Hoe om te veg – en te wen

2020-09-26
1 Timoteus 6:12 NLV

Hier is ses bewese Bybelse strategieë om die Vyand te oorwin wanneer hy teen jou optrek: 1) Dink aggressief. ‘Stry die goeie stryd vir dit waarin ons glo…’ Beplan soos ‘n generaal vir oorlog beplan; bestudeer hoe om jou vyand, die Duiwel, te benader en te oorwin. 2) Bid aggressief. Daar word vir ons gesê dat ons die troon met volle vrymoedigheid kan nader (sien Hebreërs 4:16). Moenie skaam wees vir God nie. Hy is jou Abba Vader. Jy is sy verloste kind, dus kan jy Hom met vertroue nader en vra vir wat jy nodig het. 3) Praat vreesloos. Die apostel Petrus skryf: ‘…Dan moet jy só preek dat Gód deur jou praat…’ (1 Petrus 4:11 NLV). Met ander woorde, gebruik ‘n bevelhebbende, gesaghebbende stemtoon wanneer jy die bose magte weerstaan. ‘…Vind krag in julle verhouding met die Here…’ (Efesiërs 6:10 NLV). 4) Wees vrygewig. Die vlak waarmee jy gee is die vlak waarmee jy sal ontvang. ‘Mense wat graag uitdeel ontvang altyd meer. Daar is ander wat suinig is en hulle word arm. Mense wat ‘n ander iets gun, het self altyd oorvloed…’ (Spreuke 11:24-25 NLV). Geen offer is te klein of te groot nie. 5) Werk ywerig. Die Bybel sê dat jy alles wat jou hand vind om te doen, met jou hele hart moet doen (sien Prediker 9:10). Moenie jou take met vrees en ‘n begeerte om te ontsnap aanpak nie. Moedig jouself in die Heilige Gees aan en maak die werk klaar (sien 2 Timoteus 1:6). 6) Wees onvoorwaardelik lief. As volgeling van Christus, moet jy streef om ander mense lief te hê soos Hy hulle lief het – onvoorwaardelik en opofferend.

Sielskos: Hoogl 5-8; Luk 23:39-49; Ps 91; Spr 21:28-31

Wees veerkragtig (2)

2020-09-25
Romeine 8:37 NLV

As jy tot die gevolgtrekking gekom het dat jou beste dae verby is – is hulle. As jy dink dat hulle nog voorlê – doen hulle. Toe Leonard sy werk by ‘n Fortune 500 maatskappy verloor het, was hy vol vrees en depressief. Hy het egter tot die besef gekom dat indien hy tou opgooi, hy ‘n verkeerde voorbeeld vir sy seun sou stel. Leonard was vasbeslote om sy seun te wys dat hy weer sou opstaan. Hy het sy vriende begin bel om hulle te vra of hulle van enige werk weet. Verskeie maande en baie onderhoude later, het hy vier werksaanbiedinge gehad en werk hy nou vir ‘n maatskappy wat sy talente waardeer. Wanneer boere in Idaho aartappels geoes het, sou hulle hulle volgens grootte sorteer: klein, medium en groot. Tog het ‘n boer wat nie hierdie metode gebruik het nie, meer geld as al die res gemaak. Uiteindelik het ‘n buurman hom gevra: ‘Wat is jou geheim?’ ‘Maklik,’ het die boer geantwoord. ‘Ek laai my wa en vat die slegste pad dorp toe. Gedurende die reis skud die klein aartappels ondertoe, die medium aartappels bly in die middel en die groot aartappels rys na die bokant toe.’ Dieselfde is waar van mense. Op die stamperige pad van die lewe, rys die groot aartappels bo almal uit. Jon Gordon sê: ‘Nieteenstaande die teenspoed wat jy het, moet jou doelwit groter as jou uitdagings wees. In plaas daarvan om op jou probleme te fokus, fokus op jou doelwit. In plaas daarvan om jouself as ‘n slagoffer te sien, sien jouself as ‘n held. Helde en slagoffers word beide platgeslaan, maar helde staan weer op en bewapen met geloof, skep hulle ‘n positiewe toekoms.’

