God het beloof om jou te seën!

2020-09-08
Deuteronomium 15:6 NLV

Soms vertrap die lewe jou so dat jy hoop en geloof opgee dat iets goeds ooit met jou sal gebeur. As dit is waar jy vandag is, lees hierdie woorde: ‘Ek weet wat Ek vir julle beplan het… Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê’ (Jeremia 29:11 NLV). God het ‘n plan vir elkeen van ons, maar nie almal van ons ervaar dit nie. Hoekom nie? Om twee redes: 1) Ons besef nie dat ons regte en voorregte het nie. Ons glo dat God ons kan red en hemel toe kan neem wanneer ons sterf, maar ons dink nie dat Hy enigiets aan ons verlede, ons hede of ons toekoms kan doen nie. 2) Ons lewe ver onder die vlak wat Hy vir ons in gedagte gehad het, omdat ons onsself in die verkeerde lig sien. Ons glo dat Hy enigiemand kan seën – behalwe ons – omdat ons nie waardig is nie. God het jou in die regverdigheid van Christus geklee, dus is jy waardig voor Hom en sal Hy jou ‘seën soos Hy belowe het.’ Wanneer ‘n koning in die Bybelse tyd die troon betree het, het hy seker gemaak dat die vorige koning en sy familie tereggestel is, sodat niemand teen hom kon optrek nie. Toe Dawid dus vir koning Saul vervang het, het Saul se kleinseun, Mefisobet, uit vrees na die woestyn toe gevlug. Dawid was egter ‘n ander tipe koning. In plaas daarvan om sy voorganger se familie uit te wis, het hy gevra: ‘…Is daar nog iemand van Saul se afstammelinge oor? Ek wil aan so iemand goeddoen ter wille van Jonatan’ (2 Samuel 9:1 NLV). ‘Hoekom sal God my seën?’ vra jy. Die antwoord is eenvoudig maar duidelik: ter wille van Christus!

Sielskos: Eseg 20-21; Luk 20:27-40; Ps 78:1-8; Spr 20:7-10

Murphy se wet of God se wet?

2020-09-07
Filippense 4:8 ABA

Daar word vertel dat kaptein Edward Murphy, ‘n ingenieur wat in 1949 aan ‘n projek vir die Amerikaanse lugmag gewerk het, kwaad geword het oor ‘n oordraer wat verkeerd gekoppel was. Hy het met die tegnikus wat daarvoor verantwoordelik was geraas en gesê: ‘As daar ‘n manier is om iets verkeerd te doen, sal hy daardie manier vind!’ Sulke denke het oor tyd as Murphy se wet begin bekend staan. Die wet sê basies: ‘Niks is so maklik soos dit lyk nie. Alles neem langer as wat jy verwag en as iets verkeerd kan gaan, sal dit – op die slegste moontlike oomblik.’ Hoe negatief is sulke denke nie! Wie sou die lewe kon geniet as hulle volgens hierdie filosofie leef? Omdat hulle altyd die ergste verwag – sal hulle dit kry! God se wet verskil heeltemal van Murphy se wet. Die wêreld mag dalk verwag dat Murphy se wet hulle lewens sal beheer, maar as verloste kind van God moet jy sulke denkwyses teenstaan en God se wet omhels. God se wet sê in wese: ‘As iets reg kan gaan, sal dit. Niks is so moeilik soos dit lyk nie. Alles is meer lonend as wat dit voorkom en as iets goeds vir enigiemand kan gebeur, sal dit vir my gebeur.’ God het ‘n wonderlike lewe vir jou beplan – een wat Hy wil hê jy ten volle moet geniet. In plaas daarvan om dus alles uit proporsie uit te blaas en God se Woord te weerspreek, staan eerder op hierdie belofte: ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (Romeine 8:28 NLV). Dis wat dit beteken om volgens God se wet – en nie Murphy s’n nie! – te lewe.

