Dink onselfsugtig. Gee anoniem.

2019-04-30
Filippense 2:4 NLV

Paulus skryf: ‘Moenie net aan julleself dink of heeltyd aandag soek nie. Wees liewer maar die minste sodat ander die meeste kan wees. Niemand moet net aan homself dink nie. Elkeen moet ook aan die ander om hom dink. Julle moet Christus Jesus se voorbeeld volg. Soos Hy oor dinge gedink en gevoel het, so moet julle ook daaroor dink en voel’ (verse 3-5 DB). Om minder selfsugtig te wees begin met die besluit om op te hou om so baie aan jouself te dink en te begin oplet na maniere om ander mense te help. As jy onselfsugtig en meer soos Christus wil word, moet jy hierdie twee dinge begin doen: 1) Plaas jouself in situasies waar mense behoeftes het. Is dit riskant? Natuurlik. Jy loop die gevaar om verwerp te word, misverstaan te word en foute te maak. Om egter onselfsugtig te word beteken dat jy jouself in ‘n posisie moet plaas waar jy ‘n ander persoon se behoefte kan sien en iets daaraan doen. Met ander woorde, raak betrokke! 2) Gee stilweg of anoniem. Jesus het gesê: ‘…Moenie julle praktiese godsdiens in die openbaar beoefen sodat almal julle bewonder nie. Anders gaan julle julle beloning by julle hemelse Vader misloop… Maar as jy mense in nood help, doen dit sonder groot vertoon. So sal jou hulpbetoon geheim bly, en jou Vader wat alle geheime ken, sal jou beloon’ (Matteus 6:1-4 NLV). Dis makliker om te gee wanneer jy erkenning ontvang as wanneer niemand daarvan weet nie. Diegene wat egter gee om erkenning en applous te kry, het reeds hulle beloning ontvang (sien Matteus 6:2). Daar is geestelike, verstandelike en emosionele voordele verbonde aan diegene wat anoniem gee. Probeer dit. Die vervulling wat jy sal ontvang, sal jou aanmoedig om dit ‘n leefstyl te maak.

Sielskos: Num 16-18; Mark 3:7-19; Ps 37:8-15; Spr 11:3

Sit of dien?

2019-04-29
Lukas 22:27 NLV

Die wêreld vereer rykdom, mag, talent en roem. Soms sien dit diensbaarheid as minderwaardig. Jesus het egter ‘n ander maatstok gebruik toe Hy vir sy dissipels gevra het: ‘Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is of die een wat bedien?..’ Hy het die vraag as volg beantwoord: ‘…Ek is egter in julle midde soos een wat dien.’ Paulus het gesê dat Jesus alles prysgegee het: ‘Hy het Homself verneder en Hy het geword soos ‘n slaaf, Hy het ‘n mens geword soos ons….’ (Filippense 2:7 NLV). Ons as Christene hou daarvan om onsself diensknegte te noem, maar hoe reageer jy as jy soos een behandel word? In die bovertrek het al die dissipels ‘n prominente sitplek gesoek, maar Jesus ‘n plek om te dien! Soos hulle gewag het om bedien te word, het Jesus ‘n waskom geneem en hulle vuil, eelterige voete gewas. Kan jy jou indink hoe hulle gevoel het? Die wêreld baseer belangrikheid op die aantal mense wat jou dien, maar God is meer geïnteresseerd in die aantal mense wie jy dien. Hy eer diegene wat onbaatsugtig, sonder om te kla of erkenning te soek, dien. Die waarheid is dat dit meer karakter verg om ander mense te dien as om rond te sit en te wag om bedien te word. Hier is dus die vraag: Sit jy deesdae meer as wat jy dien? As dit die geval is, is dit tyd om God vir ‘n onbaatsugtige gees en ‘n dienaar se hart te vra; en op soek te wees vir geleenthede om te dien waar Hy jou ook al plaas. Hoekom? Omdat Jesus gelewe het om te dien en sy Woord aan jou is: ‘…’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie…’ (Johannes 15:20 NLV).

