2020-07-05
Deuteronomium 11:2 DB
Wanneer jy na mense luister wat ‘n byna-dood ervaring gehad het, sal hulle vir jou dinge vertel wat die moeite werd is om te onthou: ‘Die lewe is broos en kosbaar. Ek het besluit om minder tyd by die werk en meer tyd saam met my vrou en familie te spandeer. Ek het ‘n nuwe deernis vir mense, meer begrip en simpatie. Ek het die Here op ‘n dieper en ryker manier leer ken as wat ek ooit gedink het moontlik is.’ In plaas van om te vra: ‘Hoekom, Here?’ vra hulle: ‘Wat wil U my uit hierdie ervaring leer?’ Dis nie omdat ons stadige leerders is nie, ons is net vinnig om te vergeet. Dis hoekom God vir sy mense gesê het: ‘Onthou al die wonderlike dinge wat die Here julle geleer en vir julle gedoen het…’ In plaas daarvan om vir God te vra om jou omstandighede te verbeter, vra Hom om jou omstandighede te gebruik om jou te verbeter. Die lewe is ‘n verpligte kursus, so jy kan net sowel jou beste doen om dit te slaag. God is aan die werk in jou lewe, of jy dit nou weet of nie. ‘Die Here verneder nie graag mense nie. Hy laat hulle ook nie verniet seerkry nie’ (Klaagliedere 3:33 DB). God vind geen vreugde in jou lyding nie, maar Hy geniet jou vordering. ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi…’ (Filippense 1:6 NLV). Hy sal nie misluk nie, want Hy kan nie misluk nie! Hy sal in ons, ‘…tot stand bring wat God se hart sal bly maak…’ (Hebreërs 13:21 NLV). Elke uitdaging, groot en klein, rus jou vir die toekoms wat God vir jou in gedagte het, toe.
Sielskos: Jak 5:16-18; 1 Kon 18; 2 Kon 2:1-12
2020-07-04
Hosea 14:5 NLV
Halftyd in die wedstryd is vir rus en assessering. Dis ‘n tyd om te hergroepeer – om te evalueer hoe dinge gaan en watter aanpassings die res van die wedstryd gemaak moet word. Dikwels mag dit teen halftyd lyk of ‘n span verloor, maar teen die einde van die wedstryd het hulle die telling omgeswaai en gewen. Totdat die finale fluitjie blaas, is die wedstryd nog nie gewen nie. Dieselfde is waar van die lewe. As jy nog hier is, is die wedstryd van die lewe nog nie vir jou verby nie. Jou horlosie tik steeds. Jy het nog ‘n lewe om te leef. Nie net dit nie, maar die eerste helfte bepaal nie die wedstryd se uitkoms nie. Miskien het jy foute gemaak en teleurstellings en mislukkings ervaar. Miskien het die lewe jou ‘n taai klap hier en daar gegee. Jy is egter nog hier – en solank as wat jy is, het die fluitjie nog nie geblaas nie en is dit nie te laat vir God om jou reguit na die plan wat Hy vir jou het, te neem nie. Jy sien, God kyk na jou toekoms terwyl die Vyand jou op jou verlede gefokus wil hou. God sê: ‘Jy kan, ten spyte van wat gedoen is!’ Die Vyand sê egter: ‘Jy kan nie, as gevolg van wat jy gedoen het.’ God sal jou nooit volgens jou verlede definieer nie, terwyl die Vyand dit teen jou sal gebruik om jou te probeer beheer en te beperk. Hy wil jou aan jou verlede vasgeketting hou. God, aan die ander kant, wil hê dat jy uit jou verlede sal leer en nie daarin sal leef nie.
Sielskos: Jer 25-27; Luk 5:1-11; Ps 102:18-28; Spr 15:4-7
2020-07-03
1 Timoteus 4:12 NLV
Teen die tyd wat hy agtien was, was Timoteus ‘n apostel. Dit kom voor asof mense in die kerk gedink het dat sy bevordering tot leierskap op so ‘n vroeë ouderdom, nie ‘n goeie ding was nie. Paulus het egter van hulle verskil. Hy het vir Timoteus gesê: ‘Gee instruksies oor hierdie dinge en onderrig die mense daarvolgens. Moenie dat enigiemand minder van jou dink omdat jy jonk is nie. Wees ‘n voorbeeld vir alle gelowiges deur wat jy leer, in die manier waarop jy lewe, in jou liefde, jou geloof en jou integriteit… konsentreer daarop om die Skrif aan die gemeente voor te lees, die gelowiges te bemoedig en om hulle te onderrig. Moenie die geestelike gawe verwaarloos wat jy ontvang het… nie… Werp jouself in jou werksaamhede sodat almal jou vordering kan sien’ (verse 11-15 NLV). Wie sê jy is te jonk is om ‘n impak te maak? Nie God nie. Ook nie die geskiedenis nie. Victor Hugo het sy eerste tragedie geskryf toe hy vyftien jaar oud was. Rafael het sy meesterstukke geskilder voor hy op die ouderdom van sewe-en-dertig oorlede is. Tennyson het sy eerste bundel gedigte op agtien geskryf. Romulus het Rome op twintig gestig. Calvyn het op een-en-twintig by die Reformasie aangesluit en sy beroemde Instellings teen sewe-en-twintig geskryf. Joan of Arc is op negentien op die brandstapel verbrand. Alexander die Grote het die wêreld teen die tyd wat hy drie-en-twintig was, verower. Isaac Newton was vier-en-twintig toe hy die wet van swaartekrag bekendgestel het. Glo in jouself, want God glo in jou. Ontwikkel jou gawes en vra vir God om hulle te seën. Gryp elke geleentheid met oorgawe aan en jy sal die wêreld ‘n beter plek maak.
