Jou droomhuis (3)

2020-09-02
Openbaring 7:15 NLV

Wanneer jy aan jou droomhuis dink, ontstaan daar nog twee vrae. Hoe naby is dit aan waar ek werk? Het jy al ooit gewonder wat ons in die hemel gaan doen? Omdat die hemel die nuwe Paradys sal wees, lees die volgende: “God het hulle geseën deur te sê: ‘Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. Onderwerp die aarde en heers oor die visse van die see, die voëls in die lug en oor al die diere op die aarde'” (Genesis 1:28 NLV). Die Bybel voorsien ons nie van spesifieke werksbeskrywings oor wat ons in die hemel gaan doen nie, maar die eerste Paradys gee ons twee belangrike leidrade: a) ‘Wees vrugbaar en vermeerder.’ Jy sal nie sukkel om jou rekeninge te betaal nie. Jy sal nie teleurstelling of vertrapte drome ervaar nie. Elke droom en elke kreatiewe idee wat jy het, sal vervul word. b) ‘Onderwerp die aarde en heers.’ Ons sal dus tot leierskap- en bestuursposisies bevorder word. Daar is egter ‘n verskil! God het vir Adam gesê: ‘…Daarom vervloek ek die grond. Jou hele lewe lank sal jy met droefheid sukkel om ‘n bestaan daaruit te maak’ (Genesis 3:17 NLV). In Openbaring sê God egter: ‘Geen vervloeking van enigiets sal langer meer bestaan nie…’ (Openbaring 22:3 NLV). Hier is dus die vraag: Gaan jy hemel toe wanneer jy sterf? Is jy seker? Jy kan wees. Johannes het gesê: ‘Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle met die wete kan leef dat julle nou reeds deel het aan die ewige lewe, julle wat aanhou glo in die persoon van die Seun van God’ (1 Johannes 5:13 NLV).

Sielskos: Eseg 1-4; Luk 19:28-40; Ps 111; Spr 19:18-20

Jou droomhuis (2)

2020-09-01
Openbaring 7:9 NLV

Wanneer jy by jou droomhuis intrek, is daar nog ‘n belangrike vraag: Watter tipe mense woon in die woonbuurt? Johannes het die vreugdes van die hemel as volg beskryf: “Hierna het ek gekyk, en werklikwaar – daar was ‘n reuse skare mense wat niemand eers kon tel nie. Hulle het gekom uit elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam stelling ingeneem. Hulle het wit klere aangehad, met palmtakke in hulle hande. Met ‘n kragtige stem het hulle uitgeroep: ‘Ons verlossing is te danke aan God wat op die troon sit en aan die Lam!'” (verse 9-10 NLV). Die skrywer Max Lucado, vertel die verhaal van sy vriendin Joy, wat ‘n Sondagskoolonderwyseres was. Sy het ‘n skugter nege-jarige dogterjie genaamd Barbara, wat uit ‘n minderbevoorregte huis en woonbuurt gekom het, in haar klas gehad. Lucado skryf: “Barbara se moeilike huislike omstandighede het haar bang en onseker gemaak. In die weke wat my vriendin die klassie geleer het, het Barbara nooit gepraat nie. Nooit. Terwyl die ander kinders gepraat het, het sy gesit. Terwyl die ander gesing het, het sy stilgebly. Terwyl die ander gegiggel het, was sy stil. Altyd teenwoordig. Altyd luisterend. Altyd sprakeloos. Tot die dag wat Joy ‘n klas oor die hemel aangebied het. Joy het gepraat oor hoe ons God sou sien. Oor tranelose oë en ewige lewens. Barbara was gefassineerd. Sy het honger geluister. Toe het sy haar hand opgesteek. ‘Juffrou Joy?’ Joy was verstom. Barbara het nog nooit vantevore ‘n vraag gevra nie. ‘Ja, Barbara?’ Nege-jarige Barbara het gevra: ‘Is die hemel ook vir dogtertjies soos ek?'” Die antwoord is ja! Die hemel is vir Barbara geskep – en vir jou.

