Neem tyd om te reflekteer (3)

2019-04-24
Deuteronomium 32:29 NLV

As jou doelwit persoonlike groei is, moet jy tyd maak om te reflekteer. Dus: 1) Verwyder jouself van afleidings. Refleksie en afleiding werk nie saam nie. Refleksie vereis eensaamheid. Dis nie die tipe ding wat jy goed naby ‘n televisie, terwyl die telefoon lui of met kinders in dieselfde kamer, kan doen nie. Jy sê: ‘Maar ek het nie tyd om te reflekteer nie.’ Ons almal het 168 ure elke week. As jy net een van daardie ure spandeer om te reflekteer, sal jy verstom staan oor hoe dit jou lewe sal verryk. 2) Hersien jou kalender of dagboek gereeld. Wat kan immers beter as ‘n dagboek wees om jou te help reflekteer oor waar jy was en die dinge wat jy gedoen het? Hierdie twee dinge herinner jou aan hoe jy jou tyd spandeer het. Hulle wys of jou aktiwiteite met jou prioriteite ooreenstem. Hulle help jou sien of jy vordering maak. Hulle bied ook aan jou die geleentheid om aktiwiteite te onthou waaroor jy nog nie kans gehad het om te reflekteer nie. Sommige van jou kosbaarste gedagtes mag verlore gegaan het omdat jy nie jouself genoeg tyd gegun het om te reflekteer nie. 3) Vra die regte vrae. Die Bybel sê: ‘Was hulle maar wys, sou hulle verstaan en sien wat hulle lot sal wees!’ Vra jouself die volgende af: ‘Groei ek persoonlik en in my pad saam met God? Versterk ek my verhoudings met die mense in my lewe wat saak maak? Gebruik ek die gawes en verskerp ek die vaardighede wat God my gegee het?’ Wanneer jy oor sulke vrae reflekteer, kan dit jou lewe ten goede verander.

Sielskos: Num 4:34-6:27; Mark 1:14-20; Ps 94:1-11; Spr 10:24-26

Neem tyd om te reflekteer (2)

2019-04-23
Prediker 7:14 NLV

Die digitale era hou groot voordele vir ons in. Deur e-posse, sms’e en tweets kan ons vinnig kommunikeer. Die nadeel is dat dit nie binne in ons die begeerte om diep oor dinge te dink, aanmoedig nie. Jy kan nie persoonlike groei in die mikrogolf gaarmaak nie; jy het ‘n erdepot daarvoor nodig. Die Bybel sê: ‘Geniet die dag van voorspoed. Maar wanneer teëspoed kom, onthou, God gee die een sowel as die ander…’ Wanneer jy die tyd neem om te reflekteer: 1) Kry jy vertroue in jou vermoë om besluite te neem. Het jy al ooit ‘n vinnige besluit geneem en later gewonder of jy die regte ding gedoen het? Reflekterende denke kan jou help om daardie vertwyfeling te oorkom. Dit gee jou ook selfvertroue vir die volgende besluit. Sodra jy oor ‘n kwessie gereflekteer het, beteken dit dat jy nie elke stap van jou denkproses hoef te volg wanneer jy weer voor so ‘n besluit te staan kom nie. Jy het denkbeeldige merkers omdat jy reeds voorheen daar was. 2) Maak jy die groter prentjie duideliker. Reflekterende denke moedig ons aan om terug te gaan en weer oor dit wat ons gedoen en gesien het, te dink. Om jouself daarvan te weerhou om dieselfde fout oor en oor te maak, moet jy stop en die proses wat daartoe gelei het, ondersoek. Refleksie help jou dus om die groter prentjie te sien. 3) Neem jy ‘n goeie ervaring en maak dit ‘n nuttige ervaring. Hulle sê dat ons uit ervaring leer. Nee, ons leer uit geëvalueerde ervaring. ‘n Ervaring word nuttig wanneer dit ons toerus en kennis gee. Dis hoekom daaglikse gebed en Bybelstudie so noodsaaklik is. Jy sal dinge in God se teenwoordigheid verstaan wat jy op geen ander manier sal verstaan nie.

