Herbou jou integriteit

2020-06-24
Lukas 19:8 NLV

Saggeus het ryk geword deur meer tolgeld by mense te vat as wat sy Romeinse base verwag het en dan die verskil in sy eie sak te steek. Nadat hy Jesus egter ontmoet het, het hy gesê: ‘…as ek iets van iemand met ‘n slenter bekom het, gee ek dit vierdubbel terug.’ Jesus het toe gesê: ‘…Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom…’ (vers 9 NLV). Integriteit gaan nie oor spyt, of om pynlike nagevolge te minimaliseer of om skadebeheer te doen nie. Dit gaan oor eerlike berou, om vrede te maak en op ‘n manier te lewe wat waarborg dat jy dinge in die toekoms anders sal doen. Een pastoor het gesê: ‘Mense kyk om hulle rond na losbandigheid, aborsie, seksueel oordraagbare siektes en rou daaroor. Hulle sien hoe amptenare omkoopgeld aanvaar, hoe beleggers inligting vir geld verkoop en kla oor die ondergang van integriteit. Hulle lees oor vrouens wat geslaan word, werklose mans en mishandelde kinders en wonder wat van omgee geword het.’ Die Bybel sê: ‘Die opregtheid van eerlike mense wys vir hulle die koers…’ (Spreuke 11:3 NLV). As jy jou integriteit wil herbou, moet jy erken dat jou gedagtes soms nie geskik is vir goeie geselskap nie, of dat jy iemand seergemaak het en dinge met daardie persoon moet regmaak. Daar word geskat dat 50 persent van Amerikaanse Christene op hulle belastingopgawes kul. Dis amper dieselfde hoeveelheid mense wat nie vir Christus volg nie! Integriteit is wie jy is wanneer niemand jou dophou nie. Job het gesê: ‘Sien Hy nie hoe ek optree nie?.. Het ek ooit vir iemand gelieg, of iemand bedrieg? Laat God my dan weeg en oordeel. Hy ken my onskuld’ (Job 31:4-6 NLV). Begin vandag om jou integriteit te herbou.

Sielskos: Hosea 6-10; Luk 2:21-33; Ps 17; Spr 14:13-16

Wat lei jou aandag af?

2020-06-23
Spreuke 4:27 NLV

Baie van ons misluk, nie omdat ons nie talentvol, gedetermineerd of passievol is nie, maar omdat ons van ons ‘koers afwyk.’ God het vir die profeet Habakuk gesê: ‘…Skryf my antwoord, die visioen, in groot, duidelike letters op kleitablette sodat iemand wat verbyhardloop dit kan lees’ (Habakuk 2:2 NLV). Tensy jy ‘n duidelik gedefinieerde doelwit het en dit ten alle tye voor jou hou, sal jy nie in die regte rigting hardloop nie. Motiveringspreker en skrywer, Sam Horn, het gesê: ‘Dis moeilik om op koers te bly, as ons nie weet wat ons bestemming is nie.’ In sy boek, One Big Thing, skryf Phil Cooke: ‘Ek was nog nooit ‘n aanhanger van die persoon wat die ‘oop deur beleid’ uitgedink het nie. Ja, ons wil toeganklik vir kollegas en werknemers wees, maar op ‘n stadium is dit tyd om die deur toe te maak en aan die werk te spring. Na jou volgende onderbreking, maak ‘n nota van hoe lank dit neem om weer by jou vorige vlak van intensiteit en fokus te kom. Jy sal geskok wees oor hoeveel tyd dit van jou dag steel. Te dikwels geniet ander mense se behoeftes prioriteit bo jou droom. Natuurlik moet ons vir ons kinders sorg, ons eggenote eer en ons primêre verantwoordelikhede rondom ons familie en werk nakom. Die eerste tree om jou droom te vervul, is egter om verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar. Dit beteken dat jy dit moet skeduleer en minder belangrike behoeftes van kollegas en vriende moet ‘onskeduleer.’ Hierdie daaglikse verpligtinge beitel ons tyd weg en kort voor lank verdwyn jou droom in die stof. Hou dus op om te doen wat ander mense belangrik ag en begin fokus op dit wat vir jou (en God!), belangrik is.’

