Dink onselfsugtig. Gee anoniem.

2019-04-30
Filippense 2:4 NLV

Paulus skryf: ‘Moenie net aan julleself dink of heeltyd aandag soek nie. Wees liewer maar die minste sodat ander die meeste kan wees. Niemand moet net aan homself dink nie. Elkeen moet ook aan die ander om hom dink. Julle moet Christus Jesus se voorbeeld volg. Soos Hy oor dinge gedink en gevoel het, so moet julle ook daaroor dink en voel’ (verse 3-5 DB). Om minder selfsugtig te wees begin met die besluit om op te hou om so baie aan jouself te dink en te begin oplet na maniere om ander mense te help. As jy onselfsugtig en meer soos Christus wil word, moet jy hierdie twee dinge begin doen: 1) Plaas jouself in situasies waar mense behoeftes het. Is dit riskant? Natuurlik. Jy loop die gevaar om verwerp te word, misverstaan te word en foute te maak. Om egter onselfsugtig te word beteken dat jy jouself in ‘n posisie moet plaas waar jy ‘n ander persoon se behoefte kan sien en iets daaraan doen. Met ander woorde, raak betrokke! 2) Gee stilweg of anoniem. Jesus het gesĂȘ: ‘…Moenie julle praktiese godsdiens in die openbaar beoefen sodat almal julle bewonder nie. Anders gaan julle julle beloning by julle hemelse Vader misloop… Maar as jy mense in nood help, doen dit sonder groot vertoon. So sal jou hulpbetoon geheim bly, en jou Vader wat alle geheime ken, sal jou beloon’ (Matteus 6:1-4 NLV). Dis makliker om te gee wanneer jy erkenning ontvang as wanneer niemand daarvan weet nie. Diegene wat egter gee om erkenning en applous te kry, het reeds hulle beloning ontvang (sien Matteus 6:2). Daar is geestelike, verstandelike en emosionele voordele verbonde aan diegene wat anoniem gee. Probeer dit. Die vervulling wat jy sal ontvang, sal jou aanmoedig om dit ‘n leefstyl te maak.

Sielskos: Num 16-18; Mark 3:7-19; Ps 37:8-15; Spr 11:3