Klim uit jou boot uit

2020-06-30
Matteus 14:29 ABA

Matteus skryf: ‘…Petrus het uit die boot geklim, en toe het hy op die water geloop na Jesus toe.’ Vra jouself vandag drie vrae af: 1) Wat is my boot? Dit is dit wat jou jou grootste sin van sekuriteit gee. Dis waarop jy jou vertroue wil plaas wanneer die lewe stormagtig raak. Om uit te vind wat jou boot is, vra jouself af: ‘Wat is dit wat die meeste vrees in my veroorsaak, veral wanneer ek daaraan dink om dit agter te laat en in geloof uit te tree? 2) Wat weerhou my daarvan om uit my boot te klim? Vrees. Vrees vir mense, vrees vir mislukking, vrees vir kritiek, vrees vir te min. Om te groei, moet jy nuwe gebiede binnegaan en elke keer wanneer jy dit doen, sal jy vrees ervaar. Dit gaan nooit weg nie. Elke keer wat jy egter uit jou boot uitklim, word jy meer in staat om dit volgende keer weer te doen en begin jy besef dat dit nie die mag het om jou te vernietig nie. As Jesus dus vir jou sê: ‘Kom,’ begin loop. Hy sal nie toelaat dat jy verdrink nie. 3) Wat sal ek prysgee as ek in my boot bly? Jou lotsbestemming. Om te bereik wat jy nog nie bereik het nie, moet jy probeer wat jy nog nie probeer het nie. Sal daar risiko’s wees? Ja. Bofbal se beste kolwers misluk twee uit drie keer. Hulle weet egter dat indien hulle nie op die veld is nie, sal hulle nooit die vreugde ervaar om ‘n tuislopie te slaan nie. As jy in jou boot bly, sal jy uiteindelik daarin sterf; en wonder wat jou lewe kon gewees het as jy maar net gewillig was om uit jou boot te klim.

Sielskos: Jer 10-13; Luk 3:21-38; Ps 95; Spr 14:29-33

Dis nooit te laat vir God nie

2020-06-29
Jesaja 57:18 NLV

‘Is dit te laat vir God om iets met my te doen?’ vra jy. Dis nooit te laat vir God nie! Ons lees in die Skrif van gebroke mense wat God op wonderlike manier opgehef het. Hy het Moses, ‘n moordenaar, gebruik om die Hebreeuse slawe te red. Hy het Jacob, ‘n leuenaar en ‘n verkuller, gebruik om sy belofte aan Abraham te vervul. Hy het selfs vir Ragab, ‘n prostituut, in die Messias se familieboom ingesluit. As God hulle verlos het, kan Hy jou ook verlos. Gebrokenheid moet jou nooit vasgevang hou nie. Nee, dit moet jou eerder in ‘n lewe van vryheid loslaat. ‘n Waarlik gebroke mens kan die realiteit van Johannes 15:5 verstaan, waar Jesus gesê het: ‘…sonder My kan julle niks doen nie’ (NLV). ‘n Gebroke persoon wat geleer het om op God staat te maak, is ‘n krag om mee rekening te hou. Wanneer jy na ‘n verlede wat met mislukkings besaai is kyk, is dit moeilik om ‘n blink toekoms te sien, net soos dit moeilik is om te bestuur wanneer jy in die truspieëltjie kyk. Jy moet van tyd tot tyd in jou truspieëltjie kyk, maar wanneer jy slegs daarop fokus sal jy jouself en ander mense seermaak. Dis hoekom die voorruit soveel groter as die truspieëltjie is – dit wys jou waarheen jy op pad is in plaas van waar jy was! Wanneer jy na God toe draai, sal Hy jou vergewe, jou herstel en jou vir sy doelwitte gebruik. Hy het gesê: ‘Ek het gesien wat hy doen, maar sal hom gesond maak! Ek sal hom begelei en hom herstel en vertroos. Ek sal sorg dat roubeklaers My weer loof…’ (Jesaja 57:18-19 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – dis nooit te laat vir God nie!