Sielskos: Amos 5:18-9:15; Luk 19:11-27; Ps 103:13-22; Spr 19:17

Jou droomhuis (1)

2020-08-31
2 Korintiërs 5:1 NLV

Min dinge in die lewe kom naby die opgewondenheid daarvan wanneer jy in jou droomhuis intrek. As jy egter ‘n verloste kind van God is, kan jy seker wees hiervan: Maak nie saak hoe pragtig jou droomhuis hier op aarde mag wees nie, dis niks in vergelyking met die een wat jy in die ewigheid sal hê nie. Dis hoekom Jesus gesê het: ‘My Vader het ‘n huis. Daar is meer as genoeg plek vir julle almal. Ek gaan om vir julle daar plek reg te maak. Dink julle een oomblik Ek sou dit gesê het as dit nie so was nie?’ (Johannes 14:2 DB). Daar is sekere vrae wat by ons opkom as ons aan die huis waarin ons wil bly, dink. Eerstens, wat is die prys? Antwoord: Meer as wat jy ooit sal kan bekostig! God het sy ‘enigste Seun’ (Johannes 3:16 NLV), gegee om jou te verlos en jou hemel toe te neem. Niemand in die hemel sal ooit sê: ‘Kyk wat het Jesus en ek vermag’ nie. Dit sal jou ‘n mede-verlosser saam met Christus maak. Dit sal ‘n belediging vir die kruis wees. Jy sal skuldig aan ‘n vlak van trots wees wat dit onmoontlik vir jou sal maak om daar te lewe. Die gesangeskrywer, Horatius Bonar, het geskryf: ‘Upon a life I have not lived, upon a death I did not die; Another’s life; another’s death, I stake my whole eternity.’ Die Bybel sê dat jy vir God se koninkryk moet werk, maar moet dit nie verkeerd verstaan nie. Jy werk nie sodat jy gered kan word nie; jy werk omdat jy gered is. ‘So sal God ook, in die tye wat kom, bewys dat Hy heeltemal oorloop van onverdiende goedheid. Die goedheid wat God ons deur Christus Jesus gegee het, sal as bewys dien’ (Efesiërs 2:7 NLV).

Sielskos: Amos 1:1-5:17; Luk 19:1-10; Ps 103:1-12; Spr 19:12-16

Hoe om goed te onderhandel (2)

2020-08-30
1 Kronieke 29:12 NLV

Om goed te onderhandel, moet jy die volgende drie dinge doen: 1) Praat met God voor jy met ander mense praat. Betrek Hom by al jou besluite. Die Bybel sê: ‘Rykdom en eer kom van U alleen, want U heers oor alles. Krag en mag is in u hand, om te verhoog en te versterk.’ ‘En as God aan mense rykdom en besittings gee, en die vermoë om dit te geniet, is dit ook ‘n geskenk uit sy hand’ (Prediker 5:18-19 NLV). As God oor die prys van ons redding aan die kruis kan onderhandel, dink jy nie dat Hy gekwalifiseerd is om jou te help om in besigheid suksesvol te onderhandel nie? 2) Dink langtermyn. Wanneer iemand nie van jou houding hou wanneer hulle met jou besigheid doen nie, mag jy dalk die produk verkoop, maar ‘n langtermyn kliënt verloor. Die biljoenêr, Sam Walton, het gesê dat hy selde in maatskappye met ‘n goeie vooruitsig van 18 maande belê. Hy belê eerder in maatskappye wat tien jaar later steeds suksesvol sal wees. Jy mag dalk vandag onvervangbaar wees – maar dit sal nie altyd die geval bly nie. As jy jou baas vir ‘n verhoging druk deur te dreig om te bedank, mag jou korttermyn wins dalk in langtermyn verlies ontaard. 3) Moenie in iets gedwing word nie. Hardloop weg van die verkoopsman wat aandring: ‘Dis die laaste dag van hierdie uitverkoping!’ Oor die algemeen sal jy dieselfde winskopie oor ‘n maand weer raakloop. In baie gevalle het hulle jou kopie meer nodig as wat jy hulle produk nodig het. Jou opinie is waardig om gehoor en gerespekteer te word. Maak net seker dat dit op die regte tyd, in die regte atmosfeer en met die regte houding is.