Sielskos: Hosea 1-5; Luk 2:8-20; Ps 8; Spr 14:9-12

Draai na God – Hy sal jou nie teleurstel nie

2020-06-22
Psalm 118:5 NLV

Teen die ouderdom van ses-en-twintig, het Thomas ‘n uitgewersmaatskappy begin en die Nasionale Konvensie van Gospelkore in Amerika gestig. Hy het met van die grootste sangers in die geskiedenis van gospelmusiek gewerk, insluitend Mahalia Jackson. Een aand, nadat hy vir ‘n gehoor in Saint Louis gesing het, het hy egter ‘n telegram ontvang wat gelees het: ‘Jou vrou is pas oorlede.’ Sy het tydens geboorte gesterf. Thomas het huis toe gejaag, waar sy pasgebore seun die volgende dag oorlede is. Hy het in ‘n depressie verval, mense vermy en kwaad vir God geword. ‘Ek het gevoel dat God my ‘n onreg aangedoen het. Ek wou Hom nie meer dien of gospelliedjies skryf nie.’ Toe het ‘n vriend hom na ‘n musiekskool in die buurt geneem. Daardie aand het Thomas by die klavier gaan sit en begin speel… en bid. Hy het sy hart voor die Here uitgestort; en hoe wonderlik was sy woorde nie: ‘Precious Lord, take my hand, lead me on, let me stand, I am tired, I am weak, I am worn; through the storm, through the night, lead me on to the light: Take my hand, precious Lord, lead me home.’ Thomas A. Dorsey het getuig dat die Here hom daardie aand terwyl hy voor die klavier gesit het, weer heel gemaak het. Hy het aangegaan om meer as ‘n duisend liedjies te skryf en een van die invloedrykste Christelike liedjieskrywers van alle tye geword, omdat hy na God om hulp uitgereik het. Die Psalmdigter het dit ook gedoen: ‘In my nood het ek tot die Here gebid. Die Here het my geantwoord…’ Die woord vir jou vandag is dus: Draai na God toe; Hy sal jou nie teleurstel nie.

Sielskos: 2 Kon 24-25; Luk 2:1-7; Ps 144:9-15; Spr 14:5-8

Bid met vrymoedigheid

2020-06-21
1 Johannes 5:14 NLV

Soms bid ons ‘Net’ gebede. Ons sê: ‘Here, ons vra net dat U ons sal beskerm, of vir ons sal voorsien… As U ons net uit hierdie situasie sal help, sal ons so dankbaar wees.’ Dis asof ons sê: ‘Here, ek wil U nie hiermee pla nie, maar…’ Dit klink nederig, maar in realiteit demonstreer dit ‘n gebrek aan geloof en vrymoedigheid om God te nader. Dis ook nie skriftuurlik nie. Die Bybel sê: ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:16 NLV). ‘Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan. Wat ons ook al bid, kry ons van Hom omdat ons sy opdragte gehoorsaam en dié dinge in sy teenwoordigheid doen wat Hom bly maak’ (1 Johannes 3:21-22 NLV). ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, sal toestaan’ (1 Johannes 5:14-15 NLV). ‘Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra’ (Efesiërs 3:20 NLV). As sondige mense soos julle dan goed weet om goeie dinge aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader goeie dinge gee aan hulle wat dit van Hom vra!’ (Matteus 7:11 NLV). Jy kan as verloste kind van God jou liefdevolle hemelse Vader met vrymoedigheid nader, in die wete dat Hy dit wat jy nodig het – en soveel meer! – sal voorsien.

