Oorkom verwerping (3)

2020-08-20
Spreuke 31:18 ABA

Die foute wat jy al gemaak het mag dalk erg, groot en herhaaldelik gewees het. Hulle het egter nie God se dunk van jou verander nie. ‘…Ek het jou lief met ‘n liefde wat nooit ophou nie. Ek trek jou met troue liefde na My toe. Ek sal jou weer herbou soos jy vroeër was…’ (Jeremia 31:3-4 NLV). Ja, God sal jou korrigeer wanneer jy dit nodig het. Sy korreksie is egter nie verwerping nie – dis ‘n bewys van sy liefde. ‘Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is…’ (Hebreërs 12:6 NLV). God se doel met dissipline is om jou tot jou hoogste potensiaal te ontwikkel. Moet dus nie toelaat dat enigiemand jou minderwaardig laat voel nie. Wees jou oorspronklike self wanneer jy by ander mense is. Fokus op dit wat jy het om te gee, eerder as hoe ander mense jou sien. Moenie spog of groot name in die gesprek laat val om die speelveld gelyk te probeer maak nie. Jy is alreeds op dieselfde vlak – selfs al het jy nie ‘n soortgelyke opvoeding, ervaring, finansiële status, sosiale stand of agtergrond nie. Van wanneer af het sulke dinge mense beter as ander gemaak – veral in jou hemelse Vader se oë? Salomo beskryf die kwaliteite van ‘n uitnemende vrou: ‘Wanneer sy sien dat mense graag haar goed koop, dan werk sy die hele nag.’ Hierdie vrou was nie hoogmoedig omdat mense haar goed wou koop nie, sy het net vertroue gehad in haar Godgegewe opdrag en wie God haar gemaak het om te wees. Haar selfvertroue het van binne af gekom. Salomo eindig die hoofstuk met hierdie woorde: ‘Gee vir haar die waardering wat sy verdien. Laat sy erkenning geniet in die stadspoort’ (Spreuke 31:31 NLV).

Sielskos: Rig 7:1-9:33; Luk 15:11-32; Ps 119:105-112; Spr 18:10-12

Oorkom verwerping (2)

2020-08-19
Psalm 139:14 NLV

Om verwerping te oorkom, moet jy ferm glo dat God jou fisies, intellektueel en temperamenteel ontwerp het en jou ‘n opdrag gegee het wat niemand anders kan vervul nie. Om jouself minder te maak as wat jy is, mag dalk nederig lyk, maar dis inderwaarheid ‘n vorm van trots omdat jy gevolglik God se ontwerp en plan vir jouself verwerp. Begin dus om uitdruklik saam met die Psalmdigter te verklaar: ‘Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het. U werke is wonderbaar, ek weet dit alte goed! My bene was vir U sigbaar toe ek stilletjies gevorm is in die dieptes van die moederskoot. U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was. Kosbaar is u gedagtes vir my, o God! Hoe onmeetlik is die totaal!’ (verse 14-17 NLV). Waar het jy die idee gekry dat jy minderwaardig is? Of dit nou by kritiese ouers, veroordelende geestelikes, onwyse onderwysers, wrede klasmaats of ‘n eggenoot wat jou verbaal mishandel het begin het, onthou dat Satan ‘…’n leuenaar en ook die vader daarvan is’ (Johannes 8:44 NLV). Hy het iemand gebruik om vir jou oor jou waarde en potensiaal te lieg. Besluit nou om daardie leuen te verwerp. Met ander woorde: verwerp verwerping! Maak ‘n lys van elke Godgegewe gawe, bate of voordeel wat jy besit wat ‘n seën vir ander mense is of kan wees. Moenie wêreldse sisteme gebruik om jou lys te ontwikkel nie. Fokus op karaktereienskappe soos integriteit, lojaliteit, vrygewigheid, wysheid en geduld. Dink aan maniere wat jy elkeen van hierdie eienskappe kan gebruik om God te verheerlik en ‘n seën vir ander mense te wees.