Sielskos: Jer 7-9; Luk 3:11-20; Ps 64; Spr 14:25-28

God lei jou op

2020-06-28
Hebreërs 12:8 ABA

God sien hoe jy sukkel, Hy ignoreer dit nie. Hy is ten volle daarby betrokke. Hy sien die behoeftes van die toekoms en gebruik jou huidige omstandighede om jou vandag te toets en vir die toekoms voor te berei. Het Hy nie die gesag om dit te doen nie? Hy is die pottebakker; ons is die klei. Hy is die skaapwagter; ons is die skape. Hy is die tuinier; ons is die takke. Hy is die onderwyser; ons is die studente. Vertrou sy opleiding. Jy sal hierdeur kom. Onthou, alle toetse is tydelik. Hulle tyd is beperk. Die Bybel sê: ‘Hieroor kan julle baie bly wees, al moet die baie beproewings julle vir ‘n rukkie laat swaarkry’ (1 Petrus 1:6 NLV). Hier is nog iets om in gedagte te hou: Jy kan nie jou toetsperiode verkort nie, maar jy kan dit vir seker verleng deur hardkoppig en trots te wees en dit wat God jou wil leer, teen te staan. God sal nie jou keuse om dit te doen van jou wegneem nie, maar Hy sal jou ook nie van die nagevolge van jou keuse beskerm nie. Jy sal nie die eerste student wees wat ‘n graad in die skool moet oordoen nie en jy sal ook nie die laaste een wees nie. Jy kan Sondag kerk toe gaan en verveeld daar sit en droom; jy kan die beginsels van die waarheid verwerp en die maklike uitweg soek. Dit werk egter nie. ‘Mense het respek vir iemand wat goeie insig het. ‘n Onbetroubare mens loop ‘n pad van vernietiging’ (Spreuke 13:15 NLV). Doen dit op God se manier, want dit is die beste manier. Altyd!

Sielskos: Heb 11:23-28; Eks 3:1-22; Eks 33:7-23; Eks 34:29-35

Hoekom moet jy die Bybel bestudeer? (3)

2020-06-27
2 Timoteus 3:17 NLV

Daaglikse Bybelstudie rus jou vir jou Godgegewe lewenstaak toe. Paulus skryf: ‘Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te leer wat waar is en… wat verkeerd is in ons lewe. Dit ruk ons reg en kweek ‘n regte leefstyl. Dit is God se manier om ons voor te berei, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê ons moet doen’ (verse 16-17 NLV). Volgens Paulus is die hele Skrif daar om ons te leer – maar om ons wat te leer? 1) Leerstellings en opvoeding. Dit sal struktuur aan jou denke gee wat noodsaaklik is, want as jy nie reg dink nie, lewe jy nie reg nie. Wat jy glo bepaal uiteindelik hoe jy optree. 2) Teregwysing. Dit sal jou sê waar jy die grense oorskry. Die Bybel leer jou wat sonde is en wat God vir jou lewe wil hê. 3) Regstelling. Het jy ‘n kas in die huis waar jy alles waarvoor jy nie ‘n ander plek het nie, stoor? Jy druk dit alles in en een dag wanneer jy die kas oopmaak, tuimel alles uit en jy moet dit alles skoonmaak en plek daarvoor kry. Die Bybel is so; dit maak die kasdeur op jou lewe oop en voorsien ‘n suiwerende dinamiek. 4) Opleiding in geregtigheid. Nadat Paulus vir ons die negatiewe uitgewys het, gee hy vir ons positiewe riglyne om in ons lewens te volg, sodat jy ‘ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê [jy] moet doen.’ Het jy al ooit gewens dat jou lewe meer effektief vir Christus Jesus is? Wat het jy gedoen om jouself voor te berei? Bybelstudie is die belangrikste stuk gereedskap om ‘n effektiewe dienaar van Jesus Christus te word. Niks kan die Bybel se plek inneem nie!