Sielskos: Eseg 16:53-19:14; Luk 20:20-26; Ps 27; Spr 20:5-6

Moenie met dwase omgaan nie

2020-09-06
Spreuke 1:7 NLV

Drie Hebreeuse woorde word gebruik om die woord ‘dwaas’ in Spreuke te definieer. 1) ‘Kesil.’ Dit verwys na ‘n hardkoppige persoon wat dink dat hy of sy het nie raad nodig nie. 2) ‘Ewil.’ Hierdie woord verwys na ‘n dikvellige persoon wat weier om na advies te luister. 3) ‘Nabal.’ Dit verwys na iemand wat sy of haar gebrek aan wysheid deur ‘n dwase leefstyl demonstreer. Die dwaas is dus ‘n hardkoppige, dikvellige mens wat die skool van wysheid druip. Hulle mag dalk intellektueel briljant en finansieel suksesvol wees en sosiaal bewonder word, maar hulle is moreel en geestelik bankrot. Salomo waarsku: ‘…Die dwase vernietig hulleself weens ‘n gebrek aan gesonde verstand’ (Spreuke 10:21 NLV). Net soos ‘n liggaam weens ‘n gebrek aan suurstof sal sterf, so sal ‘n man of vrou uiteindelik en vir ewig weens ‘n gebrek aan wysheid sterf. Salomo som dit vir ons so op: ‘Vermy ‘n dwase mens. By hom sal jy niks kan leer nie’ (Spreuke 14:7 NLV). Die boodskap is duidelik: Net ‘n dwaas hang saam met dwase uit! Wanneer jy dus ‘n vriendskap vorm, is hier ‘n paar vrae wat beantwoord moet word: Bring die ander persoon die beste of die slegste in jou na vore? Het hulle ‘n positiewe of ‘n negatiewe houding? Wat is die tipe vriende waarmee hulle omgaan? Is hulle by dinge betrokke wat jou waardes oortree? Oefen hulle selfbeheersing uit en beheer hulle hul humeur? Bring hulle jou nader aan God, of dryf hulle jou verder van Hom af weg?

Sielskos: Matt 16:13-23; Matt 26:69-75; Joh 21:15-19

‘n Eerlike vraag

2020-09-05
Psalm 13:2 NLV

Toe Kelly James en twee vriende wat saam met hom op Oregon se Hoodberg rotsgeklim het sterf, het sy broer Frank, ‘n professor in teologie, erken: ‘Dis een ding om in die abstrak van die dood te praat. Dis iets anders om die dood van ‘n geliefde te hanteer. Die dood is lelik. Ons kan nie – ons moenie – probeer om dit met vrome gemeenplasies aanvaarbaar te maak nie. Een vraag spook by my: ‘Waar was God toe Kelly doodgevries het?’ Vir my om dit nie te vra nie, sal wees om God nie ernstig op te neem nie. Ek stel nie voor dat ons as sterflinge God moet oordeel nie; God rapporteer nie aan my nie. ‘n Eerlike vraag uit ‘n gebroke hart is egter ‘n goeie en regverdige ding.’ Dawid was nie bang om vir God te vra: ‘Hoe lank sal U nog anderpad kyk?’ nie. ‘n Paar verse later verklaar dieselfde benoude Dawid egter: ‘Maar ek maak staat op u troue liefde…’ (Psalm 13:6 NLV). Frank James vervolg: ‘Tussendeur al die geestelike konsternasie het God Homself in my rou gemanifesteer. Hy was in my teleurstelling, verwardheid en rou emosies te vinde. My konsep van geloof het soos Abraham s’n geword. Ek moet God vertrou selfs al verstaan ek nie. Tussen genoeg trane om ‘n oseaan te vul, moes ons almal al geliefdes begrawe het. Ons begrawe hulle egter met hierdie belofte: ‘Almal van ons sterf omdat ons almal aan Adam, die eerste mens, verbonde is. Net so sal almal wat aan Christus, die ander mens, verbonde is, weer lewendig gemaak word’ (1 Korintiërs 15:42 NLV). Dit vrywaar ons nie van rou nie. Dit neem egter ons geloof na dieptes waar hoop deur die hartseer begin deurdring, soos ‘n sonstraal deur ‘n bewolkte hemel deurbreek.’