Sielskos: Jer 22-24; Luk 4:31-44; Ps 102:12-17; Spr 15:3
2020-07-02
Rigters 11:35 NLV
Vir maande lank het Eric Liddell vir die 1924 Olimpiese Spele geoefen. Hy het sy hart daarop gesit om die 100 meter wedloop te wen. Die meeste sportskrywers het voorspel dat hy gaan wen. Liddell het egter by die Spele agtergekom dat die 100 meter wedloop geskeduleer was om op ‘n Sondag plaas te vind. Dit was ‘n baie groot probleem vir hom, omdat hy geglo het dat hy nie God kon eer deur op die Here se dag deel te neem nie. Hy het homself aan die wedloop onttrek en sy aanhangers was verstom. Sommige mense wat hom in die verlede geprys het, het hom nou ‘n dwaas genoem. Toe ‘n naelloper homself aan die 400 meter wedloop, wat op ‘n weeksdag geval het, onttrek het, is Liddell die geleentheid gegee om sy plek te vul. Dit was nie regtig sy tipe wedloop nie. Die afstand was vier keer so lank as die een waarvoor hy ywerig geoefen het. Hy het egter die 400 meter wedloop gewen en ‘n nuwe rekord van 47.6 sekondes in die proses opgestel. Hy het sy Olimpiese goue medajle verdien en ‘n onwrikbare standpunt vir sy geloof ingeneem, wat in die rolprent Chariots of Fire oorvertel is. Liddell het egter ook ‘n groter aanspraak op roem. Hy het ‘n sendeling in China geword, waar hy as krygsgevangene in 1945 oorlede is. Hy is soos Jefta, wat gesê het: ‘…Ek het aan die Here ‘n gelofte gemaak en ek kan dit nie terugtrek nie.’ Die les wat ons uit hierdie man se lewe kan leer is hard en duidelik – staan op jou oortuigings, en God sal jou eer.
Sielskos: Jer 18-21; Luk 4:14-30; Ps 102:1-11; Spr 14:35-15:2
2020-07-01
1 Korintiërs 1:29 NLV
Daar is ‘n verhaal van ‘n houtkappertjie wat besig was om aan ‘n denneboom te pik, toe die boom deur ‘n weerligstraal middeldeur geslaan is. Die houtkappertjie kon nie sy oë glo nie. Hy het teruggestaan, vir ‘n oomblik na die boom gekyk en toe weggevlieg. ‘n Rukkie later het hy met nege ander houtkappertjies teruggevlieg gekom. Toe, breëbors en trots, het hy na die boom gewys en gesê: ‘Sien julle, ek het julle mos gesê ek het die boom middeldeur gepik!’ Kom ons raak ernstig. So lank as wat jy onthou om God die krediet vir jou sukses te gee, sal Hy aanhou om jou te gebruik en jou te seën. ‘Van Bo af kom net goeie, ja, volmaakte gawes…’ (Jakobus 1:17 NLV). Dit beteken dat elke goeie ding wat jy vandag geniet en elke goeie ding wat jy môre gaan nodig kry, ‘n gawe van God is. Daar is geen spogstories in die hemel nie, net lofprysing. Hoekom? Omdat jy nie kan spog oor hoe jy in die hemel gekom het nie; dis net deur God se genade. Jy kan ook nie spog oor dit wat jy vir God gedoen het voor jy hemel toe gegaan het nie, omdat dit slegs God se roeping was wat jy vervul het. Hy sê: ‘Ek is die Here, dit is my Naam. My eer deel Ek met niemand anders nie…’ (Jesaja 42:8 NLV). Weer sê Hy: ‘Bring elkeen wat Ek geroep het sodat hy aan My sal behoort, bring elkeen wat Ek gemaak het sodat hy My sal eer’ (Jesaja 43:7 ABA). Die Onse Vader eindig met die woorde: ‘…Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen’ (Matteus 6:13 AFR53). Vir hoe lank? ‘Tot in ewigheid. Amen.’
Sielskos: Jer 14-17; Luk 4:1-13; Ps 98; Spr 14:34