Leer op die harde manier (2)

2020-06-18
Spreuke 1:10 NLV

Jy soek moeilikheid wanneer jy die verkeerde vriende kies. Iemand het een keer tereg opgemerk: ‘As jy saam met die arende wil sweef, kan jy nie saam met die kalkoene rondhardloop nie.’ Jy word uiteindelik soos die mense waarmee jy die meeste tyd spandeer; dis hoekom dit so belangrik is om jou vriende versigtig te kies. Die Psalmdigter het gesê: ‘Gelukkig is die mense wat nie optree volgens die raad van goddeloses, of rondstaan op die pad van sondaars… nie’ (Psalm 1:1 NLV). Simson het ongesonde verhoudings ontwikkel wat hom op die verkeerde pad gelei het. Hier is dus die vraag: Weerhou jou vriende jou daarvan om 100 persent vir God te lewe? Breek hulle jou af of bou hulle jou op? Wanneer jy saam met hulle is, vind jy dat jy dinge doen wat teenstrydig met jou beginsels of gewete is – dinge waaroor jy nie goed voel nie? Die boek Spreuke waarsku ons herhaaldelik oor negatiewe verbintenisse: ‘My seun, as goddelose mense jou wil ompraat, draai jou rug op hulle.’ Aanhoudende blootstelling aan verkeerde houdings en waardes sal uiteindelik sy tol op jou lewe eis. Dis altyd makliker om iemand af te trek as wat dit is om hulle op te hef. Watter soort vriende moet jy dan hê? Die soort wat die beste in jou uitbring, wat jou ophef, jou aanmoedig en jou ‘n beter persoon maak. ‘Is ons nie veronderstel om alle mense lief te hê nie?’ vra jy. Ja, maar jy is nie veronderstel om op hulle te leun, vir hulle te luister, hulle verkeerde maniere aan te leer of soos hulle te word nie. Jy moet volgens hierdie Skriftuurlike reël jou vriende kies: ‘Ek is ‘n vriend vir almal wat U dien, vir elkeen wat u bevele gehoorsaam’ (Psalm 119:63 NLV).

Sielskos: 2 Kon 16:1-18:16; Luk 1:39-56; Ps 139:7-12; Spr 13:24

Leer op die harde manier (1)

2020-06-17
Hebreërs 11:32 NLV

Simson het wonderlike potensiaal gehad, maar dit alles weggegooi. Hoekom? Om verskeie redes. Hy het nie sy drange beheer nie. Hy was fisies sterk, maar moreel swak. Hy het God se beginsels opsetlik geïgnoreer en sy lewe het ‘n patetiese siklus van mislukkings geword. Hy het nooit uit sy foute geleer nie; hy het dieselfde foute oor en oor gemaak. Dit was vir hom ‘n speletjie: ‘Hoe naby kan ek aan die vuur kom sonder om te brand?’ Delila, ‘n Filistynse prostituut, het hom aanhoudend oor die bron van sy krag gepols en elke keer het sy bietjie nader aan die waarheid gekom. Simson het met versoeking gespeel deur haar aan ‘n lyntjie te hou en uiteindelik het hy gebrand. Ons doen dieselfde wanneer ons dinge sê soos: ‘Dit kan nie seermaak nie… net hierdie een keer.’ Die waarheid is dat niemand van ons beplan om ‘n mislukking te wees nie. Dit kom natuurlik – en geleidelik. Dis ‘n stap-vir-stap proses, wat ons bietjie-vir-bietjie verswak. Ons lewens val nie in een dag uitmekaar uit nie. Probleme bou oor ‘n tydperk op, omdat ons weier om uit ons foute te leer. Miskien dink jy: ‘Maar hierdie is ‘n area van my lewe waaroor ek geen beheer het nie. Dis maar net hoe ek is.’ Dis die verkeerde antwoord. Hier is die regte een: ‘Hy gee krag aan dié wat moeg is. Hy maak die magteloses sterk’ (Jesaja 40:29 NLV). Toe Simson uiteindelik die waarheid oor sy situasie aanvaar het, het God sy siklus van mislukking verbreek en hom die krag gegee om te doen wat hy moet doen – en hy het oorwinning behaal. God sal dieselfde vir jou doen wanneer jy na Hom toe draai!