Sielskos: Num 14-15; Mark 3:1-6; Ps 37:1-7; Spr 11:1-2

Jou beste dae lê nog voor

2019-04-28
Psalm 147:3 NLV

As jy probeer om van ‘n gebroke verhouding te herstel, moenie ‘n ander een te vinnig aanknoop nie. Soos jy gesond raak, begin jy gesonde besluite te neem. Sommige seerplekke neem ‘n lang tyd om te genees, maar moenie moedeloos word nie: ‘Hy genees die gebroke hart, en verbind die wonde.’ Gee God ‘n kans. Neem tyd om sy Woord te ondersoek en uit te vind hoe Hy oor jou voel, want dis die ware basis vir alle selfwaarde. As God jou met volle kennis van jou tekortkominge kan liefhê en aanvaar, moet jy jouself minder veroordeel! Jy kan liefhê en liefgehê word, maar net met dieselfde maat waarin jy jouself liefhet! (sien Matteus 22:39). Maak volgende keer seker dat jou keuses gesonde keuses is en nie net op behoeftes of die vrees vir eensaamheid gebaseer is nie. Wees ook versigtig; wanneer jy jouself nie kosbaar ag nie, trek jy mense aan wat dieselfde oor jou voel, insluitend diegene wat jou sal probeer beheer. Jy verdien beter, hou dus jou oë oop daarvoor. Onthou, jy lei ander mense op om jou te behandel op die manier wat jy jouself behandel. Soos jy heel word, sal jy sien hoe ongesond sommige van die keuses in jou verhoudings was. As sommige mense jou dan verlaat, dan is dit nou maar so. Soms moet jy iets wat minder is, opgee sodat God vir jou meer kan gee. Hy het nuwe verhoudings vir jou in gedagte, maar Hy wag dat jou waardes, persepsies en selfwaarde in lyn met sy Woord kom. Neem dit dus stap vir stap, een dag op ‘n slag. Wees bly – jou beste dae lê nog voor!

Sielskos: Eks 20:8-11; Eks 16:1-31; Mark 3:1-6; Luk 13:10-17

Neem beheer van jou gedagtes

2019-04-27
Filippense 4:8 ABA

Die Bybel sê: ‘Satan het reeds in Judas… ingevaar. Hy het weggegaan om te onderhandel met die leierpriesters en die bevelvoerders van die tempelwag oor hoe hy Jesus aan hulle sou uitlewer’ (Lukas 22:3-4 NLV). Dit kom voor asof Judas altyd besig was om aan geld te dink en Satan het dit tot sy vernietiging uitgebuit. Gedurende die drie jaar wat Judas vir Jesus gevolg het, het Hy hom meermale oor die gevaar om geld lief te hê, gewaarsku. Jou gedagtes hou nooit op werk nie en as jy nie beheer daarvan neem nie, sal dit jou begin beheer. Paulus skryf: ‘Julle moet altyd dink aan die dinge wat waar is, wat mooi is, wat reg is, wat rein is, wat pragtig en goed is. Ja, julle moet dink aan alles wat mooi is, alles waarop ‘n mens trots kan wees.’ Wat jy word, is ‘n direkte gevolg van dit waarop jou gedagtes gefokus is. Ralph Waldo Emerson het gesê: ‘Die lewe bestaan uit dit wat ‘n man [of vrou] heeldag aan dink.’ John Locke het gesê: ‘Die aksies van mans [of vrouens] is die grootste interpreteerders van hulle gedagtes.’ James Allen het gesê: ‘Jy is vandag waar jou gedagtes jou gebring het. Jy sal môre wees waar jou gedagtes jou heen vat.’ Dis hoekom die apostel Petrus ons waarsku: ‘…Sorg dat julle helder dink en gedissiplineerd lewe’ (1 Petrus 1:13 NLV). Dis hoekom die Psalmdigter geskryf het: ‘…bewaar my van opsetlike sondes! Laat hulle nie oor my heers nie… Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees, Here, my rots en my Verlosser’ (Psalm 19:14-15 NLV). Let die woorde ‘gedagtes van my hart’ op. Die woord vir jou vandag is: Neem beheer van jou gedagtes.

