Rede vir hoop
2020-09-04Hosea 2:14 NLV
Bybelse verwysings na vlaktes en valleie simboliseer oor die algemeen hooploosheid. Die Akorvlakte het sy naam gekry toe Akan se familie daar gestenig is en Israel se weermag oorwin is (sien Josua 7:25-26). Om hooploos te voel is menslik en baie van die geskiedenis se noemenswaardige helde het dit ervaar. William Penn het gesê: ‘Daar is amper niks behalwe ondergang en wanhoop rondom ons nie.’ Lord Shaftesbury het verklaar: ‘Niks kan die Britse Ryk van ‘n skeepswrak red nie.’ Benjamin Disraeli het gesê: ‘Daar is geen hoop in industrie, handel en landbou nie.’ Lord Grey het gesug: ‘Die lampe word regoor Europa verdoof; ons sal nie weer die lig in ons leeftyd aanskou nie.’ Daar is doemprofete orals en as jy inkoop by dit wat hulle bied, sal jy op die ou einde oortuig wees dat daar geen hoop vir jou situasie is nie. Niks kan verder van die waarheid af wees nie! Paulus het gesê: ‘Kom ons hou ook styf vas aan die hoop wat ons bely… Hy sal doen wat Hy beloof het’ (Hebreërs 10:23 NLV). God kan jou ‘Akorvlakte in ‘n deur van hoop’ omskep. Dis dieselfde belofte wat Hy aan sy mense gemaak het, selfs nadat hulle hul rug op Hom gekeer het. Hy het in Jesaja 65:10 gesê: ‘…die Akorlaagte [sal] ‘n rusplek [wees]… vir hulle uit die volk wat na my wil vra’ (NLV). Soos Henry Blackaby opmerk: ‘Optimiste ignoreer nie moeilikhede nie, maar die wete van God se teenwoordigheid weerhou hulle daarvan om ontmoedig te word. Dis onmoontlik om in sy teenwoordigheid te staan en ‘n pessimis te wees. As ons op ons probleme fokus, sal hulle enorm voorkom. Wanneer ons egter op God fokus, sien ons ons situasie in perspektief en is ons verseker dat alle dinge moontlik is.’
Sielskos: Eseg 10-13; Luk 20:1-8; Ps 20; Spr 19:24-29