Sielskos: 2 Kon 13-15; Luk 1:26-38; Ps 139:1-6; Spr 13:21-23

Raak ernstig daaroor om behoeftige mense te help

2020-06-16
Matteus 25:45 NLV

Die Bybel leer ons dat God ons eendag sal evalueer en beloon volgens hoe ons die mense rondom ons wat seer het en behoeftig is, behandel het. Dis hoekom jy ernstig daaroor moet raak om hulle te help. Thomas Barnardo het dit geglo en een van die grootste Christelike helde van die 1800’s geword. Gedurende sy werk onder die armes en haweloses in die ooste van London, het hy ‘n huis vir hawelose kinders gebou wat vierhonderd seuns en dogters gehuisves het. Hy het die Edinburgh Castle Gin Palace and Music Hall in die Coffee Palace, ‘n sentrum vir evangelistiese en Christelike aktiwiteite, omskep. Hy het ‘n dorpie vir dogters gebou wat meer as negeduisend meisies gedurende sy leeftyd bedien het. Altesaam het meer as sestigduisend kinders baat by die beroepsopleidingsentrums en huise wat hy gebou het, gevind. In uiterste gevalle waar hy kinders in die hande van wrede mense gevind het, het hy hulle ‘ontvoer’ – ‘n beleid wat onwettig was wanneer daar ouers by betrokke was. Hy was egter aan ‘n hoër wet gebonde – God se wet. Dit het hom weerloos teenoor kriminele aanklagte en bitter onderhoudsgevegte gemaak, maar uiteindelik is die landswette verander, nie Barnardo nie. Sy suksesverhale het prokureurs, dokters, musikante, vlootoffisiere, besigheidsmanne en koloniale staatsministers ingesluit, wat almal eens op ‘n tyd haweloos was en gered is. Hoe kan jy die wêreld verander? Begin vandag, een lewe op ‘n slag.

Sielskos: 2 Kon 10-12; Luk 1:11-25; Ps 73:17-28; Spr 13:20

Onpartydigheid moet ‘n ‘huisreël’ wees

2020-06-15
Genesis 25:28 NLV

Wedywering tussen broers en susters is normaal en dit verg sensitiwiteit en wysheid om dit te hanteer. Ongelukkig het Isak en Rebekka nie hierdie twee kwaliteite gehad nie. ‘Isak het ‘n voorkeur vir Esau gehad oor die wildsvleis wat hy vir hom gebring het. Rebekka weer, was liewer vir Jakob.’ Josef se moeilikheid het met hierdie woorde begin: ‘Jakob het vir Josef liewer gehad as al sy ander kinders omdat hy gebore is toe Jakob reeds bejaard was. Eendag gee hy vir Josef ‘n besondere geskenk, ‘n pragtige kleed’ (Genesis 37:3 NLV). Dit hoef egter nie so in jou familie te wees nie. Dis nie nodig of gesond om toe te laat dat jou kinders mekaar aanval en mekaar se lewens moeilik maak nie. Jy mag dalk nie in staat wees om hulle verhouding heeltemal te harmoniseer nie, maar wanneer jy onpartydig is, kan jy ten minste verhoed dat dit erger raak deur nie die natuurlike jaloesie tussen jou kinders aan te blaas nie. Sedert die begin van dae, het sibbe mekaar se suksesse verkwalik en om hulle ouers se aandag meegeding. Jy moet dus daarteen waak om opmerkings te maak wat een kind bo ‘n ander stel, veral in die volgende drie areas: 1) Fisiese aantreklikheid. 2) Intelligensie. 3) Vaardighede en atletiese talente. Dit is die drie rou senuwees waaraan selfwaarde hang. Wanneer jy na jou dogter as: ‘My mooi dogter,’ of na jou seun as: ‘Die slim ene,’ verwys, kan dit tierende emosies in die ander kinders veroorsaak wat hulself dan as lelik of dom sien. Paulus het vir Timoteus gesê: ‘…[voer] hierdie opdragte uit… sonder om kant te kies of besondere guns aan enigeen te bewys’ (1 Timoteus 5:21 NLV). Dit was ‘n ‘kerkreël,’ maar dit is ook ‘n ‘huisreël!’