Sielskos: Rig 4-6; Luk 15:1-10; Ps 119:97-104; Spr 18:9

Oorkom verwerping (1)

2020-08-18
Jesaja 43:4 NLV

Jesus het verwerping ervaar: ‘Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie’ (Johannes 1:11 NLV). Hy het egter nie rondgesit en sy wonde gelek nie; Hy het aanbeweeg na waar mense Hom met vreugde ontvang het. Hy het ook vir sy dissipels gesê: ‘As hulle julle nie wil ontvang of wil luister na wat julle sê nie, gaan uit daardie huis of dorp en skud die stof van julle voete af’ (Matteus 10:14 NLV). Herhaalde verwerping is geneig om die vrees dat ons nie genoeg is nie, te bekragtig. Dis veral so wanneer dit by die opinies van diegene wat vir ons van waarde is, kom. Die ironie is egter dat optrede uit vrees vir verwerping, dikwels die presiese verwerping wat jy probeer vermy, tot gevolg het. Wanneer mense besef dat jy jouself nie baie hoog ag nie, behandel hulle jou daarvolgens. Jy leer mense hoe om jou te waardeer, deur die manier wat jy jouself waardeer. Selfs al is Jesus verwerp, het Hy nooit op ‘n manier opgetree wat aanhoudende verwerping aangemoedig het nie. Hy het nie op plekke gebly waar Hy verdra is nie; Hy het na plekke gegaan waar Hy gevier is. Met ander woorde, Hy het na plekke gegaan waar mense sy persoon, sy doel en sy krag herken en ontvang het. Hy het God se volle aanvaarding gehad, dus het Hy nie mense se verwerping gevrees nie. Jy het ook God se volle aanvaarding. ‘Omdat jy vir My kosbaar en belangrik is, omdat Ek jou liefhet…’ Die eerste stap om verwerping te oorkom, is om God se opinie van jou te alle tye in jou gedagtes te hou.

Sielskos: Rig 1-3; Luk 14:25-35; Ps 119:89-96; Spr 18:6-8

Beoefen visioenêre denke

2020-08-17
Numeri 12:6 AFR83

As jy God vra, sal Hy vir jou ‘n visie vir jou lewe gee – een wat jou in staat sal stel om die einddoel te sien, opgewonde te raak en progressief daarnatoe te beweeg. Wanneer ouers uitgeput deur besige kleuters, slegte punte en balhorige tieners raak en jy hulle daaraan herinner dat dit net ‘n tydelike seisoen is – beoefen jy visioenêre denke. Visies word nie tot pastore, politici, sakemanne en presidente beperk nie – hulle is vir almal. Visioenêre denke gee jou ‘n groter perspektief. Dis soos om die prentjie te vergroot; dit brei nie net dit wat jy kan sien uit nie, maar ook wat jy glo jy in staat is om te doen. Visioenêre denke benodig drie dinge: 1) Leer. Wees seker van dit wat jy weet en waardeer dit – maar moet nooit op jou louere rus nie. Vorm nuwe verhoudings, lees nuwe boeke en leer nuwe vaardighede aan. Word ‘n lewenslange leerder. 2) Luister. Soek diegene uit wat kundigheid het in areas waar jy te kort skiet. Vra vrae wat jou begrip en denkwyse vergroot en luister en onthou versigtig wat jy hoor. 3) Kyk. Dis moeilik om die prentjie te sien wanneer jy binne die raam staan. Daar is ‘n wêreld buite jou eie, dus moet jy buite jouself beweeg en dit deur die oë van ander mense sien. Om aan mense se behoeftes te voldoen, moet jy eers uitvind hoe hulle dink. Dit verg dat jy nederig is, oor jou eie persoonlik agenda kom en die ander persoon se uitgangspunt probeer verstaan. Die Bybel stel dit so: ‘Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange’ (Filippense 2:4 NLV).