Sielskos: Hoogl 1-4; Luk 23:32-38; Ps 13; Spr 21:22-27

Wees veerkragtig (1)

2020-09-24
2 Korintiërs 4:9 NLV

Soos bome wat in die wind buig, so verkry veerkragtige mense krag uit teenspoed, omdat hulle weet hoe om die volgende vyf dinge te doen: 1) Om geanker te bly. Salomo het gesê: ‘Twee is beter as een… As een mens val, kan sy vriend hom ophelp…’ (Prediker 4:9-10 NLV). Toe Barbara Smith se seun oorlede is, het sy ‘n ondersteuningsgroep begin om ouers in dieselfde situase byeen te bring. ‘Ons het mekaar gered,’ sê sy. 2) Om hulle innerlike monoloog te monitor. Let op hoe jy oor jou situasie praat. Wanneer jy agterkom dat jy negatief raak, probeer om dinge in lig van die Skrif te sien. God se Woord sê: ‘…Die boodskap is hier by jou, op jou lippe en in jou hart’ (Romeine 10:8 NLV), en ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe…’ (Spreuke 18:21 NLV). In plaas daarvan om in vrees en woede rond te sit en te kla oor hoe jy daar gekom het, fokus op dit wat jy wel kan beheer – jou woorde! 3) Om die ligter oomblikke raak te sien. Salomo het gesê: “‘n Vrolike mens is soos goeie medisyne. ‘n Neerslagtige mens tap jou krag” (Spreuke 17:22 NLV). Toe Donna Goldman met veelvuldige sklerose gediagnoseer is, het sy aanhou skoolhou. ‘Ek laat die kinders met my krukke speel – solank hulle dit nie as wapens gebruik nie!’ het sy geskerts. 4) Om terug te gee. God bemoedig ons, ‘…sodat ons ook in staat sal wees om mense in al hulle swaarkry by te staan…’ (2 Korintiërs 1:4 NLV). Renee Weinhouse, wat fase 4 limfoomkanker oorwin het, sê: ‘Niks maak my gelukkiger as om ‘n pasiënt hoop te gee nie.’ 5) Om na hulself te kyk. ‘n Gesonde dieet en gereelde oefening help om areas in die brein wat vir stres ontvanklik is, te herstel.

Sielskos: 2 Kor 11:16-13:14; Luk 23:26-31; Ps 54; Spr 21:18-21

God wil hê dat jy sukses moet behaal (4)

2020-09-23
Josua 1:8 NLV

In die Skrif beteken die woord, ‘sukses,’ eenvoudig dat jy God se wil vir jou lewe ken en doen. Dis so eenvoudig! Vir Josua, het sukses beteken om die Beloofde Land binne te gaan, dit te oorwin, daar te woon en elke dag die seëninge daarvan te geniet. Luister na wat God vir hom gesê het: ‘Wees sterk en baie dapper! Voer al die opdragte uit wat Ek vir my dienaar Moses gegee het. Moenie links of regs daarvan afwyk nie. Jy sal dan suksesvol wees in alles wat jy doen. Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees’ (verse 7-8 NLV). Ware sukses vereis hierdie drie dinge: 1) Om te word wat God wil hê jy moet wees. 2) Om te doen wat God wil hê jy moet doen. 3) Om te hê wat God wil hê jy moet hê. Soos jy die doelwitte bereik wat Hy vir jou lewe gestel het, word jy suksesvol. Soos die bekende skrywer en lektor, Dale Carnegie, een keer opgemerk het: ‘Sukses is om te kry wat jy wil hê. Geluk is om dit wat jy kry, te wil hê.’ In hulle eindelose soeke na prestasie, word sommige mense so gierig en gulsig dat hulle nooit tevrede is nie. Omdat hulle altyd meer wil hê, geniet hulle nie dit wat God reeds vir hulle gegee het nie. Ware sukses is nie ‘n bestemming nie, dis ‘n reis. Dis vreugde wat deur vooruitgang geskep word. Dit is die wete dat jy ‘op skedule’ is wanneer dit by God se taak vir jou lewe kom.

