Oorkom verwerping (2)

2020-08-19
Psalm 139:14 NLV

Om verwerping te oorkom, moet jy ferm glo dat God jou fisies, intellektueel en temperamenteel ontwerp het en jou ‘n opdrag gegee het wat niemand anders kan vervul nie. Om jouself minder te maak as wat jy is, mag dalk nederig lyk, maar dis inderwaarheid ‘n vorm van trots omdat jy gevolglik God se ontwerp en plan vir jouself verwerp. Begin dus om uitdruklik saam met die Psalmdigter te verklaar: ‘Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het. U werke is wonderbaar, ek weet dit alte goed! My bene was vir U sigbaar toe ek stilletjies gevorm is in die dieptes van die moederskoot. U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was. Kosbaar is u gedagtes vir my, o God! Hoe onmeetlik is die totaal!’ (verse 14-17 NLV). Waar het jy die idee gekry dat jy minderwaardig is? Of dit nou by kritiese ouers, veroordelende geestelikes, onwyse onderwysers, wrede klasmaats of ‘n eggenoot wat jou verbaal mishandel het begin het, onthou dat Satan ‘…’n leuenaar en ook die vader daarvan is’ (Johannes 8:44 NLV). Hy het iemand gebruik om vir jou oor jou waarde en potensiaal te lieg. Besluit nou om daardie leuen te verwerp. Met ander woorde: verwerp verwerping! Maak ‘n lys van elke Godgegewe gawe, bate of voordeel wat jy besit wat ‘n seën vir ander mense is of kan wees. Moenie wêreldse sisteme gebruik om jou lys te ontwikkel nie. Fokus op karaktereienskappe soos integriteit, lojaliteit, vrygewigheid, wysheid en geduld. Dink aan maniere wat jy elkeen van hierdie eienskappe kan gebruik om God te verheerlik en ‘n seën vir ander mense te wees.

Sielskos: Rig 4-6; Luk 15:1-10; Ps 119:97-104; Spr 18:9