Sielskos: Rut 2-4; Luk 14:15-24; Ps 119:81-88; Spr 18:1-5

Dis tyd om van rigting te verander

2020-08-16
1 Korintiërs 9:25 ABA

Verantwoordelikheid verg van ons om ‘n lewe te maak en ons familie te ondersteun. Voel jy egter diep binne-in jou dat jy ‘geroep’ is om iets anders te doen? Die dissipels het hulle grootste vangs gehad, toe Jesus vir hulle gesê het om die sekuriteit van die strand te verlaat en die diep waters in te vaar. Hier is ‘n hedendaagse verhaal om jou aan te moedig: Jerry Richardson het in 1961 voor ‘n belangrike besluit te staan gekom. In daardie dae het hy voetbal vir die Baltimore Colts gespeel, ‘n werk wat as glansryk en veilig gesien is. Toe hy egter nie die verhoging kry waarvoor hy aansoek gedoen het nie, het hy gevoel dat dit tyd is om ‘n risiko te neem en te doen wat hy nog altyd wou doen – sy eie besigheid begin. Hy en sy familie het teruggetrek Suid Carolina toe, waar ‘n ou universiteitsvriend hom uitgenooi het om aandele in ‘n hamburger kiosk te koop. Richardson het die risiko geneem en Hardee’s se eerste konsessie gekoop. Hy het van, om ‘n voetbal te vang, na hamburgers vir twaalf uur ‘n dag te braai, gegaan. Hy het stowe geskrop en vloere gemop. Sy salaris? Slegs $147 ‘n maand. So moeg en gefrustreerd soos hy egter was, het hy geweier om tou op te gooi. Hy het dieselfde dissipline wat hy op die voetbalveld gebruik het, gebruik om daarop te fokus om sy restaurant meer doeltreffend en sy pryse bekostigbaar te maak. Kort voor lank het sy besigheid uit sy nate gebars. Hy het uiteindelik die hoof van die een van die grootste voedseldiens maatskappye in Amerika geword, wat elke jaar $3.7 biljoen in verkope gehad het. O, en nog ‘n ding. Hy het ook die eienaar van die NFL geword en die Carolina Panthers konsessie gevestig, wat hy vir drie-en-twintig jaar besit het.

Sielskos: 2 Kor 11:21-33; 2 Kor 12:7-10; Hand 16:16-40; Hand 19:11-12

Probeer altyd ander mense dien

2020-08-15
Efesiërs 6:7 NLV

‘n Verslaggewer het een maal vir die beroemde Amerikaanse sanger, Marian Anderson, oor die grootste oomblik in haar lewe uitgevra. Sy kon die private optrede wat sy vir die Roosevelts in die Withuis gedoen het, genoem het, maar die verslaggewer egter geskok deur te sê: ‘Die grootste oomblik in my lewe was die dag toe ek vir my ma kon sê dat dit nie meer vir haar nodig was om ander mense se wasgoed vir geld te was nie.’ Ons is almal inherent selfsugtig en dink eerste aan ons eie selfbelang. Dis hoekom ons God moet toelaat om ons te ‘…omvorm deur julle denkpatrone te vernuwe…’ (Romeine 12:2 NLV). Sielkundiges praat van natuurlike gedrag en aangeleerde gedrag. Wanneer jy natuurlik negatief is, moet jy leer om positief te wees. Wanneer jy natuurlik angstig is, moet jy leer om moedig te wees. Wanneer jy natuurlik selfsugtig is, moet jy leer om vrygewig te wees. God wil hê dat jy deur die lewe moet gaan deur op die uitkyk te wees vir geleenthede om ander mense te seën: ‘Terwyl ons die kans het, moet ons dus goeddoen aan alle mense, maar veral aan medegelowiges’ (Galasiërs 6:10 NLV). Jy moet dit nie net aan mense doen nie, jy is veronderstel om dit deur mense en vir die Here te doen. ‘Moenie mense probeer tevrede stel deur net gehoorsaam te wees wanneer hulle julle kan sien nie. Nee, werk as slawe van Christus wat met volle oorgawe God se wil doen. Doen julle werk entoesiasties, asof julle dit vir die Here doen en nie vir mense nie. Julle weet mos dat die Here elke mens wat sy werk goed doen, sal beloon, of dit nou slawe is of vry mense’ (Efesiërs 6:6-8 NLV). Dit beteken dat wat jy vir ander mense laat gebeur, die Here vir jou sal laat gebeur!

Sielskos: Obadja; Rut 1; Luk 14:1-14; Ps 119:73-80; Spr 17:27-28