Sielskos: 2 Kor 9:1-11:15; Luk 23:13-25; Ps 52; Spr 21:17

God wil hê dat jy sukses moet behaal (3)

2020-09-22
Psalm 8:7 NLV

Hoe weet jy dat God wil hê dat jy sukses in jou lewe moet behaal? Om drie redes: 1) Omdat Hy jou geskep het. Hy het in Genesis gesê: ‘…Laat Ons die mens maak volgens ons beeld, ‘n afbeelding van Ons…’ (Genesis 1:26 NLV). Omdat ons God se opperste skepping is, het Hy sy gedagtes, sy mag, sy wysheid en alles anders wat jy nodig het om suksesvol te wees, in jou gegiet. Sodra jy hierdie waarheid besef en daarvolgens begin optree, sal jou lewensuitkyk getransformeer word. Jy sal begin dink soos iemand wat geen beperkinge het nie. 2) Omdat jy waarde het. Die aktrise Ethel Waters, wat by Billy Graham se kruistogte gesing het, het gesê: ‘Ek is iemand, want my God maak nie gemors nie!’ Jy is die kroon van God se skepping, die voorwerp van sy aandag en liefde. Die Psalmdigter het geskryf: ‘Kosbaar is u gedagtes vir my, o God! Hoe onmeetlik is die totaal! As ek dit moes tel, sou hulle meer wees as sandkorrels!..’ (Psalm 139:17-18 NLV). 3) Omdat God alles vir jou gemaak het. ‘U het ons in beheer gestel van alles wat u hande gemaak het. U het vir ons mag gegee oor alle dinge.’ Beteken dit dat God sukses in jou skoot sal laat val? Nee: ‘God het hulle geseën deur te sê: ‘Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. Onderwerp die aarde en heers oor die visse van die see, die voëls in die lug en oor al die diere op die aarde’ (Genesis 1:28 NLV). God het vir jou sy outoriteit en kreatiewe vermoë gegee om sukses te behaal in dit waarvoor Hy jou roep. In plaas daarvan om soos ‘n slagoffer te dink, begin dus soos ‘n oorwinnaar dink!

Sielskos: 2 Kor 5-8; Luk 23:1-12; Ps 34; Spr 21:14-16

God wil hê dat jy sukses moet behaal (2)

2020-09-21
3 Johannes 1:2 NLV

Jesus het gesê: ‘Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jou diepste menswees ly skade?’ (Markus 8:36 NLV). Om sy punt nog verder te versterk, het Hy die gelykenis vertel van die ryk man wat gesterf het en hel toe gegaan het, terwyl die arm man op sy drumpel hemel toe gegaan het. Die punt is: niks is belangriker as jou verlossing nie! God het egter ook ‘n plan vir jou lewe en Hy wil hê dat jy sukses moet behaal. Johannes skryf: ‘…ek hou aan bid dat dit in alle opsigte met jou goed mag gaan en dat jy nét so gesond sal wees soos dit geestelik goed met jou gaan.’ Let op die frase: ‘in alle opsigte,’. Dit sluit jou gesondheid, jou emosionele en geestelike welstand, jou familie en verhoudings, jou beroep en finansies in. Daar is nie ‘n area in jou lewe waarin God nie geïnteresseerd is of nie betrokke by sal raak wanneer jy Hom soek, Hom gehoorsaam en Hom eer nie. Hy het in die Ou Testament gesê: ‘Daarom, wees gehoorsaam aan die voorwaardes van hierdie verbond sodat julle voorspoedig kan wees in alles wat julle doen’ (Deuteronomium 29:9 NLV). Jesus het ook in die Nuwe Testament gesê: ‘Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (Matteus 6:33 NLV). Wanneer jou kinders sukses in die lewe behaal, vier jy dit nie saam met hulle nie? As verloste kind van Hom, is jou hemelse Vader ook by jou sukses betrokke en vier Hy dit ook saam met jou. Begin dus vandag bid en glo Hom vir sukses in alle areas van jou lewe.

Sielskos: 2 Kor 1-4; Luk 22:63-71; Ps 39; Spr 21:9-13