Sielskos: Dan 1:1-20; Dan 6:1-28

Hoe om goed te onderhandel (1)

2020-08-29
Prediker 3:1 NLV

Dit help om te verstaan wat aan beide kante van die tafel aan die gebeur is as jy goed wil onderhandel. Mense koop selde ‘n produk vir die rede wat jy dit wil verkoop. As jy meer geïnteresseerd daarin is om ‘n wins te maak as om aan hulle behoeftes te voldoen, sal jy misluk. Hier is dus ‘n paar dinge wat jy in gedagte moet hou wanneer jy met iemand onderhandel: 1) Die regte houding. Niemand hou daarvan om as vanselfsprekend aanvaar te word, gedwing of in ‘n blik gedruk te word nie. 2) Die koste verbonde vir die ander persoon. Daar is ‘n wêreld se verskil tussen iemand wat soveel geld het dat hulle enigiets kan bekostig en iemand wat opofferings maak omdat hulle regtig jou produk nodig het. As jy ‘n langtermyn kliënt eerder as ‘n korttermyn transaksie wil hê, moet jy die Goue Reël uitoefen: ‘Doen vir ander alles wat julle graag wil hê hulle vir julle sal doen…’ (Matteus 7:12 NLV). 3) Die regte tydsberekening. Salomo sê vir ons daar is: “‘n Tyd om te soek en ‘n tyd om te verloor…” (Prediker 3:6 NLV). Of jy nou vir ‘n verhoging vra of ‘n produk aan ‘n klant probeer verkoop, tydsberekening is allerbelangrik. Wanneer iemand honger, eensaam, kwaad, moeg, gestres of in ‘n krisis is, neem jy die risiko om te verloor, terwyl die kans goed is dat jy sal wen as jy vir die regte tyd wag. Gee God regtig oor dinge soos dié om? Ja. ‘Winkeleienaars en kafeebase moenie mense uitbuit nie. Die Here haat ‘n kullery’ (Spreuke 16:11 DB). As volgeling van Christus, wil jy hê dat altwee partye moet voel dat hulle regverdig behandel is.

Sielskos: Klaag 3:40-5:22; Luk 18:31-43; Ps 84; Spr 19:11

Stop!

2020-08-28
Lukas 18:40 DB

Is daar spasie in jou skedule vir onderbrekings? Een skrywer sê: ‘Jesus het gestop wanneer mense hulp nodig gehad het. Hy het onderbrekings as geleenthede om God se liefde te wys, gesien. Soos die Goeie Samaritaan, moet ons gereed wees om te stop vir iemand wat seer het. ‘Iemand wat… sy broers en susters sien gebrek ly, maar weier om ‘n helpende hand uit te steek – hoe is dit moontlik dat die liefde van God in daardie persoon woon?’ (1 Johannes 3:17 NLV). Wanneer Jesus uit liefde opgetree het, het die mense ‘…die hand van God gesien werk’ (Lukas 7:16 NLV). Chuck Swindoll skryf: ‘Die Een wie gesê het: ‘Wees stil en weet Ek is God!..’ (Psalm 46:11 NLV), moet seerkry wanneer Hy ons waansinnige, kompulsiewe, angstige bewegings aanskou. Jy kan egter verander. Hier is hoe jy dit doen. Erken dit. Erken dat jy te besig is en dat jy iets NOU daaraan moet doen. Ek het dit onlangs gedoen, en deur trane het my familie en ek brûe wat deur dorings oorgroei was, skoongemaak. Stop dit. Begin vandag om elke aktiwiteit wat nie absoluut noodsaaklik is nie, te weier. Klink dit genadeloos? Die horlosie is ook genadeloos. So ook jou gesondheid. Hou op om so belangrik te voel. Hulle sal iemand anders kry om op die komitee te sit. Handhaaf dit. Dis maklik om vinnig te begin en vinnig te vervaag. Paulus het vir die Galasiërs gesê: ‘Julle het so goed gevorder. Wie het julle gekeer om die waarheid te bly gehoorsaam? Die idee kom nie van Hom wat julle geroep het nie!’ (Galasiërs 5:7-8 NLV). Deel dit. Sodra jy begin om die voordele te geniet wanneer jy jou prioriteite herorden, vertel ander ‘aktiwiteit-verslaafdes’ daarvan.’ Hulle sal graag wil stop – as hulle net geweet het hoe.’

Sielskos: Klaag 1:1-3:39; Luk 18:18-30; Ps 119:169-176; Spr 19:9-10