg nie – en daardie waarborg word gevind wanneer jy sy Woord lees, daaroor mediteer en dit gehoorsaam. ‘n Kar wat nie kan ry nie is waardeloos. ‘n Pen wat nie kan skryf nie is waardeloos. Net so moet jy jou doel in die lewe vind en dit vervul. Op jou sterfbed gaan beroemdheid en rykdom nie saak maak nie. Die enigste item van ewige waarde sal jou antwoord op hierdie vraag wees: ‘Het ek my lewe in die teenwoordigheid van God en vir sy koninkryk gelewe?’ C.S. Lewis stel dit so: ‘Die mens wat God en alles het, het niks meer as die persoon wat net vir God het nie.’

Sielskos: Jer 25-27; Matt 2:16-3:10; Ps 64; Spr 14:25-28

Drie Bybelse reëls vir sukses (1)

2019-06-25
Josua 1:8 NLV

God het vir Josua gesê: ‘Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees’ (Josua 1:8 NLV). God sien sukses as iets wat eenvoudig is om te bereik en net so eenvoudig vir Hom is om te meet. As ons sukses in die dinge wat regtig saakmaak wil behaal, moet ons die lewensinstruksies wat in die Skrif gevind kan word, volg. Hier is dus drie Bybelse reëls vir sukses. Eerstens, lees dit. ‘Hou hierdie wetboek altyd by jou.’ Om sukses te behaal moet jy die bestudering van God se Woord ‘n konstante deel van jou lewe maak. Dit mag dalk ‘n radikale verandering in jou lewe wees. Negentig persent van Amerikaners besit ‘n Bybel. Vyftig persent van hulle lees dit nie, insluitend 23 persent van al Christus se volgelinge. Net 18 persent daarvan lees dit elke dag. Verbeel jouself dat jy dokter toe gaan as jy siek is en ‘n voorskrif kry wat jou gesond kan maak. Jy gebruik die medisyne egter net een keer ‘n week, of wanneer jy lus is, of glad nie. Sal jy die dokter blameer omdat jy nie gesond word nie? Sommige van ons doen dit met God: ‘Here, hoekom het dit met my gebeur? Ek verstaan dit nie.’ Sou jy sê dat die medisyne nie werk nie? Dit sal nie werk as jy dit nie gebruik nie. ‘My volk word verwoes omdat hulle My nie ken nie…’ (Hosea 4:6 NLV). Die woord vir jou vandag is dus: Lees God se Woord en bestudeer dit!

Sielskos: Jer 22-24; Matt 2:1-15; Ps 59:9-17; Spr 14:23-24