Wees tevrede met jou roeping (1)

2020-08-22
1 Korintiërs 12:5 NLV

Een van die grootste foute wat jy in die bediening kan maak, is om jouself met iemand anders te vergelyk. Daar word gesê as twee van ons identies is, is een van ons dalk oorbodig! Die apostel Paulus skryf: ‘En daar is ‘n hele verskeidenheid bedieninge, maar ons dien dieselfde Here.’ Dis waar dat jy nie sonder hulp alles kan word wat jy kan wees nie, maar God wil hê dat jy gementor word, nie gekloon word nie. Hy het elkeen van ons geroep om sekere waarhede op verskillende tye te beklemtoon. Johannes het byvoorbeeld liefde beklemtoon, Salomo het wysheid beklemtoon en Paulus het hoofsaaklik op genade bo die wet gefokus. Die behoefte bepaal die klem. ‘Aan die een gee die Gees die bekwaamheid om goddelike wysheid te verkondig, aan ‘n ander gee Hy die gawe van spesiale kennis. Aan iemand anders gee hierdie selfde Gees ‘n heel besondere geloof, aan nog een gee Hy gawes van genesing, aan ‘n volgende een die vermoë om wonders te verrig, aan ‘n ander die gawe van profesie, aan nog een die vermoë om te onderskei tussen geeste, aan iemand anders die gawe van die praat in tale, aan nog een die bekwaamheid om die tale uit te lê. Dit is een en dieselfde Gees wat al hierdie gawes bewerk en wat aan elkeen uitdeel soos Hy dit goedvind’ (verse 8-11 NLV). Nie almal sal jou bedieningstyl verstaan of waardeer nie. Dis in orde – dis nie ‘n populariteitskompetisie nie. Jy is geroep om ‘n dienaar, nie ‘n ster nie, te wees. Een van die grootste voorwaardes vir bediening is: ‘Van bestuurders word verwag dat hulle hulleself as betroubaar sal bewys’ (1 Korintiërs 4:2 NLV).

Sielskos: Rig 12-15; Luk 16:19-31; Ps 119:121-128; Spr 18:13-20