Verstaan jou begeertes (1)

2019-07-06
Psalm 37:4 NLV

Jou kapasiteit om sekere dinge te begeer is ‘n gawe van God; dis ‘n kragtige motiveerder. Dink aan twee kinders wat swemlesse neem. Een kind doen dit omdat hy die Olimpiese Spele gekyk het en ‘n goue medalje wil wen wanneer hy groot is. Die ander kind neem swemlesse omdat sy pa gesê het hy moet. Watter kind dink jy sal moontlik die Olimpiese Spele kan bereik? In Genesis lees ons: ‘Jakob het toe [nog] sewe jaar gewerk om Ragel as vrou te kry. Maar hy het haar so liefgehad dat dit vir hom soos ‘n paar dae was’ (Genesis 29:20 NLV). Watter tipe persoon sal sewe jaar se werk as ‘n paar dae sien? Iemand wat na sy of haar droom toe werk! Jesus vertel die verhaal van ‘n man wat ‘n ‘moet-dit-hê’ begeerte gehad het. Toe hy ‘n skat wat in die veld begrawe was ontdek, het hy alles wat hy het gaan verkoop en daardie stuk grond gekoop (sien Matteus 13:44). Soortgelyk, was die mense wat na Jesus geluister het so aangetrokke tot sy vrede, moed en wysheid dat hulle gedink het: ‘Ek moet kry wat Hy het.’ Lei ons begeertes ons soms van die regte pad af? Vir seker! Om jou begeertes te kan vertrou, moet jy twee dinge doen: 1) ‘n Verhouding met God bo alles anders begeer. ‘Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee.’ 2) Seker maak dat jou begeertes in harmonie met sy wil is. ‘Dis my begeerte om u wil te doen, my God, want u voorskrifte is in my hart’ (Psalm 40:9 NLV). Wanneer jy God en sy Woord die middelpunt van jou lewe maak, kan jy jou hartsbegeertes vertrou. God sal dit vir jou gee!

Sielskos: Joel 1-3; Matt 7:15-29; Ps 79; Spr 15:18-21

Vergeet en strek vorentoe

2019-07-05
Filippense 3:13 NLV

Solank as wat jy aan jou verlede vashou, sal jy nooit die toekoms kan aangryp nie. Die verlede kan ‘n ondraaglike swaar las wees wanneer jy dit probeer dra. Die manier om dit te laat gaan, is om op te hou om daaraan te dink. Vee dit uit jou gedagtes en uit jou gesprekke uit. Satan sal jou aanhoudend aan jou verlede herinner, omdat hy wil hê dat jy daarin moet vasval. Jy hoef egter nie. Jy kan jou eie denke kies. Jy sê: ‘Ek kan nie help om daaraan te dink nie.’ Ja, jy kan! Voor hy vir Christus ontmoet het, het Paulus kerke vernietig en Christene doodgemaak. Nadat hy Christus ontmoet het, moes hy na daardie selfde dorpe toe teruggaan, en wie het daar vir hom gewag? Weduwees. Weeskinders. Mense wie se lewens hy verwoes het. As Paulus nie daarby verby kon beweeg het nie, sou hy nooit sy Godgegewe opdrag vervul het nie. Paulus het nie aan geheueverlies gely nie; hy kon die gebeure onthou. Hy het egter geweet dat God hom vergewe het en dat hy homself vergewe het. Hy het gekies om die verlede te vergeet. ‘…een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê.’ Wanneer jy kies om te vergeet, sal God jou in staat stel om dit te doen en vir jou die genade en vrede gee om aan te beweeg. Hy sal jou inderwaarheid sterker en wyser as gevolg daarvan maak. As jy met skuld, veroordeling, skaamte, blaam of spyt oor jou verlede sukkel, laat God toe om jou te vergewe, jou vry te maak en jou in staat te stel om vorentoe te beweeg.

