Kry jou goedkeuring by God

2020-06-12
Psalm 123:2 NLV

Dis altyd lekker om vir die werk wat jy doen gewaardeer te word, maar wanneer dit nie gebeur nie, kan dit jou selfwaarde affekteer. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Soos oë van slawe gerig is op die hand van hulle meester… so is ons oë gerig op die Here…’ Jou waarde kom van God, nie van jou baas af nie. Wanneer jy dit vergeet, stel jy jouself vir frustrasie in die werkplek oop. Dit kan gebeur dat jy minder effektief in jou werk word, omdat jy nie gewillig is om besluite en risiko’s te neem nie, vir ingeval dit ander mense se dunk van jou affekteer. Jy word dan inderwaarheid ‘n ‘ja’ man of vrou, wat net knik en met almal saamstem om hulle tevrede te stel sodat hulle van jou sal hou. Gevolglik daal jou waarde vir die maatskappy, omdat jy nie jou Godgegewe gawes ten volle gebruik nie. Jou posisie is net ‘n klein gedeelte van wie jy is, ‘n speek wat van die kern van jou identiteit as seun of dogter van die Koning van konings, uitgaan. Jy is nie die rat wat die wiel draai nie. Deur te weet wie jy is, apart van wat jy doen, is net so noodsaaklik vir sukses in die werkplek soos jou ervaring en vaardighede. Wanneer ander mense weet dat jy konstante goedkeuring nodig het, bemagtig dit hulle om jou te manipuleer, jou te definieer en jou selfwaarde te beïnvloed. Dis te veel mag om vir enigiemand te gee! Of jy nou met ‘n besem vee of aan die hoof van ‘n miljoen-rand projek staan, onthou: ‘Wat julle ook al…doen, doen alles tot eer van God’ (1 Korintiërs 10:31 NLV).

Sielskos: 2 Kon 1:1-4:17; Mark 15:33-47; Ps 80:1-11; Spr 13:11-12

Onthou God se goedertierenheid aan jou

2020-06-11
Psalm 26:3 AFR53

Daar is ‘n verhaal van ‘n klein seuntjie aan wie gevra is: ‘Sê jy elke aand jou gebedjie op?’ Hy het geantwoord: ‘Nee, party aande het ek niks nodig nie!’ Ons glimlag, maar die punt is pynlik voor die hand liggend. As jou man of vrou net met jou gekommunikeer het wanneer hulle in die moeilikheid was of ‘n behoefte gehad het wat hulle nie self kon vervul het nie, hoe lank dink jy sou die verhouding gehou het? Daar moet ‘n balans tussen jou lofprysing en jou petisies wees. Jy sê: ‘As die Here groot genoeg is om die heelal te skep en te bestuur, twyfel ek of Hy gepla is as iemand so onbenullig soos ek nie dankie sê nie.’ Dis nie so nie! Toe Jesus tien melaatse mans genees het en net een teruggedraai het om dankie te sê, het Hy gevra: “…’Waar is die ander nege?'” (Lukas 17:17 NLV). As God alleenlik jou op grond van sy geregtigheid en jou geneigdheid tot ongeregtigheid hanteer het, sou jy dit nie gemaak het nie! Hy doen dit egter nie. Hy sê: ‘…Ek het jou lief met ‘n liefde wat nooit ophou nie. Ek trek jou met troue liefde na My toe’ (Jeremia 31:3 NLV). Toe die Psalmdigter dit besef, het hy geskryf: ‘Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys. Só sal ek U prys my lewe lank, in u Naam my hande ophef’ (Psalm 63:4-5 AFR53). Iemand het geskerts: ‘God gee nie om om ‘n faktuur te ontvang nie, solank as wat Hy daarvoor gedank word!’ Neem dus ‘n oomblik en onthou God se goedertierenheid aan jou.