Sielskos: 2 Kon 7-9; Luk 1:1-10; Ps 73:1-16; Spr 13:17-19

Begin oefen

2020-06-14
1 Timoteus 4:8 NLV

Soos jy in jou veertigs, vyftigs en sestigs inbeweeg, is jy geneig om meer te sit. Een vrou het ‘n lewenslange verbintenis gemaak om nooit te sweet nie. ‘n Ander een het gegrap dat die enigste rede hoekom mense draf is om beter by hulle begrafnis te lyk. ‘n Bestuurder het ‘n plakker op sy motor geplak: ‘Die vyftigs kruip nader en dis genoeg oefening vir my.’ Die Bybel sê: ‘Liggaamlike oefening het wel waarde, maar geestelike oefening is baie belangriker, want dit hou die belofte in van beloning, sowel in hierdie lewe as in die volgende.’ Beteken dit dat dit nie belangrik is om na jou liggaam om te sien nie? Nee, dit beteken dat jy in balans moet bly! Wat is die punt daarvan om die deugde van ‘n heilige te hê as jy voor jou tyd met geblokte are sterf? Jy sê: ‘Maar ek hou nie daarvan om te draf of gewigte op te tel nie.’ Dan is daar goeie nuus vir jou. ‘n Onlangse mediese studie het bevind as jy vyf-en-veertig minute ‘n dag aan huishoudelike take soos grassny spandeer, sal jy groter langslewendheid geniet as diegene wat onaktief is. Dis wel nog beter as jy ‘n paar opsitte en opstote by jou roetine kan inwerk, maar dis nie nodig nie. As jy nie jou kar onderhou nie, het jy geen reg om die vervaardiger te blameer nie. As jy nie jou liggaam, wat die tempel van die Heilige Gees is, onderhou nie, het jy geen reg om God te blameer nie. Jy sê: ‘Maar ek glo in goddelike genesing.’ God beloof dit wel in sy Woord aan jou (sien Jakobus 5:14-15). Hy verwag egter van jou om geloof – en wysheid – te gebruik. Jou huis sal dus nie net beter lyk nie, jy sal waarskynlik ook langer lewe.

Sielskos: Op 19:11-16; Hand 3:1-16; Fil 2:5-11

Alles wat jy in die lewe nodig het

2020-06-13
2 Petrus 1:3 NLV

Petrus skryf: ‘…sy Goddelike krag [het] ons alles laat kry wat ons nodig het om naby aan Hom te lewe.’ Om die lewe voluit te lewe, is drie dinge nodig: 1) ‘n Bietjie ekstra. Dis die ekstra myl beginsel wat Jesus ons geleer het (sien Matteus 5:41) en verg twee dinge: a) Ekstra inspanning. Die lewensafrigter en skrywer Art Williams het gesê: ‘Jy klop 50 persent van mense deur hard te werk… die ander 40 persent deur ‘n eerlike persoon met integriteit te wees… en die laaste 10 persent is ‘n luggeveg.’ As jy wil wen, moet jy besluit om altyd ‘ietsie ekstra’ te doen. b) Ekstra tyd. ‘…Stadig maar seker breek die tyd aan… Wag geduldig… Wees seker dit gaan gebeur…’ (Habakuk 2:3 NLV). Gutzon Borglum, die beeldhouer wat die Mount Rushmore gedenkteken van die Amerikaanse presidente geskep het, is gevra of hy dink dat sy werk perfek is. Hy het geantwoord: ‘Nie vandag nie, president Washington se neus is ‘n paar sentimeters te lank. Dis egter beter so. Dit sal verweer en oor tienduisend jaar presies reg wees.’ 2) Jou beste poging. Andrew Carnegie het gesê: ‘Dit help nie om mense te probeer help wat nie hulleself wil help nie. Jy kan nie iemand by ‘n leer opstoot tensy hy of sy eers gewillig is om dit te klim nie.’ 3) Die regte mentor. Paulus skryf: ‘…volg my voorbeeld…’ (Filippense 3:17 NLV). Goeie mentors lei deur goeie voorbeelde te wees; hulle weet dat hulle eers respek moet verdien voor mense hulle sal volg. Hulle weet of jy ‘n klop op die skouer of ‘n skop op die bas nodig het. As jy so ‘n mentor het, is jy geseënd. As jy nie so ‘n mentor het nie, vra God om een vandag oor jou pad te stuur.

Sielskos: 2 Kon 4:18-6:33; Mark 16; Ps 80:12-19; Spr 13:13-16