Sielskos: Num 11-13; Mark 2:18-28; Ps 2; Spr 10:30-32

Denke deur die Gees gelei

2019-04-26
1 Korintiërs 2:16 NLV

Die Bybel sê: ‘…’Wat geen oog gesien het; wat geen oor gehoor het; wat in niemand se hart opgekom het nie – dit het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet.’ Maar ons ken hierdie geheim omdat God dit deur sy Gees aan ons bekendgemaak het…’ (1 Korintiërs 2:9-10 NLV). Het jy God lief? As jy het, sal Hy sy gedagtes aan jou bekend maak. Wat ‘n voordeel! Paulus skryf: ‘As ons hierdie dinge aan julle vertel, gebruik ons nie woorde wat hulle oorsprong het in menslike slimmigheid nie, maar wat hulle oorsprong het in die Gees. Ons gebruik woorde wat van die Gees kom om geestelike waarhede te verduidelik’ (vers 13 NLV). Moenie dink dat hierdie ‘geestelike dinge’ net tot gebed, Bybelstudie en kerk aktiwiteite beperk word nie. Hierdie belofte is van toepassing op elke area van jou lewe, insluitend jou familie, finansies, jou loopbaan ens. Die Bybel sê: ‘…ons is ingestel om soos Christus te dink.’ Dit beteken dat wanneer jy voor ‘n probleem te staan kom, jy kan bid: ‘Here, help my om hierdie te sien soos U dit sien.’ Wanneer jy ‘n belangrike besluit moet neem, kan jy bid: ‘Here, openbaar dit wat ek nie weet nie aan my en leer my wat ek nodig het om te weet, sodat my besluit in lyn met u wil en die beste vir almal betrokke sal wees.’ In plaas daarvan om God tot die kerk en sogenaamde ‘geestelike aktiwiteite’ te beperk, vra sy hulp in elke area van jou lewe. Psalm 46:11 sê: ‘Wees stil en weet Ek is God!..’ (NLV). Dit beteken dat jy lank genoeg stil moet wees sodat Hy sy denke in jou gedagtes kan plaas. Wanneer dit gebeur – en dit sal – sal jy nooit enige ander manier wil dink nie.

Sielskos: Num 8-10; Mark 2:1-17; Ps 35; Spr 10:28-29

God werk in jou lewe

2019-04-25
Job 23:10 NLV

Dis ‘n fout om jou met ander mense te vergelyk, omdat God ‘n plan vir jou het wat uniek en persoonlik is. Sy metodes mag dalk soms vreemd en sy opleiding moeisaam lyk, maar sy resultate is altyd die wag werd. Sonder swendelary en speletjies vervul Hy sy doel in ons lewens en al wat Hy van ons vra, is om te vertrou en gehoorsaam te wees. Dis so eenvoudig. Let drie dinge op wat Job, te midde van onnoembare hartseer en moeilikheid, oor God gesê het: 1) ‘Maar Hy weet waarheen ek gaan!’ Die pad waarop jy vandag is, is die een wat God vir jou gekies het en Hy maak nooit foute nie. Selfs wanneer jy nie weet waar Hy is nie, weet Hy waar jy is omdat Hy nooit sy oë van jou afhaal nie. 2) ‘Wanneer Hy my toets.’ Die woord ‘wanneer’ beteken dat God ‘n spesifieke tyd gekies het waarin jy getoets sal word en dat daar ‘n spesifieke tyd is wanneer jy uit die toets gebring sal word. Is jy nie bly dat dit Hy, eerder as mense, is wat jou toets nie? Sal jy enigiemand anders as Hom vertrou om jou deur hierdie leerkurwe te bring? Natuurlik nie. 3) ‘Soos goud in ‘n vuur sal Hy my onskuldig verklaar.’ Wanneer God jou klaar gesuiwer het en die onsuiwerhede uit jou lewe verwyder het, sal jy soos helder en kosbare goud skyn. Die proses volg altyd op die belofte. Ander mense mag dalk selfs vra of jy dieselfde persoon is. Wanneer hulle dit vra, antwoord net eenvoudig: ‘Nee!’

Sielskos: Num 7; Mark 1:21-45; Ps 94:12-23; Spr 10:27