Sielskos: Hand 4:8-12; Hand 16:22-34; Matt 1:18-21

Leer op die harde manier (4)

2020-06-20
Rigters 16:22 NLV

Die Bybel sê vir ons dat Simson se afgeskeerde hare weer begin groei het. Die proses van vernuwing het begin. Simson het homself bekeer, God het vir hom sy krag teruggegee en hy het sy lewe op ‘n inspirerende, heldhaftige daad geëindig. Miskien voel jy dat jy jou lewe so erg opgemors het dat God jou nooit weer sal liefhê of sal gebruik nie – maar onthou vir Simson! God het nooit oor hom moed opgegee nie; en Hy het ook nie oor jou moed opgegee nie. Hy sien jou potensiaal raak en onthou hoekom Hy jou geskape het; jy is geskep om groot dinge te vermag. Dis eers wanneer jy na die middel van God se wil toe beweeg, dat jy ontdek hoekom jy geskep is. Wanneer jy dit doen, begin dinge in plek val. Daar is iets bemoedigends aan Simson. Hy is in God se lys van geloofshelde ingesluit – die panorama van mense van groot geloof wat in Hebreërs 11 genoem word. Hoekom? Omdat God iemand wat soos ‘n totale mislukking lyk, kan neem en hulle kan gebruik om groot dinge te doen. As Hy net perfekte mense gebruik het, sou niks ooit gedoen word nie. Nee, Hy gebruik gewone mense met swakhede, wat soms op radikale maniere misluk. Wat moet jy dus doen as jy ‘n Simson is? Gee jou lewe aan God oor. Gee vir Hom al die stukke en laat Hom toe om dit weer aanmekaar te sit. Hy kan vir jou die krag gee om weg te breek van die dinge wat jou vashou en Hom daarvan weerhou om in jou lewe te werk. Net God ken jou ware potensiaal en jy sal dit nooit op jou eie kan uitbring nie. Hy moet dit in sy krag doen – laat Hom dus toe om vandag te begin!

Sielskos: 2 Kon 21-23; Luk 1:67-80; Ps 144:1-8; Spr 14:1-4

Leer op die harde manier (3)

2020-06-19
Rigters 13:7 NLV

Jy soek moeilikheid wanneer jy weier om God ernstig op te neem. Die engel wat Simson se geboorte aangekondig het, het gesê dat hy ‘van sy geboorte tot sy dood aan God gewy [sal] wees.’ Simson was egter agtelosig oor sy geestelike lewe. Hy het net gebid wanneer hy in die moeilikheid was. Hy was impulsief; hy het gedoen net waarvoor hy lus was. Die waarheid is dat ons onsself soveel probleme en pyn sal spaar as ons net stop en God vir aanwysings vra. Simson het net na God toe gedraai wanneer hy in die moeilikheid was. Ons doen dit ook. Ons bid: ‘Here, as U my net uit hierdie dilemma kan red, belowe ek dat ek van nou af vir U sal lewe.’ Die vraag is egter: Is God net ‘n nagedagte of ‘n gerief vir jou? Wanneer dinge moeilik raak en jy in ‘n moeilike posisie is draai jy uit desperaatheid na Hom, maar wanneer dinge goed gaan ignoreer jy Hom? Eers toe Simson deur die Filistyne gevange geneem is, sy oë uitgesteek is en hy soos ‘n os die meule moes laat draai, lees ons dat hy na God toe gedraai en gebid het. Hoe sou Simson se lewe kon gelyk het as hy reg van die begin af gebid het? Hoekom het hy gewag tot alles uitmekaar val voor hy na God gedraai het? Dit hoef nie so in jou lewe te wees nie! Die Psalmdigter het gesê: ‘Geseënd is hulle wat die Here dien, wat wandel op sy weë. Jy sal die vrug van jou arbeid geniet en gelukkig en voorspoedig wees’ (Psalm 128:1-2 NLV).

Sielskos: 2 Kon 18:17-20:21; Luk 1:57-66; Ps 139:13-24; Spr 13:25