Oorkom verwerping (1)

2020-08-18
Jesaja 43:4 NLV

Jesus het verwerping ervaar: ‘Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie’ (Johannes 1:11 NLV). Hy het egter nie rondgesit en sy wonde gelek nie; Hy het aanbeweeg na waar mense Hom met vreugde ontvang het. Hy het ook vir sy dissipels gesê: ‘As hulle julle nie wil ontvang of wil luister na wat julle sê nie, gaan uit daardie huis of dorp en skud die stof van julle voete af’ (Matteus 10:14 NLV). Herhaalde verwerping is geneig om die vrees dat ons nie genoeg is nie, te bekragtig. Dis veral so wanneer dit by die opinies van diegene wat vir ons van waarde is, kom. Die ironie is egter dat optrede uit vrees vir verwerping, dikwels die presiese verwerping wat jy probeer vermy, tot gevolg het. Wanneer mense besef dat jy jouself nie baie hoog ag nie, behandel hulle jou daarvolgens. Jy leer mense hoe om jou te waardeer, deur die manier wat jy jouself waardeer. Selfs al is Jesus verwerp, het Hy nooit op ‘n manier opgetree wat aanhoudende verwerping aangemoedig het nie. Hy het nie op plekke gebly waar Hy verdra is nie; Hy het na plekke gegaan waar Hy gevier is. Met ander woorde, Hy het na plekke gegaan waar mense sy persoon, sy doel en sy krag herken en ontvang het. Hy het God se volle aanvaarding gehad, dus het Hy nie mense se verwerping gevrees nie. Jy het ook God se volle aanvaarding. ‘Omdat jy vir My kosbaar en belangrik is, omdat Ek jou liefhet…’ Die eerste stap om verwerping te oorkom, is om God se opinie van jou te alle tye in jou gedagtes te hou.

Sielskos: Rig 1-3; Luk 14:25-35; Ps 119:89-96; Spr 18:6-8