Sielskos: Matt 27:62-66; Mark 1:9-13; Ps 6; Deut 21:22-23

Neem tyd om te reflekteer (1)

2019-04-22
Rigters 14:8 NLV

Een dag het Simson teen ‘n leeu te staan gekom en hom verslaan. Die Bybel sê: ‘Toe hy later weer… terugkom… het hy afgedraai om na die leeu se karkas te gaan kyk. ‘n Swerm bye was besig om in die geraamte heuning te maak. Hy het met sy hand van die heuning uitgehaal en langs die pad daaraan loop en eet…’ (verse 8-9 NLV). Daar is ‘n les hieruit te leer. Wanneer jy die tyd neem om te stop en te reflekteer, ontdek jy ‘heuning’ in jou ervarings wat jy kan eet om sterker en wyser te word. Wanneer jy reflekteer is jy in staat om dinge in perspektief te plaas; jy kry nuwe waardering vir dinge wat jy nie voorheen opgemerk het nie. Min van ons het ‘n duidelike perspektief in die hitte van die oomblik. Die meeste van ons wat ‘n traumatiese ervaring beleef het, vermy gewoonlik ten alle koste soortgelyke situasies. Dit kan ons met onopgeloste kwessies laat. Reflekterende denke stel jou in staat om afstand van die intense emosies van ‘n ervaring te kry en dit met vars oë te sien. Dis inderdaad die eerste stap om van ons emosionele bagasie ontslae te raak. President George Washington het opgemerk: ‘Ons moenie terugkyk nie, tensy ons dit doen om nuttige lesse uit foute uit die verlede te leer.’ Elkeen van ons is deur die ervarings in ons lewe – goed en sleg – gevorm. Die dinge wat ons weier om te hanteer, beheer ons dikwels op skadelike maniere. Wanneer ons dit egter in die lig uitbring en God vir die genade vra om hulle vas in die oë te kyk, verloor hulle hul mag oor ons.

Sielskos: Num 3:1-4:33; Mark 1:1-8; Ps 144:9-15; Spr 10:22-23

Die unieke opstanding van Jesus (2)

2019-04-21
Johannes 11:25 NLV

Hoekom is Christus se opstanding uniek? 1) Hy is die enigste een wat nie weer gesterf het nie. Al die ander wat in die Skrif uit die dood opgestaan het, het weer gesterf. Jesus was die wonderlike uitsondering. Uiteindelik het Hy ‘…’n priester geword omdat Hy nie kon sterf nie’ (Hebreërs 7:16 ABA). Sy getuienis staan sterk: ‘…Ek was dood en kyk, nou leef Ek vir altyd…’ (Openbaring 1:18 NVL) 2) Hy het opgevaar na die hemel om ons voor God te verteenwoordig. Jesus is ‘…priester vir ewig…’ (Hebreërs 7:17 NLV). Hy sit egter nie net en wag op sy wederkoms nie, Hy verteenwoordig ons voor God. ‘Christus het immers tot in die hemel self ingegaan om nou as ons voorspraak voor God te verskyn…’ (Hebreërs 9:24 NLV). Dit beteken dat geen beskuldiging teen ons staande kan bly nie. ‘Wie sal ons veroordeel? Christus Jesus is tog die Een wat vir ons gesterf het… wat op die ereplek langs God sit en wat daar vir ons pleit’ (Romeine 8:34 NLV). 3) Hy het die mag om jou weer lewendig te maak wanneer jy sterf. Jesus het sy dissipels met hierdie wonderbaarlike belofte getroos: ‘Nog net ‘n klein tydjie en die wêreld sien My nie meer nie, maar julle sien My nog omdat Ek lewe en julle sal lewe’ (Johannes 14:19 NLV). Hierdie belofte is ook op jou van toepassing! ‘Wat eerste gaan gebeur, is dat die Here self uit die hemel sal neerdaal en dat die dooies wat aan Christus behoort, sal opstaan… Daarna sal ons wat bly lewe het, saam met hulle op wolke die lug in weggevoer word om die Here te ontmoet en vir altyd by Hom te wees’ (1 Tessalonisense 4:16-17 NLV). Wat ‘n wonderlike dag sal dit nie wees nie!