Sielskos: Op 19-22; Mark 15:21-32; Ps 143; Spr 13:9-10

Moenie omkyk nie

2020-06-10
Genesis 19:26 NLV

Voor Sodom en Gomorra vernietig is, het engele van die Here vir Lot en sy familie gered. ‘Buite die stad waarsku die engele: ‘Vlug vir julle lewe! Moet nêrens in die vlakte stilstaan nie! En moenie omkyk nie! Vlug na die berge, anders sal julle doodgaan’ (vers 17 NLV). Lot se vrou het egter omgekyk ‘en in ‘n soutpilaar verander.’ Daar is ‘n belangrike les vir elkeen van ons hieruit te leer: Weerstaan die versoeking om in die dryfsand van die foute van die verlede te talm – jou eie of ander mense s’n. Dit kan moeilik wees om vorentoe te kyk wanneer daar afgryslike goed met jou in die verlede gebeur het. Wanneer jy egter in die verlede vasgevang word, mis jy die goeie dinge wat God in die hede vir jou beplan. Die goeie nuus is dat dit nooit te laat is om God toe te laat om jou te gebruik en jou vorentoe in jou lewensreis te beweeg nie. Hy kan die wonde wat ander mense op jou gelaat het, weer heel maak. Hy kan jou wyser as gevolg van slegte besluite wat jy in die verlede geneem het, maak. Dis nie te laat om te word wat jy kon gewees het nie. God verlustig Hom daarin om ons swakhede in sterkpunte te omskep. Hy kan skatte uit dit wat jy as gemors weggegooi het, omskep. As jy van die pad wat Hy wil hê jy moet volg, weggedraai het, is dit nou die tyd om na sy hoofweg toe terug te keer. “‘Ek weet wat Ek vir julle beplan het,’ sê die Here. ‘Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê'” (Jeremia 29:11 NLV). Beweeg dus vorentoe – en moenie omkyk nie.

Sielskos: Op 15-18; Mark 15:1-20; Ps 132:11-18; Spr 13:7-8

Week jou gedagtes in God se Woord

2020-06-09
Psalm 119:11 NLV

Voel jy ontmoedig omdat jy dieselfde sondes oor en oor begaan? Hier is jou antwoord: Week jou gedagtes in God se Woord! Net soos jy ‘n spons in water laat week en dit druppend en vol water is wanneer jy dit uithaal, so moet jy jou gedagtes in die Skrif week totdat dit tot oorlopens toe vol is met God se Woord. Wanneer jy dan versoek word om verkeerd te doen, sal jou reaksie deur die Gees en die Woord bemagtig word. As jy dus moeg en siek daarvoor is om nederlaag op nederlaag te ervaar, kan jy die volgende Skrifgedeeltes gebruik om jou gedagtes te vul en jou heel te maak: ‘Hoe kan ‘n jongmens (of ‘n ouer een!) ‘n skoon lewe lei? Deur gehoorsaam te wees aan u woord’ (vers 9 NLV). ‘Julle is reeds skoon gesnoei deur die boodskap wat Ek met julle gedeel het’ (Johannes 15:3 NLV). ‘…Deur die water van die Woord was Hy die kerk (en jou) skoon’ (Efesiërs 5:26 NLV). ‘Die woord van God is vol lewenskrag en energie. Dit is skerper as die ontleedmes van ‘n chirurg. Dit sny diep tot binne-in ons innerlikste wese, tot in ons gewrigte en murg. Dit vlek ons diepste motiewe en oorwegings oop’ (Hebreërs 4:12 NLV). ‘Toe U gepraat het, het ek mooi geluister. Ek het elke woord ingeneem. U woorde het my bly gemaak. Dit maak my opgewonde om te weet dat ek aan U behoort, o Here God die Almagtige’ (Jeremia 15:16 NLV). Hierdie Skrifgedeeltes lei almal tot een gevolgtrekking: As jy ernstig daaroor is om in oorwinning te stap, moet jy jouself in God se Woord verdiep en God se Woord in jou verdiep. Daar is nie ‘n ander manier nie.

