Het jou seëning ‘n las geword?
2019-05-03Lukas 12:15 NLV
In Jules Verne se boek, The Mysterious Island, ontsnap vyf mans uit die tronk deur ‘n warmlugballon te kaap. Hulle kom vinnig agter dat die wind besig is om hulle oor die see uit te dra. Hulle sien hoe die horison kleiner word en besef dat hulle hoogte begin verloor. Omdat hulle geen manier het om die lug in die ballon warm te maak nie, begin hulle van hulle ekstra gewig oorboord gooi. Skoene, jasse en wapens word onwillig oorboord gegooi en hulle juig wanneer die lugballon weer begin styg. Binnekort is hulle weer gevaarlik naby aan die golwe en begin hulle om hulle kos oorboord te gooi. ‘n Derde keer begin die lugballon daal en hierdie keer stel een van die mans voor dat hulle die toue wat die mandjie aan die ballon vasmaak aanmekaar vasknoop en dan die mandjie moet lossny, sodat hulle op die toue sit. Die mandjie val weg en hulle begin weer styg. Skielik sien hulle land. Met nie ‘n sekonde om te spaar nie, spring hulle in die water en begin na die eiland toe te swem. Hulle lewens is gered omdat hulle geleer het waarsonder hulle kon lewe. Hoekom het Jesus gesê: ‘…Ware lewe word nie gemeet aan hoeveel ons besit nie’? Omdat dit wat jy dink ‘n seëning is, op die ou einde in ‘n las kan verander. Dit waarna jy vandag strewe, kan môre ‘n bekommernis word. Jesus het gesê: ‘…Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (Matteus 6:32-33 NLV).
Sielskos: Num 25-26; Mark 4:13-25; Ps 37:32-40; Spr 11:7-8