Jou droomhuis (4)

2020-09-03
Openbaring 21:4 NLV

Dave Dravecky was in die 1980’s die gooier vir die San Francisco Giants bofbalspan. In 1988 het dokters ‘n gewas in die arm waarmee hy gegooi het, ontdek en in 1991 moes sy arm geamputeer word. In sy boek, When You Can’t Come Back, skryf hy oor sy gevoel van verlies. ‘Ek mis dit om dinge met my eie twee hande te doen en natuurlik mis ek bofbal. Daar is ‘n toneel in die rolprent, Field of Dreams, waar Shoeless Joe Jackson – een van die agt Chicago White Sox spelers wat uit bofbal verban is nadat hulle geknoei het om die 1919 Wêreldreeks te verloor – gesê het: ‘Om uit bofbal verban te word was soos om ‘n deel van my te amputeer. Ek het in die nag wakker geword met die reuk van die bofbalpark in my neus en die koelte van die gras onder my voete. Maggies, maar ek was lief vir hierdie spel. Ek sou vir geen salaris gespeel het.’ Dravecky gaan voort: ‘Daardie toneel het ‘n kragtige effek op my gehad. Ek het ook daardie gevoelens gemis. Die gevoel van die nate wanneer jy ‘n nuwe bal in jou hand vashou… die geluid van die kolf wat die bal tref. Ek sou ook vir geen salaris gespeel het.’ Ons almal lewe in ‘n gebroke wêreld waar ons ledemate en geliefdes verloor. Die hemel sal egter opmaak vir alles wat ons verloor het. Ons sal met ons verloste geliefdes herenig word en ons liggame sal vry van siekte, pyn en enige vorm van beperkings wees. ‘…Ook hartseer of smartkrete of pyn sal glad nie meer bestaan nie. Die ou dinge het eenvoudig verbygegaan.’ Eendag sal jy in jou droomhuis woon!

Sielskos: Eseg 5-9; Luk 19:41-48; Ps 142; Spr 19:21-23