Sielskos: Jer 51-52; Matt 7:1-14; Ps 137; Spr 15:15-17

Lewe vir ander mense

2019-07-04
Romeine 12:10 NLV

Soos jy ouer word, besef jy dat dit nie net dit wat jy doen is wat saakmaak nie, maar wat jy vir ander mense doen. Die ongelukkigste mense op aarde is diegene wat ander mense haat, pla en seermaak, terwyl die gelukkigste mense diegene is wat hulle lewens spandeer om ander mense te help. Die graad van jou hulp is die graad van jou geluk – dis so eenvoudig. Die digter John Albert Holmes het gesê: ‘Dis goed om te onthou dat die hele bevolking van die heelal, met een onbenullige uitsondering, uit ander mense bestaan.’ Wat doen jy vir ander mense? Hoe goed is jy daarmee om iemand anders die krediet te laat neem vir dit wat bereik word? Paulus skryf: ‘…julle [moet]… voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer.’ Die volgende keer wat iemand hulle prestasies met jou deel, let op jou behoefte om in te spring en hulle iets goeds of beters van jouself te vertel. Wanneer jy dit doen, steel jy hulle vreugde, skep jy afstand tussen julle en almal verloor. Byt eerder op jou tong en sê: ‘Dis wonderlike nuus; vertel my meer.’ Bedoel dit! Wanneer jy mense op hierdie manier hanteer, gebeur daar twee dinge: 1) Die ander persoon geniet jou geselskap omdat hulle aanvoel dat jy regtig ‘daar’ is vir hulle, eerder as om op die punt van jou stoel te sit en jou beurt om te praat af te wag. 2) Hulle voel dat jy oor hulle sukses omgee, eerder as dat jy met hulle kompeteer. Gevolglik word jou verhoudings sterker, omdat jy nie langer die behoefte het om al die aandag en glorie vir jouself te steel nie. Dis hoe jy vir ander mense lewe.

Sielskos: Jer 49-50; Matt 6:19-34; Ps 122; Spr 15:10-14

Bly deel van die spel totdat dit verby is

2019-07-03
Psalm 27:1 NLV

Die skrywer Jon Gordon sê: ‘Daar was ‘n tyd [toe ons kinders was] wat ons van die klimraam afgespring het en op wipwaentjieritte gegaan het. Geen doelwit was onbereikbaar nie. Toe ons egter grootword, het die twyfelaars ons van ons drome laat afsien. ‘Jy’s mal… dis te moeilik… wees veilig… drome is nie vir mense soos ons bedoel nie.’ Hulle het onsekerheid in ons teweeggebring. Wanneer so baie mense sê dat ons nie kan nie, laat ons vrees in ons lewens toe. Ons is so bang om dit wat ons het te verloor, dat ons nie dit wat ons wil hê najaag nie. Ek noem dit ‘speel om te verloor.’ Ons sien dit in sport. Wanneer ‘n span die voortou neem, begin hulle dink hoe om nie te verloor nie. Hulle speel versigtig en is bang, terwyl die ander span kanse benut, sonder vrees speel en op die ou einde wen. Dawid het gesê: ‘Die Here is my lig en my redding. Vir wie moet ek dan vrees?..’ Wanneer jy ‘n lewe van geloof lei, beteken dit dat jy begin speel om te wen. Selfs wanneer jy misluk, gee jy nie op nie en jy laat nie jou drome sterf nie. Sukses word nie outomaties aan ons gegee nie, dit moet met al jou energie en sweet nagestreef word. Struikelblokke is deel van die lewe; hulle laat ons toe om sukses te geniet. As alles maklik gekom het, sou ons nooit geweet het hoe dit voel om sukses te behaal nie. Struikelblokke is bedoel om oorkom te word. Vrees is bedoel om oorwin te word. Sukses is bedoel om bereik te word. Dis deel van die lewe en diegene wat sukses behaal, weier om op te gee totdat die spel verby is.’

Sielskos: Jer 45-48; Matt 6:9-18; Ps 110; Spr 15:8-9

‘Blaas op my, asem van God.’

