Hoe om moeilike mense te hanteer (3)
2020-08-071 Petrus 2:23 DB
Niemand het die kuns om moeilike mense te hanteer beter as Jesus bemeester nie. Die Romeine wou Hom stilmaak, Herodes wou Hom doodmaak, Pilates het sy hande van Hom gewas, geloofsleiers was jaloers op Hom, sy familie het gedink dat Hy mal was, die dorpenaars wou Hom stenig, Tomas het Hom betwyfel, Petrus het Hom verloën, Judas het Hom verraai, soldate het Hom aangerand en sy naaste volgelinge het van Hom af weggehardloop. Tog het Jesus nooit vir God gevra om die moeilike mense uit sy lewe weg te neem nie. As Hy het, sou daar niemand oorgebly het nie. Soms vra ons God om ‘n moeilike mens uit ons lewens te verwyder, omdat ons nie bereid is om daardie persoon eerlik te konfronteer nie. As God daardie gebed dan sou beantwoord, sal ons die geleentheid om te groei verloor, wat sy diepste begeerte vir ons is. Jesus se lesse oor hoe om moeilike mense te hanteer, het uit diepe, intieme, pynlike ervarings en wysheid voortgevloei. Sy woorde het wêreldleiers en bewegings soos geen ander woorde wat al ooit gespreek is nie, beïnvloed – van Mahatma Gandhi tot Martin Luther King jr tot Nelson Mandela. Petrus skryf: ‘…As julle nie dan self lelik begin optree nie, maar die onbillike optrede van julle werkgewer met goeie dade te bowe kom, doen julle iets waarop God trots sal wees. As Christene word daar van julle verwag om soos Jesus te leef… Hy het mense wat lelike dinge vir Hom gesê het, nie terugbeledig nie. Toe hulle Hom seergemaak het, het Hy nie gesê dat Hy hulle gaan terugkry nie. Hy was tevrede om alles in God se hande te los. God sal daarvoor sorg dat wat moet gebeur, sal gebeur’ (verse 21-23 DB). Jy is geroepe om sy voorbeeld te volg.
Sielskos: Deut 18-21; Luk 12:1-12; Ps 119:17-24; Spr 17:7-10