Ken en geniet God se wil

2020-11-19
Klaagliedere 3:25 NLV

As jy vandag geestelik sukkel, is hier drie gedagtes wat jou sal help: Eerstens, moet jy besef dat dit nie veronderstel is om maklik te wees om God se wil te doen nie. Satan, jou Vyand, gee niks sonder ‘n geveg op nie en angs is een van sy geheime wapens. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes’ (Galasiërs 6:9 NLV). Mense wat moeilike situasies oorkom is nie noodwendig meer geleerd of meer talentvol as ander mense nie, hulle is net meer volhardend. Hulle druk verby die punt waar ander mense tou opgooi.

Tweedens, moet jy glo dat God se wil vir jou totale welstand is. Jy is die kind van ‘n perfekte God, tree dus so op. Sy verbond met jou is vir ewig, dink dus so. Jou totale welstand is sy begeerte en plesier, leef dus so. Die apostel Johannes het geskryf: ‘Liewe vriend, ek hou aan bid dat dit in alle opsigte met jou goed mag gaan en dat jy nét so gesond sal wees soos dit geestelik goed met jou gaan’ (3 Johannes vers 2 NLV).

Derdens, reik deur geloof uit na dit wat God jou beloof het. Siekte is soos ‘n dief. Dit kan tyd met geliefdes, geld wat vir jou doelwitte aangewend kon word en energie om God se doel vir jou lewe te vervul, by jou steel. Die profeet Jesaja het gesê: ‘Tog was dit ons swakhede wat hy gedra het… Hy is geslaan sodat ons gesond kon word’ (Jesaja 53:4-5 NLV). Staan dus vandag in geloof en eis dit op, want soos die Skrif sê: ‘Die Here is goed vir hulle wat hoop op Hom en vra wat Hy wil hê.’

Sielskos: 2 Kro 5-7; Joh 12:1-11; Ps 76; Spr 27:4-6