Sielskos: 1 Kor 15; Luk 24:1-53

Die unieke opstanding van Jesus (1)

2019-04-20
Openbaring 1:18 NLV

Die feit dat Jesus uit die dood opgestaan het is nie wat Hom uniek maak nie. Die Bybel teken sewe ander opstandings aan. Jesus was nommer agt (die Bybelse nommer vir nuwe begin). In twee wonderbaarlike maniere was sy opstanding egter soos geen ander nie. 1) Sy opstanding was die enigste een wat vooraf voorspel is. Dawid het oor Jesus geprofeteer: ‘Want aan die doderyk sal U my nie prysgee, of toelaat dat u getroues in die graf ontbind nie’ (Psalm 16:10 NLV). Jesaja het vir Hom ‘n lewe na sy kruisiging voorspel ‘…Al het die Here sy lewe ‘n skuldoffer gemaak, sal hy ‘n groot nageslag kry en nog lank lewe…’ (Jesaja 53:10 NLV). Jesus het sy eie opstanding uit die dood voorspel. ‘Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels begin duidelik maak dat God wil hê Hy moet na Jerusalem gaan… en doodgemaak word, maar God sal Hom op die derde dag weer lewendig maak’ (Matteus 16:21 NLV). 2) Jesus was ten volle in beheer van sy opstanding! Sy vyande het Hom as ‘n hulpelose slagoffer van hul vasbeslote pogings om Hom en sy missie uit te wis, gesien. Hulle was egter heeltemal verkeerd! Hy het gesê: ‘Niemand ontneem My my lewe nie, maar Ek offer dit uit My eie op. Ek het die volmag om dit op te offer en Ek het die volmag om dit weer op te neem…’ (Johannes 10:18 NLV). Al Rome se mag en die haat van sy Joodse vervolgers kon Jesus of sy saak nie tot niet maak nie. In sy dood en in sy opstanding, was Hy altyd in beheer. ‘…Sloop hierdie tempel [my liggaam] en in drie dae sal Ek dit weer oprig’ (Johannes 2:19 NLV). Hy het dit gedoen! Hy lewe vir ewig!

Sielskos: Num 1-2; Luk 23:50-56; Ps 144:1-8; Spr 10:19-21

Die transformerende waarheid van Golgota (4)

2019-04-19
Johannes 19:30 NLV

Golgota was seëvierend! Nooit was moed groter of krag sterker nie. Toe Hy gesê het: ‘Dit is nou afgehandel’ (sommige vertalings lees ‘Dit is volbring’), het Hy nie bedoel dat Hy klaar of oorwonne was nie. Jesus is glad nie deur Golgota verpletter nie, Hy het op drie maniere geseëvier: 1) Hy het sy eie menslike begeerte om onbeskryflike lyding te vermy, oorkom: “Hy het… met sy gesig plat teen die grond gebid: ‘O my Vader! As dit moontlik is, neem tog hierdie lydensbeker van My weg. Doen nogtans nie soos Ék wil nie, maar soos Ú wil'” (Matteus 26:39 NLV). 2) Hy het die demoniese magte van die duisternis oorwin. ‘So het Hy die hemelse en aardse magte ontwapen. Hy het hulle in die openbaar bespotlik gemaak deur aan die kruis oor hulle te triomfeer’ (Kolossense 2:15 NLV). 3) Hy het die wet se hardkoppige eise teen sondaars oorwin. ‘Christus is immers die eindbestemming van die wet sodat elkeen wat in Hom glo, vrygespreek kan word’ (Romeine 10:4 NLV). By Golgota het liefde oor die wet geseëvier en ons wat nooit God se wet ten volle sou kon onderhou nie, is vrygemaak. ‘Dit is nou afgehandel!’ was die uitroep van ‘n oorwinnaar, nie van ‘n slagoffer nie! Dit het nie so vir die skare of sy geskokte en hartseer dissipels gelyk nie. Drie dae later het dit egter so gelyk toe die leë graf bewys het dat Jesus die dood oorwin het. Dit kom alles neer op die volgende: ‘Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word’ (Romeine 10:9 NLV).

Sielskos: Gen 22:1-18; Luk 23:26-49; Ps 22; Jes 53