2020-09-20
Matteus 6:33 NLV
Sommige mense dink dat God se hoofdoel is om hulle siele te red, om hulle te help om so moreel opreg en geestelik volwasse as moontlik te word en om hulle eendag hemel toe te neem om saam met Hom daar te woon. In ‘n sin is dit waar. Hierdie siening dink egter dat God nie in jou werk, jou gesondheid, jou verhoudings, jou finansies of jou drome en doelwitte geïnteresseerd is nie, omdat hierdie dinge wêrelds, vleeslik en tydelik is. Kom ons kyk na die Skrif en sien wat God regtig hieroor sê. Die waarheid is inteendeel die teenoorgestelde (sien Josua 1:8; Jesaja 48:17; 3 Johannes 2). Deur te glo dat God geen deel daaraan het om sukses in jou beroep of finansiële sekuriteit te behaal nie, is in direkte teenstelling met wat sy Woord sê. Wanneer jy dit glo, beweeg jy op gevaarlike terrein, omdat jy jouself die enigste bron van jou sukses maak – en die Bybel noem dit trots! Wat Jesus ons geleer het is as volg: ‘Moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat sal ons tog eet?’ of: ‘Wat sal ons drink?’ of: ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. Dit is die ongelowiges wat oor hierdie soort dinge begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge byvoeg’ (Matteus 6:31-33 NLV). Kom ons wees dus duidelik: God wil hê dat jy om die regte redes sukses in die lewe moet behaal; en Hy wil hê dat jy al die dinge sal hê wat jy nodig het om dit te doen.
Sielskos: Matt 17:1-9; Joh 19:25-27; Op 1:1-11
2020-09-19
Efesiërs 4:23 NLV
Ons kan baie oor die belangrikheid van ‘n goeie houding leer deur na die kinders van Israel te kyk. Daar word geskat dat 1.5 miljoen Israeliete uit Egipte weggetrek het. God het hulle uit slawerny gered en hulle na die Beloofde Land toe gelei. Die reis moes omtrent elf dae geneem het, maar dit het toe veertig jaar geneem. Hoekom? Omdat hulle konstant oor alles gekla het! Hulle het gekla oor die kos wat God daagliks vir hulle uit die hemel gestuur het. Elke keer wat iets moeiliks oor hulle pad gekom het, was hulle gereed om tou op te gooi en terug te gaan Egipte toe – terug na slawerny toe. Wat verstommend is, is dat slegs twee mense uit die oorspronklike groep van 1.5 miljoen mense wat Egipte verlaat het, die Beloofde Land binnegegaan het. Vandag is daar ook baie Christene wat uit ‘Egipte’ (hulle vorige lewe as slawe van die sonde), ontsnap het, gelowiges wat altyd na die Beloofde Land uitsien, maar steeds hulle hele lewe lank in die woestyn ronddwaal terwyl hulle dieselfde probleme en kwessies hanteer. Is jy een van hulle? Voel jy of jy te lank al in die bergwêreld rondtrek? (Sien Deuteronomium 2:3) As dit die geval is, is hierdie jou antwoord: ‘naamlik dat julle, wat julle vroeëre leefstyl betref, die ou, sondige mens soos vuil klere moet uittrek. Bedrieglike begeertes laat hierdie mens te gronde gaan. Julle moet op ‘n nuwe, geestelike manier leer dink. Ja, trek die nuwe mens soos skoon klere aan, die mens wat na God se beeld geskape is: iemand wat werklik reg lewe voor God en werklik aan Hom toegewy is’ (Efesiërs 4:22-24 NLV). Met ander woorde – verander jou houding!
Sielskos: Eseg 46-48; Luk 22:54-62; Ps 3; Spr 21:4-8
2020-09-18
Hebreërs 11:6 NLV
Ons dink gewoonlik aan geloof in terme daarvan om antwoorde op ons gebede te kry en dinge van God te ontvang wat slegs Hy kan voorsien. Dis goed so. Daar is egter ‘n belangriker rede om jou geloof te versterk. Geloof gaan daaroor om God te behaag! ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon.’ Jou geloof behaag God, en jou gebrek aan geloof mishaag Hom! In die verlede het Christene passievolle gebede beskryf ‘om die hekke van die hemel storm te loop.’ Dit was ‘n opregte sentiment, maar dit was nie heeltemal korrek nie. Die geveg is nie tussen jou en die hemel nie! Jy word uitgenooi om God enige tyd te nader. ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:16 NLV). As daar ‘n geveg is, is dit tussen jou en die magte van die hel (sien Efesiërs 6:12-18). Hoekom is ons gebede soms nie effektief nie? Die Bybel sê: ‘…Dit het hulle egter niks gebaat nie omdat hulle die boodskap wat hulle gehoor het, nie geglo het nie’ (Hebreërs 4:2 NLV). Ja, God word deur jou behoeftes aangeraak, maar Hy reageer op jou geloof. Dit is hoekom niks belangriker is as om jou geloof te versterknie. Hoe doen jy dit? ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap…’ (Romeine 10:17 NLV). Dit werk so: Raak verdiep in God se Woord, laat God se Woord in jou posvat, bid en dinge sal ten goede in jou lewe begin verander.
