Hoe om moeilike mense te hanteer (1)

2020-08-05
1 Tessalonisense 5:15 NLV

Jesus het na die Heilige Gees as ‘die helper’ verwys. Soos jy jouself aan Hom onderwerp, sal Hy jou help om die moeilike mense in jou lewe op die regte manier te hanteer. Paulus skryf: ‘Ja, moenie die Heilige Gees hartseer maak nie. In die regte verhouding met die Heilige Gees lê julle waarborg dat julle God se verlossingsdag sal belewe’ (Efesiërs 4:30 NLV). Moenie die Heilige Gees aanstoot gee, of beperk, of blokkeer om in jou lewe te werk nie. Jy vra: ‘Hoe doen ek dit?’ Paulus antwoord: ‘Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek’ (vers 31 NLV). Dis ‘n lys aaklige dinge! Paulus se punt is: Óf jy laat toe dat jou reaksies deur daardie aaklige lys beheer word, óf jy laat die inwonende Heilige Gees toe om jou reaksies te beheer. Die keuse is joune. Die Bybel sê: ‘…Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ‘n houvas gee nie’ (verse 26-27 NLV). Wanneer jy in woede terugslaan, gee jy die duiwel ‘n houvas in jou lewe – ‘n vesting van waar hy jou in ander areas kan aanval. Wanneer dit gebeur, moet jy nie net die hartseer wat die moeilike persoon in jou lewe veroorsaak het hanteer nie, maar ook die bykomende hartseer omdat jy die duiwel ‘n houvas in jou lewe gegee het. Wat moet jy dus doen? Die Bybel sê: ‘Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (vers 32 NLV). Met ander woorde, onthou die liefde, geduld en genade wat God aan jou bewys het; en reik daarmee na ander mense toe uit. Dis ‘n strategie wat nooit faal nie!

Sielskos: Deut 11-13; Luk 11:29-44; Ps 119:1-8; Spr 17:3