Sielskos: Op 10-14; Mark 14:66-72; Ps 132:1-10; Spr 13:4-6

Wanneer jou kind buite beheer is

2020-06-08
Jesaja 54:13 AFR53

Min dinge kan jou hart so breek soos ‘n kind wat op dwelms is, of met die verkeerde vriende meng en by aktiwiteite wat hulle lewens kan vernietig, betrokke raak. Wat moet jy as ouer doen? Eerstens, moet jy vir hulle bid en God se beloftes oor hulle uitspreek. Jy mag dalk nie in staat wees om hulle te verander nie, maar God kan. Sy Woord sê: ‘En al jou kinders sal deur die Here geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.’ Wat as jou kind buite beheer is, maar nog in die ouerhuis bly? Dan het jy ‘n groot uitdaging wat God se hulp benodig. Soms is jou ‘probleemkind,’ ‘n kind met ‘n groot roeping en toekoms en Satan weet dit. God het ‘n roeping op hulle lewe geplaas en dis waaroor die stryd gaan! Jy het as ouer God se wysheid nodig wanneer dit by die volgende kom: 1) Om duidelike grense te stel met gepaste en konsekwente nagevolge. Die Bybel sê: ‘Tug is nodig! As ‘n kind toegelaat word om te doen net wat hy wil, loop dinge verkeerd. Dissipline verdryf stoutighede’ (Spreuke 22:15 DB). 2) Om die vrees te oorkom dat jou kind jou sal verwerp wanneer jy ‘n onpopulêre, maar wyse besluit maak. Satan sal jou probeer oortuig dat jy hulle sal verloor wanneer jy hulle dissiplineer. Die waarheid is dat jy hulle sal verloor indien jy hulle nie dissiplineer nie! Onthou: ‘Want God het ons nie ‘n gees van skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7 NLV). Twee van die grootste wapens wat jy kan gebruik om Satan oor jou kind se toekoms te beveg, is gebed en deur vas op God se Woord te staan. As jy getrou aan God bly – sal jy wen.

Sielskos: Op 5-9; Mark 14:53-65; Ps 48; Spr 13:2-3

Vertraadge verhoudingsontwikkeling (4)

2020-06-07
Spreuke 13:20 NLV

Kom ons kyk na vertraagde verhoudingsontwikkeling. God se plan vir jou lewe vereis dat jy met die regte mense skakel – en van die verkeerdes ontkoppel. Tydens die paasmaaltyd het Johannes, wat Hom liefgehad het en Judas, wat Hom verraai het, weerskante van Jesus gesit. Dis noodsaaklik om te weet wie aan jou tafel sit! Dus moet jy bid: ‘Here, ek bid vir die mense wat U in my lewe gebring het en op my hart geplaas het. Seën die gesonde verhoudings en gee my die wysheid om die moeilike verhoudings op ‘n manier wat U behaag, te hanteer. As daar vriendskappe is waarvan ek moet wegstap, wat skadelik is, maak nie saak wat ek doen nie, wys my wat om daaromtrent te doen en gee my die genade en moed om dit te doen. As daar verhoudings is wat my aandag van u plan en doelwit aftrek, vertrou ek U om dit tot ‘n einde te bring of om dit te verbeter. Wanneer ek die een is wat moet verander, wys my hoe en werk deur u wonderbaarlike krag in my lewe. Ek het u wysheid nodig om die vriende en kennisse wat ek moet kies, te herken. Help my om weg te bly van verhoudings wat my weglei van die pad wat U vir my gekies het. Stuur mense wat goddelik en wys is in my lewe in en help ons om mekaar te seën, aan te moedig en tot mekaar se lewenskwaliteit by te dra. Wys my watter vriendskappe ek voor moet veg en ek doen dit graag. Wees die Here van al my verhoudings, sodat hulle sal wees wat U wil hê hulle moet wees. In Jesus se Naam bid ek dit. Amen.’

Sielskos: Op 7:13-17; Ps 23; Luk 15:1-7