Sielskos: Eseg 14:1-16:52; Luk 20:9-19; Ps 112; Spr 20:1-4

Rede vir hoop

2020-09-04
Hosea 2:14 NLV

Bybelse verwysings na vlaktes en valleie simboliseer oor die algemeen hooploosheid. Die Akorvlakte het sy naam gekry toe Akan se familie daar gestenig is en Israel se weermag oorwin is (sien Josua 7:25-26). Om hooploos te voel is menslik en baie van die geskiedenis se noemenswaardige helde het dit ervaar. William Penn het gesê: ‘Daar is amper niks behalwe ondergang en wanhoop rondom ons nie.’ Lord Shaftesbury het verklaar: ‘Niks kan die Britse Ryk van ‘n skeepswrak red nie.’ Benjamin Disraeli het gesê: ‘Daar is geen hoop in industrie, handel en landbou nie.’ Lord Grey het gesug: ‘Die lampe word regoor Europa verdoof; ons sal nie weer die lig in ons leeftyd aanskou nie.’ Daar is doemprofete orals en as jy inkoop by dit wat hulle bied, sal jy op die ou einde oortuig wees dat daar geen hoop vir jou situasie is nie. Niks kan verder van die waarheid af wees nie! Paulus het gesê: ‘Kom ons hou ook styf vas aan die hoop wat ons bely… Hy sal doen wat Hy beloof het’ (Hebreërs 10:23 NLV). God kan jou ‘Akorvlakte in ‘n deur van hoop’ omskep. Dis dieselfde belofte wat Hy aan sy mense gemaak het, selfs nadat hulle hul rug op Hom gekeer het. Hy het in Jesaja 65:10 gesê: ‘…die Akorlaagte [sal] ‘n rusplek [wees]… vir hulle uit die volk wat na my wil vra’ (NLV). Soos Henry Blackaby opmerk: ‘Optimiste ignoreer nie moeilikhede nie, maar die wete van God se teenwoordigheid weerhou hulle daarvan om ontmoedig te word. Dis onmoontlik om in sy teenwoordigheid te staan en ‘n pessimis te wees. As ons op ons probleme fokus, sal hulle enorm voorkom. Wanneer ons egter op God fokus, sien ons ons situasie in perspektief en is ons verseker dat alle dinge moontlik is.’

Sielskos: Eseg 10-13; Luk 20:1-8; Ps 20; Spr 19:24-29

Jou droomhuis (4)

2020-09-03
Openbaring 21:4 NLV

Dave Dravecky was in die 1980’s die gooier vir die San Francisco Giants bofbalspan. In 1988 het dokters ‘n gewas in die arm waarmee hy gegooi het, ontdek en in 1991 moes sy arm geamputeer word. In sy boek, When You Can’t Come Back, skryf hy oor sy gevoel van verlies. ‘Ek mis dit om dinge met my eie twee hande te doen en natuurlik mis ek bofbal. Daar is ‘n toneel in die rolprent, Field of Dreams, waar Shoeless Joe Jackson – een van die agt Chicago White Sox spelers wat uit bofbal verban is nadat hulle geknoei het om die 1919 Wêreldreeks te verloor – gesê het: ‘Om uit bofbal verban te word was soos om ‘n deel van my te amputeer. Ek het in die nag wakker geword met die reuk van die bofbalpark in my neus en die koelte van die gras onder my voete. Maggies, maar ek was lief vir hierdie spel. Ek sou vir geen salaris gespeel het.’ Dravecky gaan voort: ‘Daardie toneel het ‘n kragtige effek op my gehad. Ek het ook daardie gevoelens gemis. Die gevoel van die nate wanneer jy ‘n nuwe bal in jou hand vashou… die geluid van die kolf wat die bal tref. Ek sou ook vir geen salaris gespeel het.’ Ons almal lewe in ‘n gebroke wêreld waar ons ledemate en geliefdes verloor. Die hemel sal egter opmaak vir alles wat ons verloor het. Ons sal met ons verloste geliefdes herenig word en ons liggame sal vry van siekte, pyn en enige vorm van beperkings wees. ‘…Ook hartseer of smartkrete of pyn sal glad nie meer bestaan nie. Die ou dinge het eenvoudig verbygegaan.’ Eendag sal jy in jou droomhuis woon!

Sielskos: Eseg 5-9; Luk 19:41-48; Ps 142; Spr 19:21-23