Murphy se wet of God se wet?
2020-09-07Filippense 4:8 ABA
Daar word vertel dat kaptein Edward Murphy, ‘n ingenieur wat in 1949 aan ‘n projek vir die Amerikaanse lugmag gewerk het, kwaad geword het oor ‘n oordraer wat verkeerd gekoppel was. Hy het met die tegnikus wat daarvoor verantwoordelik was geraas en gesê: ‘As daar ‘n manier is om iets verkeerd te doen, sal hy daardie manier vind!’ Sulke denke het oor tyd as Murphy se wet begin bekend staan. Die wet sê basies: ‘Niks is so maklik soos dit lyk nie. Alles neem langer as wat jy verwag en as iets verkeerd kan gaan, sal dit – op die slegste moontlike oomblik.’ Hoe negatief is sulke denke nie! Wie sou die lewe kon geniet as hulle volgens hierdie filosofie leef? Omdat hulle altyd die ergste verwag – sal hulle dit kry! God se wet verskil heeltemal van Murphy se wet. Die wêreld mag dalk verwag dat Murphy se wet hulle lewens sal beheer, maar as verloste kind van God moet jy sulke denkwyses teenstaan en God se wet omhels. God se wet sê in wese: ‘As iets reg kan gaan, sal dit. Niks is so moeilik soos dit lyk nie. Alles is meer lonend as wat dit voorkom en as iets goeds vir enigiemand kan gebeur, sal dit vir my gebeur.’ God het ‘n wonderlike lewe vir jou beplan – een wat Hy wil hê jy ten volle moet geniet. In plaas daarvan om dus alles uit proporsie uit te blaas en God se Woord te weerspreek, staan eerder op hierdie belofte: ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (Romeine 8:28 NLV). Dis wat dit beteken om volgens God se wet – en nie Murphy s’n nie! – te lewe.
Sielskos: Eseg 16:53-19:14; Luk 20:20-26; Ps 27; Spr 20:5-6