Sielskos: Num 29:1-6; Op 11:15-19; 1 Kor 15:50-58; Matt 24
2020-09-17
Jeremia 17:9 NLV
Ons almal ken mense wat dit goed bedoel, maar jy is nooit seker of hulle wel iets sal doen as jy vir hulle vra om dit te doen nie. So gaaf soos wat hulle is, is hulle onbetroubaar. Jou gevoelens is so; baie keer kan jy nie op dit staatmaak nie, omdat dit nie noodwendig die beste vir jou in gedagte het nie. Dit is meer geïnteresseerd daarin om hulle eie sin te kry. Jou gevoelens kan byvoorbeeld opgewonde wees om inkopies te gaan doen, wanneer jy nie geld het om te spandeer nie. Dit verlei ons om kaaskoek te eet wanneer ons ekstra kalorieë probeer vermy. Dit laat ons tot laat televisie kyk, terwyl ons vroeg môre moet opstaan. Ons gevoelens is wisselvallig. Dit verander soos die wind. Tog is dit verbasend hoe baie mag ons hulle in ons lewens gee. As gelowiges, het ons iets wyser en meer betroubaar as ons gevoelens om op staat te maak – die Woord van God. Wanneer ons sterk oor iets voel, is dit nie altyd maklik om te bepaal of ons in ooreenstemming met God daaroor is nie. Jeremia sê vir ons: “Die mens se hart is deur en deur bedrieglik en ongeneeslik. Wie weet regtig hoe sleg dit is? ‘Maar Ek weet! Ek, die Here, deursoek alle harte en geheime motiewe…'” (verse 9-10 NLV). Hy doen dit deur sy Woord: ‘Die woord van God is vol lewenskrag en energie. Dit is skerper as die ontleedmes van ‘n chirurg. Dit sny diep tot binne-in ons innerlikste wese, tot in ons gewrigte en murg. Dit vlek ons diepste motiewe en oorwegings oop’ (Hebreërs 4:12 NLV). As jy waarlik daarin geïnteresseerd is om bo jou gevoelens uit te styg, sal jy die Woord van God die bepalende faktor in al jou besluite maak.
Sielskos: Eseg 43-45; Luk 22:39-53; Ps 19; Spr 21:3
2020-09-16
Jakobus 3:2 NLV
Om te probeer beter doen is ‘n goeie ding, maar probeer om realistiese verwagtinge te hê. Alles in die lewe is nie net swart en wit nie, daar is ook grys areas. Alles kan nie die heeltyd perfek wees nie; en alles is nie net altyd sleg nie. Om te besluit om nie ‘n vergadering of sosiale gebeurtenis by te woon net omdat jy vyf minute laat is of n puisie op jou gesig het, of om ‘n hele reis te kanselleer omdat ‘n vlug vertraag is, of om soos ‘n aaklige mens te voel omdat jy een onskuldige fout gemaak het, word soms ‘polarisasie’ genoem. Dit lei tot frustrasie en negatiwiteit. Om vreugde in jou lewe te behou, moet jy aanvaar dat jy nie altyd perfek sal wees nie, en so ook nie die mense en dinge rondom jou nie. Wanneer jy perfeksie van die lewe verwag, verwag jy gewoonlik ook dieselfde van ander mense. Sulke onrealistiese denke veroorsaak nie net groot teleurstelling wanneer daar nie aan jou verwagtinge voldoen word nie, dit plaas ook ondraaglike druk op die mense vir wie jy omgee en kan uiteindelik die verhouding vernietig. Hoekom gee jy nie mense ‘n blaaskans en hou op om dinge wat hulle nie in staat is om vir jou te gee nie, van hulle te verwag? Die apostel Jakobus het gesê dat ons almal baie foute maak. As ons dus almal foute maak – en ons doen – moet jy leer om te ontspan en te aanvaar dat dit deel is van die menslike ervaring. Op watter spesifieke maniere moet jy leer om die ‘onvolmaakte’ areas in jou lewe, of die manier wat iemand anders se onvolmaakte areas jou affekteer, te aanvaar? Voor jy antwoord, onthou die volgende: ‘Die liefde is geduldig en vriendelik…’ (1 Korintiërs 13:4 NLV).
Sielskos: Eseg 40:10-42:20; Luk 22:24-38; Ps 24; Spr 21:1-2
2020-09-15
1 Korintiërs 12:18 NLV
Voel jy asof jy by ‘n ander kerk moet aansluit waar mense meer soos jy is? ‘n Span sendelinge is deur ‘n lid van die Masai stam in Kenia na hulle bestemming begelei. Op pad na hulle bestemming is hulle aandag getrek deur ‘n trop wildebeeste en sebras wat saam migreer het. Hulle gids het verduidelik hoekom twee enorme troppe van verskillende spesies saam sou reis. Hy het verduidelik dat die wildebeeste slegte sig, maar ‘n uitstekende reuksintuig gehad het, terwyl die sebras goed kon sien, maar nie so goed kon ruik nie. Saam was hulle dus minder weerloos omdat hulle verskille vir hulle swakhede opgemaak het. Paulus skryf: ‘Veronderstel ‘n mens se hele liggaam sou uit ‘n oog bestaan – hoe sal jy dan hoor? Of as jou hele liggaam net een groot oor sou wees – hoe sou jy enigiets kon ruik?’ (vers 17 NLV). Dit laat jou nogal aan die sebras en wildebeeste dink, nie waar nie? Wanneer ons by ‘n klub aansluit, kies ons gewoonlik om saam met mense te wees wat min of meer soos ons is. Lidmaatskap aan Christus se liggaam gooi ons egter saam met mense wat so verskillend van ons is soos ‘n neus van ‘n oor. Daardie verskille kan jou soms irriteer, maar dit is verskille wat God daargestel het om tot voordeel vir jou te wees. Sebras en wildebeeste hoef nie van mekaar te hou nie, maar hulle oorlewing en sukses hang van hulle vermoë om oor die weg te kom, af. Jou geestelike groei hang nie daarvan af om met almal oor die weg te kom nie, maar dit hang wel daarvan af om hulle genoeg lief te hê om op ‘n aangename manier saam met hulle te kan lewe!
Sielskos: Eseg 37:1-40:9; Luk 22:14-23; Ps 78:65-72; Spr 20:26-30