Jou droomhuis (2)

2020-09-01
Openbaring 7:9 NLV

Wanneer jy by jou droomhuis intrek, is daar nog ‘n belangrike vraag: Watter tipe mense woon in die woonbuurt? Johannes het die vreugdes van die hemel as volg beskryf: “Hierna het ek gekyk, en werklikwaar – daar was ‘n reuse skare mense wat niemand eers kon tel nie. Hulle het gekom uit elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam stelling ingeneem. Hulle het wit klere aangehad, met palmtakke in hulle hande. Met ‘n kragtige stem het hulle uitgeroep: ‘Ons verlossing is te danke aan God wat op die troon sit en aan die Lam!'” (verse 9-10 NLV). Die skrywer Max Lucado, vertel die verhaal van sy vriendin Joy, wat ‘n Sondagskoolonderwyseres was. Sy het ‘n skugter nege-jarige dogterjie genaamd Barbara, wat uit ‘n minderbevoorregte huis en woonbuurt gekom het, in haar klas gehad. Lucado skryf: “Barbara se moeilike huislike omstandighede het haar bang en onseker gemaak. In die weke wat my vriendin die klassie geleer het, het Barbara nooit gepraat nie. Nooit. Terwyl die ander kinders gepraat het, het sy gesit. Terwyl die ander gesing het, het sy stilgebly. Terwyl die ander gegiggel het, was sy stil. Altyd teenwoordig. Altyd luisterend. Altyd sprakeloos. Tot die dag wat Joy ‘n klas oor die hemel aangebied het. Joy het gepraat oor hoe ons God sou sien. Oor tranelose oë en ewige lewens. Barbara was gefassineerd. Sy het honger geluister. Toe het sy haar hand opgesteek. ‘Juffrou Joy?’ Joy was verstom. Barbara het nog nooit vantevore ‘n vraag gevra nie. ‘Ja, Barbara?’ Nege-jarige Barbara het gevra: ‘Is die hemel ook vir dogtertjies soos ek?'” Die antwoord is ja! Die hemel is vir Barbara geskep – en vir jou.

Sielskos: Amos 5:18-9:15; Luk 19:11-27; Ps 103:13-22; Spr 19:17