2019-07-02
Esegiël 37:9-10 NLV

Adam was in die tuin van Eden perfek gevorm, maar hy het geen lewe gehad nie. Hy kon nêrens gaan totdat God se Gees nie in hom in geblaas is nie. Toe het hy saam met God begin wandel, inisiatief geneem en sy roeping in die lewe begin vervul. Jy kan ook dit wat God daardie dag in Adam in geblaas het, ontvang! Dink aan Esegiël se vallei met droë bene. Hulle was dood en deurmekaar. As dit jou lewe tans beskryf, is daar goeie nuus. Toe God asem in hierdie bene geblaas het, het hulle lewendig geword, opgestaan en ‘n weermag geword om mee rekening te hou. Let op dat die Gees van God vanuit die vier windrigtings gekom het. Dit beteken dat daar geen plek op aarde is waar sy Gees jou nie kan bereik as jy beskikbaar vir Hom is nie. Let ook op dat gebreekte dinge reggemaak is en dooie dinge weer lewend gemaak is, toe die Gees van God Esegiël se vallei binne gekom het. God wil dieselfde vir jou doen! Voor God jou egter gebruik, sal Hy jou uit jou gemaksone skud en jou metodes en gevestigde idees uitdaag. Jou verlede is nie vir Hom ‘n probleem nie, omdat sy oë op jou toekoms gevestig is. Kom dus vandag in sy teenwoordigheid en bid: ‘Blaas op my, asem van God. Vul my met nuwe lewe, sodat ek mag doen waarvoor U lief is en wat U sou doen.’ Wanneer Hy sy Gees in jou blaas, sal jy nooit weer dieselfde wees nie.

Sielskos: Jer 41-44; Matt 5:38-6:8; Ps 102:18-28; Spr 15:4-7

‘n Ontmoeting in die lug

2019-07-01
1 Tessalonisense 4:17 DB

Die Boodskap parafraseer Christus se wederkoms as volg: ‘Wanneer God beveel dat die laaste dag aanbreek, sal die heel belangrikste engel in die hemel skielik kliphard uitroep. God se hemelse trompet sal ook begin blaas. Terwyl dit gebeur, sal die Here na die aarde toe kom. Al die Christene wat reeds dood is, sal lewendig word. Dan sal ons wat nog lewe saam met hierdie gelowiges weggeneem word op die wolke. Ons almal sal die Here in die lug ontmoet. Daarna sal ons almal vir altyd by die Here bly. Vertel hierdie goeie nuus vir ander gelowiges en moedig mekaar aan om dit te glo’ (verse 16-18 DB). Die tweede koms van Christus sal deur die trompetgeskal van die aartsengel ingehuldig word. Begraafplase en die oseane sal hulle dooies teruggee. ‘…Hierdie keer sal Hy verskyn om almal wat gretig na sy koms uitsien, finaal te verlos’ (Hebreërs 9:28 NLV). Hierdie gebeurtenis sal deur die hele mensdom aanskou word. ‘…Elke oog sal Hom sien…’ (Openbaring 1:7 NLV). Elkeen van ons sal hierdie oomblik aanskou, van Adam tot die babatjie wat met die aanvang van die trompetgeskal gebore word. Nie almal sal egter hierdie oomblik verwelkom nie. ‘…Wanneer dit gebeur, sal mense wat hulle nie aan God wou steur nie orals openlik in trane uitbars. Wanneer hulle die wonderlike glans en krag van die Seun sien, gaan hulle hartverskeurend huil…’ (Matteus 24:30 DB). Jy gaan nie per ongeluk hemel toe nie, jy kies om soontoe te gaan. God sal jou keuse eer. Diegene wat Christus as hulle Redder erken, sal opstaan om die grootste familiereünie van alle tye saam te vier. Gaan jy hemel toe? As jy nie seker is nie, moenie dat hierdie dag tot ‘n einde kom voor jy jou vertroue in Christus geplaas het en Hom as jou Here en Redder aanvaar het nie.

Sielskos: Jer 36:27-40:16; Matt 5:21-37; Ps 102:12-17; Spr 15:3