Sielskos: Jer 4-6; Luk 3:1-10; Ps 59:9-17; Spr 14:23-24

Hoekom moet jy die Bybel bestudeer? (2)

2020-06-26
Hebreërs 5:11 DB

Paulus skryf: ‘…dit is vir my moeilik om dit behoorlik by julle tuis te bring, omdat julle nie eintlik wil luister nie. Om die waarheid te sê, behoort julle eintlik self al mense te gewees het wat ander van die dieper dinge van die godsdiens kon vertel… Op geestelike gebied is julle soos regte babatjies wat net melk drink en geen vaste kos kan eet nie… Vaste kos is bedoel vir grootmense, ook op geestelike vlak. Hulle het al in die lewe geleer om te weet wat goed en wat sleg is’ (verse 11-14 DB). Die mense vir wie hierdie woorde geskryf is, was stadig om te leer. Teen die tyd wat hulle universiteit toe moes gaan, moes hulle weer kleuterskool toe gaan om hulle ABC’s weer te leer. Teen die tyd wat hulle al ander mense van die evangelie moes leer, het hulle iemand nodig gehad om die waarheid aan hulle oor te dra. Let op die woorde: ‘Vaste kos is bedoel vir grootmense,’. Wie is die grootmense? Jy is ‘n grootmens as jy jouself deur konstante gebruik van die Skrif opgelei het. Die teken van geestelike volwassenheid is nie hoe baie jy leer nie, maar hoeveel jy daarvan in praktyk doen. In die geestelike ryk is die teenoorgestelde van onkunde nie kennis nie, maar gehoorsaamheid. Die sleutel tot geestelike volwassenheid is gehoorsaamheid aan die Skrif. Jy sal op die langtermyn omtrent 10 persent van dit wat jy hoor, 50 persent van dit wat jy sien en 50 persent van dit wat jy doen, onthou. Dus: ‘Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie; dan bedrieg julle julleself… As jy… egter… dóén wat die wet sê… dan kan jy God se seën verwag op wat jy doen’ (Jakobus 1:22-25 NLV).

Sielskos: Jer 1-3; Luk 2:41-52; Ps 59:1-8; Spr 14:21-22

Hoekom moet jy die Bybel bestudeer? (1)

2020-06-25
1 Petrus 2:2 DB

Dis noodsaaklik vir jou geestelike groei om daagliks Bybelstudie te doen. Professor Howard Hendricks skryf: “Toe ons kinders klein was, het ons hulle groei met ‘n potlood agterop die kasdeur gemerk. Soos hulle groter geword het, het hulle ons gesmeek om te meet hoe lank hulle geword het en dit op die kasdeur te merk. Dit maak nie saak hoe klein die inkrimente was nie, hulle het in opwinding op en af gespring om hulle vordering te sien. Een dag nadat ek een van my dogters gemeet het, het sy my die tipe vraag gevra wat jy wens kinders nie wil vra nie: ‘Pappa, hoekom hou grootmense op groei?’ Hoe kon ek verduidelik dat grootmense nie ophou groei nie – ons groei net in ‘n ander rigting in? Ek weet nie wat ek vir haar gesê het nie, maar tot vandag toe vra die Here nog vir my: ‘Hendricks, word jy oud, of word jy groot?'” Wat van jou? Hoe lank is jy al ‘n Christen? Nege maande? Nege-en-dertig jaar? Die groot kwessie is hoe baie jy al gegroei het. Hoe vorder jy op God se maatstok? Dis wat die apostel Paulus bedoel het toe hy geskryf het: “‘n Babatjie wat pas gebore is, is dors vir ‘n bietjie melk. Net so moet julle altyd die skoon, geestelike melk wil hê. Dit sal julle geestelik groot en sterk laat word as mense wat God s’n is.” Net soos ‘n baba sy bottel gryp, gryp jy die Bybel. Die baba het melk nodig om sy fisiese lewe te onderhou, jy het die Bybel nodig om jou geestelike lewe te onderhou. Die belangrikste rede om dus die Skrif te bestudeer, is dat dit geestelike groei aanwakker. Dis God se primêre manier om jou as individu te ontwikkel.

Sielskos: Hosea 11-14; Luk 2:34-40; Ps 21; Spr 14:17-20